Vul met Gebed

Vul met Gebed

Jenna Rea

Die begeerte vir lof van mense af, is moeilik om prys te gee. Sosiale media gryp voortdurend na ons harte om elke deel van ons lewens daar te plaas, die goeie, die slegte en die lelike as ons as ‘geloofwaardig’ beskou wil word. Kultuur prys diegene wat produktiwiteit prioritiseer en dinge doen vir almal om te sien.

In Matteus 6 skets Jesus ‘n ander prentjie terwyl Hy sy dissipels die weg van die Koninkryk leer. Hy leer hulle hoe om te bid, te vas, aan behoeftiges te gee, en oor geld en materiële dinge te dink. Jesus roep die mense van sy Koninkryk op om nie soos die Fariseërs en skynheiliges op te tree om deur mense geprys te word en angstig te leef vir die dinge van hierdie tydelike wêreld nie. Mense van die Koninkryk leef anders en kyk na hul Vader en die ewigheid as hul beloning.

In vers ses leer Jesus sy dissipels spesifiek hoe om te bid. Hoe is hulle gebedslewe veronderstel om anders te lyk as die skynheiliges wat in die sinagoges staan? Jesus se dissipels moet in hul kamer met die deur toe tot die Here bid en Hom in die geheim soek. Nou, ek glo nie Jesus sê Hy is daarteen om hardop saam met ander mense te bid nie. Net soos enige ander daad van gehoorsaamheid, gee Hy bloot om oor die motivering daaragter. Die harts-motivering van gebed moet wees om die Here alleen te soek.

Christus nooi ons in ‘n intieme verhouding met ons Vader wanneer ons gehoorsaam is om op hierdie manier te bid. Hierdie tipe gehoorsaamheid is die werk van die verborge hart waarvoor Dawid bid in Psalm 51:8 wanneer hy sê: “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.” Wat ‘n pragtige realiteit dat die Here ons wysheid gee terwyl ons Hom alleen soek, nie bekommerd oor die gedagtes of lof van ander wat na ons kyk nie.

Toe ek grootgeword het, het ek alles gedoen wat ek kon om my sonde weg te steek uit ‘n begeerte na mense se lof. Hoe sou mense glo ek is ‘n goeie Christenmeisie as hulle weet ek is nie perfek nie? Om verse soos Matteus 6:6 te ken, dat ons God in die geheim sien en beloon, was vir my skrikwekkend. Ek was die skynheilige waarvan Jesus in Matteus 6:1-5 gepraat het, wat die dinge van God gedoen het sodat ek deur mense geprys en aanvaar kon word. Alhoewel ek wel liefgehad het en in God geglo het, wou ek seker maak dat ander dit weet.

Jy mag dalk dink, “Wat ‘n uitputtende manier om te lewe,” en jy is reg. Jy sien, my probleem was dat ek ‘n baie vlak begrip gehad het van hoe goed die evangelie vir sondaars soos ek is. Ek het dit gemis dat die Here deur die hele Skrif besorg is oor ‘n geregtigheid wat van binne begin.

Lukas 5:15-16 wys vir ons ‘n prentjie van Christus wat sy eie opdrag om in die geheim tot die Vader te bid, uitleef, maar dit doen meer as dit. Hierdie prentjie van Christus bied rus en hoop vir die voormalige Fariseër en skynheilige soos ek. Dit herinner my aan die genoegsaamheid van Christus se lewe. Elke keer as ek daarin misluk om te lewe as ‘n dissipel van sy Koninkryk deur bevordering, goedkeuring, verering of bevrediging van die wêreld te soek, word ek daaraan herinner dat Christus dit nie gedoen het nie! Hy het voorsiening gemaak vir my sonde, nie net in sy dood nie, maar ook in sy volmaakte lewe.

Wat van die beloning wat die Vader gee in Matteus 6:6? Die huigelaars wat hul trompette in die strate blaas, het hul gewenste beloning ontvang, die lof van ander (Matt 6:2). Die Vader se beloning is baie mooier, want dit is Hyself en sy koninkryk! Soos ons wegdraai van die versoeking om die lof van ander te soek, is ons vry om meer van Hom in die stilte van ons hart te soek.

Neem ‘n bietjie tyd om alleen by jou Vader te wees en te bid. Bely aan Hom areas van jou lewe wat gemotiveer word deur ‘n begeerte vir lof van ander. Vra Hom om meer van Homself aan jou te openbaar en jou aan die evangelie te herinner, sodat jy groter intimiteit en aanbidding met Hom kan hê.

Week 2 Uitdaging:

Vas is bedoel om ons lewens leeg te maak van afleidings, maar om effektief te wees moet ons hierdie ruimte vul met die dinge van God. Neem hierdie week tyd om doebewus die ruimte wat jy geskep het te vul met gebed, die Skrif, om wysheid te soek, om gevul te word deur die Heilige Gees en om God te vra vir vrymoedigheid.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Jenna

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse