Die woord “Advent” is afgelei van ‘n Latynse woord wat “koms” of “aankoms” beteken. Dit is die vier weke wat die Christusfees vooraf gaan wanneer ons die koms van Jesus in herinnering roep. Wanneer ons die verhaal van Jesus se geboorte, wat in die evangelie van Lukas opgeteken is, lees, kry ons ‘n blik op hoe dit was vir die mense wat die koms van die Messias eerstehands beleef het.
Vir 400 jaar nadat die profeet Maleagi in die Ou Testament opgetree het, het God nie met die Joodse volk gespreek deur nuwe profete te stuur nie. Sommige mense het gewonder of God Homself heeltemal onttrek het. Tog het al die Godvresende Jode in Israel gewag op die beloofde Verlosser wat sou kom. Dit was ‘n tyd van groot afwagting. Met die engel se aankondiging dat die Messias, die Gesalfde, oppad is, was daar groot blydskap onder diegene wat die boodskap ontvang het.
Ons sal van hierdie blydskap lees deur mense soos Sagaria, wat met die Heilige Gees vervul was en in lofprysing uitgebars het. Sy lied is opgeteken in Lukas 1:68-79 en die Latynse naam daarvan is “Benedictus.” Ons sal kyk na Simeon se vreugdevolle woorde (die “Nunc Dimittis”) toe hy toegelaat is om baba Jesus te sien, soos beskryf in Lukas 2:29-32. Maria sing ook ‘n pragtige lied genaamd die “Magnificat,” waarin sy God, sy karakter en sy dade in haar eie lewe en deur die geskiedenis heen grootmaak (Lukas 1:46-55). Selfs die engele kon nie hul verwondering bedwing toe hulle die goeie nuus aan die herders verkondig het nie. Hulle vreugdevolle koor, genaamd “Gloria in Excelsis,” is opgeteken in Lukas 2:14.
Terwyl ons gedurende die volgende vier weke ons harte voorberei vir die Christusfees, kom ons bid dat God met ons sal spreek deur sy Woord. Kom ons vra Hom om ons te help om in die kennis van sy heerlikheid te groei, ‘n heerlikheid wat Sagaria, Simeon, Maria, die engele en selfs die herders gesien het in die koms van Jesus Christus. Dit is ‘n glorie wat so helder skyn deur hierdie liedere en ons lei om ons te verheug in hierdie Advent-tyd.