Volkome Vertroue

Volkome Vertroue

Eerlikwaar, die vertelling in Genesis breek my hart. Ek sien ‘n volk vir wie God so lief is; ek sien Rebekka vir wie God reeds gesê het wat haar seuns sou word; ek sien hoe Isak een seun voortrek; ek sien hoe Jakob met die bedrog saamspeel. My hart breek omdat hulle besluit het om die Een wat die belofte gegee het, die enigste Een wat dit kan laat gebeur, opsy te skuif en te kies om hul eie gang te gaan.

Pyn, woede, bitterheid, verraad en verwydering van geliefdes was die gevolg. Elke keer wat ons God vooruit probeer loop, maak ons die reis lank en pynlik. Isak en Rebekka het hul seuns verloor deur woede en wraak, omdat Rebekka God wou aanhelp.     

Geliefdes, daar is geen onregverdigheid in God nie! Jy kan daarop reken. As Hy iets gesê het, sal Hy dit doen! Hy sál dit doen!

Daar is absoluut niks wat God nie kan doen nie, maak nie saak wat nie!

Ek en jy kan Hom nie dwing om iets te doen of sy genade en liefde regverdig nie. Hy het ons van voor die grondlegging van die aarde af liefgehad. Hy het nog voor ons geboorte al ‘n plan vir ons gereed gehad. Sy genade berus nie op wie jy is of wat jy gedoen het nie, ook nie op die kleur van jou vel of hare nie. Jou nasionaliteit, stam, ras of land het geen invloed op sy ewigdurende barmhartigheid en liefde nie.

Wat Hy van jou vra, is geloof!

Hy vra ‘n geloof wat sê, “Ek vertrou God om alles wat Hy van my gesê het, waar te maak. Ek vertrou God om barmhartigheid aan my te betoon en sy Woord te vervul.” Sê dit saam met my, Ek vertrou God! Kom ons hou op om in te meng. Kom ons laat dit aan God oor om te doen wat Hy wil op sy tyd. Niemand weet wat môre inhou nie, maar God ken die afloop van die begin af en die begin van die einde af. Hy sien die geheelbeeld.

“Dit hang dus nie af van ‘n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is.”—Romeine 9:16

Weier om satan se leuen te glo. God haat jou nie. Hy het jou lief met ‘n ewigdurende liefde. Sy planne vir jou verskil van sy planne vir my. Dit sal op verskillende tye en seisoene manifesteer. As die tyd daar is, sal Hy self sorg dat dit gebeur. Jakob het een seun voorgetrek, Rebekka die ander een en ons sien wat die uiteinde daarvan was. God trek niemand voor nie. Hy het ons elkeen uniek lief en het ‘n lieflike plan vir ons. Ons kan dit nie verdien of daarvoor werk nie, dit berus uitsluitlik op sy genade.

Kan jy kies om Hom vandag te vertrou? Ek kies om Hom vandag en altyd geheel en al te vertrou.  

Selfs in ons mislukkings bly God getrou. Hy het ‘n ommeswaai gebring in die verhaal wat ons vandag lees, en Hy kan vir jou ook ‘n ommeswaai bring.

Vader, ek is jammer vir die kere wat ek kies om dinge op my manier te doen en U vooruit te hardloop. Vergewe my asseblief. Ek neem vandag ‘n standpunt in om U te vertrou. Niks meer inmenging nie. Ek kies om dit aan U oor te laat om te doen wat U wil op u tyd en teen u tempo. Ek kies om geloof te hê. God, help my daarmee, in Jesus se naam. Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse