Vra Vir Die Onmoontlike

Vra Vir Die Onmoontlike

Deur Kelli Trontell

“Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is. Toe het hulle die Here daar aanbid.” – 1 Samuel 1:27-28

Ek hou baie van Hanna.

Haar vasberadenheid om te wag en om eerbaar te bly, selfs te midde van teleurstelling, maar nog meer, te midde van bespotting, is tot vandag toe vir my so inspirerend. Hanna het diepe persoonlike pyn geken. Dit was nie net vir haar op daardie tydstip onmoontlik om swanger te raak nie, maar haar man se tweede vrou, Peninna, het baie seuns en dogters gebaar. Asof dit nie genoeg sout in die wonde was nie, was Peninna gemeen. Sy was ‘n gemene vrou. Ja, daar was gemene vroue in die Bybel.

“Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het.” – 1 Samuel 1:6

As dit nie ‘n gemene vrou is nie, dan weet ek nie wat is nie.

Vir my is een van Hanna se vele bewonderingswaardige karaktereienskappe dat, ten spyte van die herhaalde bespotting, teistering en uittarting van Peninna, het sy nie aan haar vlees toegegee nie en het sy nie in woede gereageer nie. Inteendeel, sy het haar oë na die Here opgehef in innige gebed. “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.” (1 Samuel 1:10)

Wat belangrik is om raak te sien is dat Hanna se emosionele toestand nie oorgesien is nie. Dit is erken en uitgelig. Sy was hartseer en het gehuil terwyl sy gebid het. Ons hoef nie alles in orde te hê of ons emosies en gevoelens te onderdruk voordat ons voor ons Vader kom kniel nie. Hanna het verstaan dat die enigste Een wat haar gebroke hart kon hanteer en wat die verligting wat sy so desperaat begeer het kon voorsien, God was.

Die Here het Hanna in haar nood gehoor en haar met Samuel, haar eersgebore seun geseën. Sy het gestand gedoen aan haar woord dat sy hom sal opgee aan diens van die Here. Wat ‘n moeilike opoffering moes dit nie gewees het nie, maar in haar opoffering het die Here dit vir sy glorie gebruik, soos wat Hy altyd doen, selfs vandag nog. Hanna het die Here alles gegee wat vir haar saakgemaak het.

Dit het my geneem om deur ‘n egskeiding te gaan voordat ek alles ten volle aan die Here oorgegee het. Ek het gedink dat ek in volkome oorgawe geleef het, maar ek het vinnig agtergekom dat daar plekke in my lewe was wat ek steeds met ‘n stywe greep vasgehou het en gedink het dat ek dit op my eie kan hanteer. My kinders. My finansies. My toekoms. My vrese. My teleurstellings. Selfs in die seisoen waar ek gevoel het dat ek geen keuse in die saak gehad het nie, het ek wel ‘n keuse gehad. Dit was die keuse om verheug te wees, selfs in die pyn en lyding.

Hanna het gebid vir die onmoontlike, en ons kan ook.

Die Here werk altyd in ons seisoene van wag.

Ek en my kinders ervaar die Here se getrouheid in ons seisoen van wag. Vir meer as ‘n jaar al bid ons elke nag en dank die Here vir die dak oor ons koppe (selfs alhoewel die huis in die mark was) en ons het ons geloof en vertroue dat Hy ‘n goeie en perfekte plan vir ons het, hardop uitgespreek, selfs terwyl ons gewag het.

Ons is nie slagoffers van egskeiding nie, maar ontvangers van God se pragtige verlossing. Hy het altyd ‘n plan.

Toe die huis verkoop is, het die huis wat ek in my prysklas gevind het, nie net daardie selfde dag op die mark gekom nie, maar dit is net klaar gebou. Terwyl ons gewag het en gebid het en nie toegegee het aan vrees, of bitter geword het oor ons omstandighede nie. was God besig om vir ons ‘n huis te bou! Ons huis sal vir altyd gesien word as die huis wat God gebou het.

Onderwyl God die spottery en gemeenheid van Peninna teenoor Hanna raakgesien het, het Hy Hanna se gebrokenheid raakgesien en haar geseën. Ons God doen ook dieselfde vir ons. Miskien nie op presies dieselfde wyse nie, maar Hy werk altyd in ons omstandighede, ongeag van wat ons kan sien.  

My gebed vir jou vandag mag onmoontlik voel, maar dit is dat jou hart teer sal bly, selfs in die beproewing. Dat die karakter en pragtige hart van Hanna jou sal bemoedig om vas te bly in jou getrouheid aan die Here, wat alles sien, alles hoor en wie die Een is wat waarlik ons gevegte vir ons veg. Laat Hom toe om met die gemene mense, diegene wat oordeel of verkeerdelik beskuldig, te handel. Mag jy dapper en nederig ‘n lewe leef wat eer en wat seënbaar is.

Week 3 Uitdaging

Wie in jou lewe is ‘n kragtige gebedsvegter? Neem hierdie week die tyd om haar aan te moedig en haar te laat weet hoe haar gebede jou beїnvloed het.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseervers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse