Verheerlik God  

Verheerlik God  

Julie McIlhatton

Dit beskryf nie ons huis nie! Ons het egter onlangs meer orde in ons huis probeer skep. Dit het meegebring dat meubels rondgeskuif moes word om by die funksie van vertrekke te pas, meubels met ekstra pakplek gebou moes word en dat alles deurmekaar was. Ironies genoeg, het dit nog minder georden gevoel! Ek dink daar is ‘n stadium in elke selfdoen- of bouprojek waar ’n mens jouself afvra “Wat het my besiel om so iets aan te pak?” Jy weet of hoop maar dat al jou harde werk op die ou end die moeite werd gaan wees.

In die Boek Nehemia het God se volk nie net probleme met hulle bouprojek ondervind nie, hulle moes ook teëstand van die volke wat om hulle gewoon het, die hoof bied. Hoe hoër die mure van Jerusalem geword het, hoe groter het die teëstand geraak. Hulle vyande het saamgespan en alles in hulle vermoë gedoen om die werk tot stilstand te dwing, selfs gedreig om God se volk te vermoor om hulle te stop (Nehemia 4:11). God het egter hul vyand se planne verydel sodat sy mense sy opdrag om die mure te herbou, kon voortsit.

Alhoewel die volk deur God se ingryping bemoedig is, was hulle ook verstandig oor hoe om met die bouwerk voort te gaan. Een helfte van die mense het die mure herbou terwyl die ander helfte wag gestaan het. Selfs wanneer hulle gaan water drink het, het hulle ‘n swaard saamgevat. Hulle was gefokus op hulle Godgegewe opdrag, en hulle was ook oorgehaal om hulself en hul werk te verdedig.

Ons, as Christene, is ook bouers, nie van die mure van Jerusalem nie, maar bouers van God se koninkryk. In 1 Korintiërs 3:9-11 skryf Paulus: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.”

Ons moet probeer om God te verheerlik en waar ons is, deur Hom gebruik te word om sy koninkryk te bou. Ons het egter ‘n gevaarlike vyand wat op enige moontlike manier ons bouwerk tot stilstand probeer dwing. C. S. Lewis skryf in The Screwtape Letters, “Daar is twee ewe groot en teenoorgestelde foute wat ons mensdom aangaande die duiwels kan begaan. Een daarvan is om hul bestaan te ontken. Die ander is om te glo, en ‘n oormatige en ongesonde belangstelling in hulle te hê.”

Die duiwel is ‘n werklike vyand, veral vir diegene wat God se koninkryk bou. Maar sy mag is beperk, want “Aan Hom (Christus) behoort die krag tot in ewigheid! Amen” (1 Petrus 5:11). Dit is belangrik dat ons wysheid aan die dag lê oor hoe ons kyk na die duiwel en sy leuens, bedrog en maniere om ons te ontmoedig in sy poging om af te breek en te vernietig.

Was jy al ooit betrokke by ‘n bediening wat ‘n impak maak en dan gebeur daar iets wat dit ontwrig? Of jy was dalk besig om lekker met iemand oor God te praat en dan gebeur daar iets wat skielik ‘n einde maak aan die gesprek?

Ons elkeen ervaar teëstand of gaan teëstand teëkom wanneer ons die Goeie Nuus omtrent Jesus en die opbou van ons broers en suster in die Here verkondig. Daarom moet ons ook verstandig wees oor hoe ons bou. Ons moet gereed wees om die duiwel te weerstaan, en verwag om aangeval te word. Om ingelig te wees oor watter teëstand ander ondervind het, kan ons ook help om sterk te bly in ons geloof in God. Ons weet dat God aan die werk is as gevolg van die teëstand.

In 1 Petrus 5 ontvang ons ‘n wonderlike belofte van God. Nadat ons ons deel gedoen en ‘n bietjie gely het tydens die bouproses, sal (God) ons “self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak”. Hoe wonderlik. Aan die einde van God se koninkryksbouwerk sal daar iets veel mooier wees as wat enigeen van ons ons eers kan indink—ons sal sy ewige heerlikheid ingaan!

Ons leer uit 1 Petrus 5:10 dat lyding nie vir ewig duur nie. Dit is goeie nuus wat groot hoop bring. Waardeur jy ook al gaan, gaan nie vir altyd aanhou nie. Al is dit nooit lekker nie, en al voel dit asof die lyding die tyd nog stadiger laat omgaan, dit sal verbygaan.

Waartoe roep God jou om hierdie week te doen in die bou van sy koninkryk daar waar jy is? Lê God iemand op jou hart met wie jy moet praat, miskien tuis, by die skoolhekke, in ‘n sportspan, of by die werk? Of dalk word jy aangemoedig om voort te gaan met die bediening waartoe Hy jou geroep het by die kerk? Bid jy vir die beskerming van die koninkryksbouwerk waarmee jy en andere besig is? Word jy geroep om jou broers en susters te vra om te bid vir die probleme waarmee jy gekonfronteer word en ook om hulle voor te berei vir die probleme wat hulle gaan teëkom?

As bouers in God se ewige koninkryk ervaar ons almal teëstand. Is die eindresultaat die moeite werd? Ongetwyfeld.

Julie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs