Waarom Hoor God Ons Gebede?

Waarom Hoor God Ons Gebede?

Jen Thorn

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.” – Romeine 8:26-27

Ek dink hierdie is tot dusver een van my gunsteling weke oor gebed. Dit is wonderlik om te leer wat gebed is, hoe om te bid, waarvoor gebid moet word, en die verskillende tipes gebed, maar dit is alles sinneloos as God ons nie hoor nie.

Dit het al baie kere in my lewe gevoel asof my gebede nooit deur God gehoor word nie. Ek weet dit is ‘n wanpersepsie van my kant af, maar dit dui ook op ‘n swak hart en ‘n gebrekkige begrip van God. As jy al ooit getwyfel het of God jou gebede hoor of nie, hoop ek hierdie week is vir jou bemoedigend.

Een van die rolle van die Heilige Gees is om ons helper te wees (Johannes 14:26), en ons het dit gewis nodig. Hy por ons gewete aan wanneer ons nie volgens die Woord van God leef nie (Johannes 16:8). Hy vertroos ons in ons pyn (Handelinge 9:31), onderrig ons in ons onkunde (Johannes 14:26), en help ons ook met ons gebedslewe.

As jy in die kerk grootgeword het, het jy seker al die frase “die Gees tree vir ons in” gehoor. Dit klink wonderlik, maar wat beketen dit?

Gebed herinner ons voortdurend dat ons vir alles volkome en diep afhanklik is van God. Ons is vol swakheid en hierdie swakheid kan dikwels in ons gebedslewe waargeneem word. Ons word maklik afgelei, en laat toe dat ons skedules en bekommernisse ons gebedstye oorskadu. Ons raak rusteloos en jaag deur gebed want ons doenlysie roep en, om eerlik te wees, om die wasgoed aan die gang te kry, ‘n bietjie laat te lê, take af te handel, of te stort voordat die baba wakker word, is vir ons belangriker as om tyd te maak om met God te praat of sy Woord te lees.

Soms weet ons nie hoe om ons gevoelens uit te druk nie want ons harte is koud en gevoelloos. Partykeer haak ons eenvoudig net vas. Ons omstandighede maak ons deurmekaar, ons voel moedeloos, of ons is doodmoeg en weet eenvoudig nie wat om te sê nie.

Skep moed! Ons bid nooit alleen nie. Die Heilige Gees tree vir ons in; Hy bid saam met en vir ons elke liewe keer as ons bid.

Maar hoe presies help Hy ons met ons gebede?

1. Die Heilige Gees gee leiding.

Het iemand al ooit in jou gedagtes opgekom en dan het jy die behoefte gevoel om vir hulle te bid? Dit is die Heilige Gees wat jou aanpor. Moet dit nie ignoreer nie. Hy is ons raadgewer wat soms dinge waarvoor ons moet bid, op ons harte lê. Miskien is dit ‘n persoon, miskien is dit ‘n saak, of dalk is dit ‘n aanmoediging om te bekeer. Dit is hoe die Heilige Gees help om ons gebede te rig.

2. Die Gees tree in wanneer ons nie weet wat om te bid nie.

Hoe dikwels het daar al dinge gebeur wat ons laat wonder het wat God besig is om te doen? God se weë is nie ons weë nie, en dit laat ons soms verward voel. Ons ken nie die soewereine wil van God nie, daarom weet ons nie of ons vir genesing of krag, of meer geloof en geduld moet bid nie. Dit is alles goeie dinge om voor te bid, maar ons bevind ons dikwels sonder rigting te midde van ons pyn.

As ons nie meer weet watter kant toe nie, kan ons gerus wees dat die Gees nooit onseker is oor wat ons nodig het nie. Hy weet presies waarvoor om te bid want Hy ken die begeertes van ons hart en die wil van die Vader. En omdat die Gees altyd volgens die wil van God bid, word dit altyd beantwoord. Dit is ongelooflik vir my! Dit behoort ‘n groot aansporing vir ons te wees om aan te hou bid, veral wanneer ons swak of oorweldig voel of wanneer ons verpletter is.

God het gesê dat Hy ons nooit sal verlaat nie—dit sluit ons gebedstye in. Die Gees sluit daar in ons swakheid by ons aan, help ons om te bid en tree namens ons vir ons in.

Nie een van ons gebede is verniet nie! God die Vader hoor hulle almal want Hy gee om vir diegene wat deur die kosbare bloed van Jesus gekoop en vir ewig verseël is met Heilige Gees wat vir ons intree elke keer as ons bid. Geen wonder dat gebed so kragtig is nie! Bid met vrymoedigheid oor enigiets en alles, en onthou dat God in jou werk en al jou gebede hoor.

Kyk na Jesus,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse