Volgehoue Getrouheid
Emily Hope
Marco! Polo! As jy al ooit die kinderspeletjie van ‘Marco Polo’ gespeel het, ken jy die opgewondenheid of afwagting om te probeer om nie gevang te word terwyl jy “Polo” skree nie. Vir die persoon wat “dit” is, wat Marco is, kan dit ‘n vermoeiende taak wees. Jy moet staatmaak op jou sintuie, afgesien van sig, om die mense rondom jou te vind. Ek weet nie van jou nie, maar daar was al seisoene in my lewe waar dit voel asof ek ‘n nimmereindigende speletjie van ‘Marco Polo’ met God speel. Ek roep oor en oor, maar dit lyk nie of Hy antwoord nie.
Dit is ook wat die psalmis gevoel het toe hy geskryf het “My God, my God, ek roep bedags en U antwoord nie” (Psalm 22:2). In ons diepste oomblikke van angs, wanhoop en seer, is die een ding wat ons dikwels wil hê om van God te hoor. Waarom is dit dat hierdie oomblikke dikwels soos van die stilste kan voel? Gee God om? Luister Hy? Die antwoord is ‘n besliste ja! God hoor al ons gebede. Nie net dit nie, Hy gee om vir ons en vir ons gebede. Hy is lief vir sy kinders en verlang daarna om van hulle te hoor. Hy is met ons deur ons moeilikste dae.
Ek kan my indink dat dit is wat Jesus gevoel het toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Hy wou van sy Hemelse Vader hoor in sy diepste oomblik van angs.
Soveel as wat ons dalk op ‘n sekere manier van God wil hoor in sulke oomblikke, die waarheid is dat God nie verplig is om ons te antwoord soos ons dikteer nie. Maar, Hy antwoord. Dit is dalk net nie soos ons wil of verwag nie. Hoe Hy ook al mag antwoord, dit is presies wat ons nodig het.
Dit is in oomblikke soos hierdie wanneer ons op ‘n spesifieke antwoord hoop en wag dat ons die versoeking om beheer te neem, moet beveg.
Later in hierdie psalm sien ons hoe die psalmis, Dawid, beweeg van ‘n beskuldiging van God na ‘n verklaring van God se karakter. Hy erken dat God die bron van sy krag is, en daarom kan hy God om hulp vra (v.20).
Dikwels, wanneer ek sukkel, sukkel ek om my fokus weg van myself na God te verskuif. Ek moet my kop en hart aktief instel met die waarheid van die Skrif om myself te herinner dat ek nie in beheer is nie en nie hoef te wees nie. Ek het ‘n Verlosser wat voor my uitgaan en my vertroosting gee in die moeilikste oomblikke.
Van daar af kan ek met reg sien wie God is en Hom deur elke oomblik loof. Ek moet egter ‘n waarskuwing rig dat dit ‘n proses is om myself te herinner aan wie God is.
Ek sou graag vir jou wou sê dat ek die waarheid van die Skrif oor myself kan spreek, en alles is perfek. Dit sou egter nie waar wees nie. In plaas daarvan moet ek myself oor en oor herinner. Die goeie nuus is dat God se genade voldoende is. Op die dae waar ek dit moeilik vind om aan die waarheid van die evangelie vas te hou, is Christus se liefde by my wat my bestendig hou, en die Heilige Gees herinner my aan die waarheid.
Mag ons in hierdie Lydenstyd tyd maak om stil te staan en te bid, om ons seerkry, frustrasies, angs en versugtinge voor ons Hemelse Vader uit te stort. Terwyl ons dit doen, mag ons dit ook kombineer met ‘n erkenning van God se volgehoue getrouheid. Mag die waarheid van God se karakter ons die krag gee om Hom deur elke dag te vertrou.