Wag, Hoop, Vertrou

Wag, Hoop, Vertrou

Katie Shott

Die Hoofkarakters

Een van die dinge waarna ek werklik uitsien elke Kersseisoen is die jaarlikse Kersprogram van die kinders in die kerk. Daar is natuurlik die hoofkarakters, naamlik Josef, Maria, die baba Jesus, maar as ‘n paar ekstra rolle benodig word dan voeg jy ‘n paar herders, wyse manne, engele, die herbergier, miskien selfs ‘n donkie en ‘n ster by! Dit bring soveel vreugde om hierdie opvoering te sien!

Wat interessant is, is dat ek nog nooit by enige Kersprogram was wat drie ander belangrike karakters in het nie – Jesus se oom Sagaria, sy tannie Elisabet of sy neef, Johannes die Doper!

Toe Lukas sy evangelie geskryf het, het hy, gelei deur die Heilige Gees, dit egter van groot belang gesien om histories die konteks daar te stel van hoe Jesus se geboorte voorafgegaan is. Dit is geskryf om te wys hoe God sy beloftes vervul het en sy plan volvoer het om die weg vir die komende Messias voor te berei.

Wag tydens Beproewings

Lukas begin deur ons te vertel dat hierdie dinge plaasgevind het terwyl Herodus die Grote die Koning van Juda was. Dit is nie ‘n toevallige detail nie. Dit vertel ons baie meer as net eenvoudig wie op daardie stadium op die troon was. God se mense het geleef in donker, euwel dae onder die heerskappy van ‘n berugte, wrede koning. O, hoe het hulle nie die Lig van die Wêreld nodig gehad om in die donkerte van hul nasie in te breek nie.

Dit was 400 jaar sedert God laas deur die profeet Maleagi met sy mense gepraat het. Van daardie tyd af, die tyd tussen die einde van die Ou Testament en die begin van die Nuwe Testament, was daar net stilte

400 jare van stilte is ‘n lang tyd. Dit is ‘n lang tyd om te wag. Om te hoop. Om te vertrou. Om steeds te glo dat God sy beloftes sal nakom, die smagting van hul harte sal vervul en die redding van sy mense teweë sal bring.

Aan die begin van hierdie Adventseisoen is dit dalk ook die plek waar jy jouself bevind.

Jy wag, hoop en vertrou dat God iets teweë sal bring en gebede sal beantwoord. Maar dit blyk asof vertraging, teleurstelling, onsekerheid en ontmoediging al is wat jy ken.

Liewe vriend en vriendin, skep vandag moed. God se Woord herinner ons dat Hy verseker alles uitwerk tot sy eer en die beswil van sy mense, want Hy is die getroue, verbondshoudende God wat die uitroepe van ons harte hoor. Hy sien, Hy weet. Hy is in staat.

Hoop op Antwoorde

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die agtergrond van Sagaria se verhaal voordat ons na sy lofsang kyk. Lukas vertel ons dat Sagaria, ‘n priester, en sy vrou, Elisabet getrou aan die wet van God was, dat hulle God getrou gedien en liefgehad het en al sy gebooie gehoorsaam het. Hulle was oud en hulle was nie in staat om ‘n kind te hê nie. Hulle het beproewings, teleurstelling en hartseer geken, maar hulle het steeds voortgegaan om ‘n lewe toegewy aan die Here te leef.

Ek kan my indink dat een manier waarop hulle daaglikse hoop gevind het, eenvoudig was om hulle name te sê. Sagaria beteken “God onthou” en Elisabet beteken “God is my eed” of “God se belofte.” Selfs alhoewel dit dalk nie op sekere tye eg gevoel het nie, was Sagaria en Elisabet herinner aan God se versekerde karakter. God het hulle nie vergeet nie. Hy is getrou aan al sy beloftes. Hy is in elke enkele besonderheid van ons lewens en Hy is dikwels aan die werk op maniere wat ons onsself nie kan indink nie.

Daar was geen toeval in die feit dat Sagaria gekies is om in die tempel in te gaan om wierook op die altaar te brand nie. Daar was duisende priesters, maar God het bestem dat Sagaria daardie spesifieke dag die een sou wees omdat hy ‘n afspraak met ‘n engel gehad het! Wat ‘n skrikwekkende ervaring, maar wat ‘n ongelooflike belofte wat van God se boodskapper aan hom gespreek is. Sagaria sou nie bang hoef te wees nie. Hy was verseker dat sy gebed gehoor is.

Daar word gesê dat die gebed waarna Gabriel verwys Sagaria se begeerte en smagting was dat God sou kom en redding vir sy volk sou bring deur die koms van die Messias, want Hy sou deur die stilte breek en hul donkerte verlig.

Net God kan die groot beeld sien. In sy getrouheid het Hy Sagaria se gebed deur al die jare gehoor en onthou. Op sy perfekte tyd was Hy op die punt om vir Sagaria en Elisabet te doen wat menslik onmoontlik gelyk het. Hulle sou ‘n seun hê wie se naam Johannes is en hy sou ‘n baie spesiale bediening hê – ‘om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.’ (1:17)

Dit is ons God. Hy hoor ons gebede. Hy onthou ons. Hy is nooit laat nie. Sy tydberekening en sy weë is perfek. Hy hou sy beloftes. Hy ken die einde van die begin af. Ons kan Hom vertrou.

Vertrou vir Voorsiening

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan met Sagaria identifiseer wanneer hy twyfel en Gabriël bevraagteken. Sagaria wou weet hoe hy kan seker wees en hoe God dit alles kon bewerk omdat hy en Elisabet oud is! Ons sondige, onafhanklike harte wil weet hoe, waarom en wanneer. Om in geloof te wandel is moeilik, so ons moet groei in ons diepte van ons geloof. Gelukkig is God so genadig met ons. Maar ons moet God ook op sy woord neem en glo dat Hy sal doen wat Hy sê.

Gabriël sê vir Sagaria dat hy stom sal wees totdat al hierdie dinge plaasvind. In die konteks van ‘n 400 jaar-lange stilte vir God se mense, het Sagaria sy eie persoonlike 9 maande van stilte, terwyl hy alles wat God vir hom vertel het proseseer en wag om te sien wat God sal doen. Ek wonder of Sagaria die woorde van Koning Dawid in Psalm 61:2 onthou en in sy hart laat eggo het: “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil (1953 vertaling).

En net soos God gesê het, het Elisabet in haar hoë ouderdom swanger geword en geboorte gegee aan hulle seun, Johannes. Sagaria kon toe weer praat en sy eerste woorde was ‘n verklaring van lofprysing en seën aan die Almagtige God (1:68).

“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.

Dit is ‘n pragtige beeld van beantwoorde gebede, smagtinge wat werklikheid geword het en beloftes wat vervul is.

Alhoewel hierdie een verhaal is van God se getrouheid wat geopenbaar word, sien ons hierdie eienskap van God reg deur die geskiedenis. God hou aan om sy mense te wys dat Hy toegewy is om die groot verlossingsplan wat Hy voor die begin van tyd in plek gestel het, uit te voer. Sagaria loof God vir alles wat Hy gedoen het en Hy juig oor wat Hy op die punt staan om te doen.

Laat ons ook hierdie adventseisoen lofprys terwyl ons wag op ons getroue God. Kom ons prys Hom vir sy goedertierenheid teenoor ons en vertrou terwyl Hy sy goeie planne vir ons, sy mense, uitvoer.

Wees geseënd,

Katie

 

Week 1 Uitdaging:

Terwyl ons die Adventseisoen binnegaan, watter praktiese stappe kan jy neem om genoeg tyd van stilte te hê vir gebed en Bybelstudie? Baie dikwels is dit een van die besigste tye van die jaar. Dit kan ‘n uitdaging wees om ons prioriteite reg te hou. Vra God vir spesifieke hulp hiermee. Een manier om tyd in God se Woord deur te bring, is deur Maria se loflied in Lukas 1:46-55, ook bekend as die Magnificat, te memoriseer. Begin hierdie week om Lukas 1:46-48 te memoriseer.

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs