Wanneer Jou Identiteit Jou Verlossing is

Wanneer jou identiteit jou verlossing is

Deur Whitney / 24 Oktober 2019 / Ester

Ek het daardie oggend in die kerk my trane probeer wegsteek.

Ek huil nie gewoonlik nie. Teen die tyd dat ons huwelikseremonie agter die rug was, was my man se oë bloedrooi van al die trane wat hy gestort het… maar ek?

Nie een nie.

Nie omdat ek nie diep geraak was nie. Baie dinge raak my ten diepste. Ek het die gewoonte om meeste van die tyd te glimlag en kalm te bly. Vir sewentien jaar het beide persoonlikhede goed gewerk in ons huwelik.

Maar daardie oggend was anders.

Die waarheid? My elfjarige het ‘n sydelingse blik van my gekry terwyl ons aanbid het en hy was so besorg oor my dat hy, toe ons tuis kom, vir die res van die middag huis skoongemaak en my wasgoed opgevou het. Dit is enorm, mense.

Dit gebeur eenvoudig net nie.

Ek kon dit op ‘n miljoen maniere probeer sê. Pragtige woordprentjies skilder en om die waarheid dans, om te probeer bewys hoe positief en sterk ek is.  Maar vanaand sal dit van geen nut wees nie. Eenvoudig gestel, my hart moes weer na sy regte plek herlei word, en my trane was die resultaat van die Gees se werk in my. Dit was lelik, morsig en mooi, alles tegelyk.

Ek het weer by die voet van die kruis uitgekom.

Ons het gesing.

“Jesus paid it all, all to Him I owe…”

O, hoe nodig was dit vir my hart om te sing.

Ons het woorde gesing wat gefokus het op alles anders as hierdie wêreld. Woorde wat lof gebring het in plaas van vernietiging. Woorde wat die naam van Jesus in plaas van die mens verhef. Woorde wat niks met my te doen gehad het nie en alles met Hom.

“Oh, praise the One who paid my debt and raised this life up from the dead…”

‘n Heel nuwe identiteit. Lewe oor die dood. Soete verlossing eens en vir altyd.

Verlossing waaraan ek – laat ek maar eerlik wees – myself daagliks moet herinner wanneer die wêreld se stormagtige golwe teen my slaan. Hoofopskrifte skreeu internasionale tragedie en nasionale chaos uit, en ons harte skreeu uit van ongeregtighede nog nader aan onsself. En durf ons erken dat, te midde van die golwe wat dag na dag oor ons slaan, dit die meeste van die tyd voel asof verlossing hopeloos buite ons bereik is.

Maar ingeval jy nog nie gehoor het nie, die wêreld  wen nie…

“Your name is higher than the rising sun…”

“Hallelujah, name above all…”

En tog spandeer ons dikwels meer tyd om ‘n aardse identiteit wat net sal vervaag, te verheerlik…

Hoofstuk 7 begin met Ester wat op die gespanne koord tussen twee identiteite loop: die een wat die koning nog altyd geken het, en die een waarvan hy binnekort sou uitvind. Elkeen het voor- en nadele gehad wat in stryd met mekaar was; oomblikke van gemak, sekuriteit en helderheid afhangende van die dag… maar uiteindelik was daar net een identiteit wat ware, blywende vryheid sou bring.

Die tyd het aangebreek vir Ester om met die sak patats vorendag te kom. Dit was tyd dat haar ware identiteit haar bevryding sou word.

Ons weifel ook, nie waar nie? Tussen die wêreld en wie ons is in Christus, en soms is moeilike tye en ‘n herbesoek aan die voet van die kruis nodig om ons te herinner waar ons ware identiteit lê.

Aan die voet van die kruis kry ons onverwagte, skaamtelose genade en net daar kan ons ware identiteit gevind word.

Ek het my oë gesluit en verder gesing.

Nie meer net woorde op ‘n skerm nie, maar lewegewende woorde wat diep in my siel ingesink het. Woorde wat diep ruimtes skoongemaak het; woorde wat hoop en genesing gebring het vir die oorlog wat om en diep binne my gewoed het. Ek het die trane vrylik laat vloei. Nie meer trane van wanhoop nie, maar trane van groot hoop en vryheid omdat ek herinner is aan Wie ek behoort. En luister nou, daardie golwe kan niks aan Hom doen nie.

Die stryd woed voort oral om ons, maar lieflike kind van God…

“It is well…”

Wanneer laas het jy die voet van die kruis besoek? Val vandag op jou knieë neer in sy genade, en laat jou bevryding begin…

“Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” ~ Josua 1:9

Aan sy voete,

 

 

*KOM ONS PRAAT: Is jy bereid om jou stories van hoe jy Jesus ontmoet het in vandag se kommentaardeel te deel? Omdat dit altyd goed is om herinner te word aan – en te juig oor – ons verlossing…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse