Verheug en Vreugdevol

Verheug en Vreugdevol

Kelli Trontel

“Op daardie dag het hulle vol vreugde ‘n groot hoeveelheid offers geslag, want God het vir hulle ‘n rede tot groot vreugde gegee. Ook die vroue en kinders was verheug, en die vreugde in Jerusalem kon van ver af gehoor word.” – Nehemia 12:43 (AFR20)

In Christus is ons nie net ingegraveer as dogters van die Koning nie, maar ons het ook vreugde geërf wat enige en alle omstandighede te bowe gaan. Nehemia 8:10 herinner ons dat die vreugde van die Here ons krag is.

Die afgelope tien jaar was smart en verlies my gereelde metgesel, maar ek kan met oortuiging sê dat my lewe deur vreugde gekenmerk word. ‘n Vreugde wat vir gewone mense nie sin maak nie. ‘n Vreugde waarvan die egtheid of nie daarvan deur ander bevraagteken word. Selfs die vyand het my probeer oortuig dat sulke vreugde ‘n eienskap is van ‘n “halfvol glas”-persoonlikheid teenoor ‘n ware en blywende vreugde wat deur God aan my gegee is.

Op een of ander stadium van ons lewens gaan ons seisoene van swaarkry, teleurstelling, verraad en verlies beleef. Pyn is onafwendbaar. Die Bybel sê vir ons dat dit reën op slegte en goeie mense (lees Matteus 5:45). Ons kan dalk nie altyd kies wat ons verloor nie, maar ons kan wel besluit hoe ons gaan reageer wanneer so dag kom.

Regdeur die boek Nehemia is daar baie pyn en swaarkry, maar soos ons nader aan die einde daarvan kom, spesifiek Nehemia 12:43, kom die woord vreugde verskeie kere voor. Dankie, Here! Hierdie vers is so ‘n bemoediging en herinner my om te bid vir diegene in ons lewens wat swaarkry.

Wanneer jy deur pyn gaan, het jy die aandag van diegene om jou. My predikant het nie net daaroor gepreek nie, maar self beleef dat pyn “‘n mikrofoon” is. Dit is waar, mense is geneig om stil te raak rondom mense met seer. Baie mense weet nie eers wat om te sê nie en die stilte kan soms oorverdowend raak. Op sulke tye kan ons die Here vra vir vreugde. In plaas daarvan om ons probleme weg te wens, vra Hom om jou skouers sterk te maak om Sy soewereine plan vir jou lewe uit te voer. Daar is geen omstandighede in ons lewens waarvan Hy nie weet nie.  

Ek glo dat aanbidding ons wapen is en dat dankbaarheid net so ‘n belangrike wapen is om naby ons harte te hou.

As jy jou daarop toespits om teleurstelling met vreugde en dankbaarheid te hanteer, sal dit jou lewe verander. Jou omstandighede kan dalk verander of nie, maar jou hart en perspektief gaan beslis.

Terwyl ek deur my egskeiding gegaan het, het ek in my huwelikshuis gebly en kon nie met my lewe aangaan of uittrek voordat die huis verkoop is nie. Ek kon as gevolg van gebrekkige fondse geeneen van die veranderinge maak wat ek so bitter graag in daardie seisoen wou maak nie. Min het ek geweet dat ek nog ‘n hele jaar nadat die egskeiding afgehandel was, in daardie huis sou moes aanbly. Dit het soos ‘n leeftyd gevoel. Om in die huis te bly waar ons vantevore ‘n gesin was, was moeilik. Ons het nog aan dieselfde tafel geëet en ek het nog in dieselfde bed geslaap – maar die lewe het drasties verskil. Ek kon nie my omstandighede beheer nie, maar ek kon verantwoordelikheid neem vir my perspektief en die ingesteldheid van my hart.

Elke aand het my kinders my hoor bid: “Here, dankie vir die dak oor ons kop. Ek weet U het iets vir ons en ons sien baie uit daarna. Dankie dat U vir ons sorg.” My kinders het later soortgelyke gebede hardop gebid en ons het dit elke aand van die jaar saam gedoen.

Kenmerkend van die manier waarop God werk, het ek uit die bloute ‘n e-pos van my eiendomsagent ontvang dat daar ‘n aanbod vir die volle verkoopprys op die huis gemaak is. Ek het dadelik aanlyn gaan kyk. Die huis waarin ons vandag bly, was die eerste een wat daardie dag in my soektog opgekom het. Dit was pas gelys nadat dit in die voorafgaande nege maande gebou is. 

Terwyl ons gewag het, was God besig om te bou.

Nodeloos om te sê, ons het gejubel!!!

En ons jubel nog steeds!

Ons aanbidding is hard en ons verhaal al oor en oor vertel – en dit is ‘n eer om dit vandag met jou te deel.

My seun, wat toe sewe jaar oud was, het met dié sêding vorendag gekom en ek gebruik dit as ‘n hutsteken aanlyn: #GodHetVirOns’nHuisGebou.

Ek wil hê ons verhaal – die verhaal van God se getrouheid en goedheid – moet gehoor word.

Ons hoef nie te wag totdat die lewe goed is om vreugdevol te wees nie.

Bid vir vreugde. En wees vreugdevol sodat almal kan hoor.

Kelli

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs