Verander Weeklag in ‘n Dans van Vreugde

Verander Weeklag in ‘n Dans van Vreugde

Grace Ann Hopkins

2021 was die moeilikste jaar van my lewe. Dit was ‘n tyd toe ek verlies op baie maniere ervaar het en eensaamheid soos ‘n steekpyn gevoel het. Die sinsnede wat ek die meeste in al my joernale geskryf het, was: Ek kan vir niemand sê nie. Ek is alleen. Niemand het van my seer geweet nie, want ek was eerlikwaar bang. Ek het ‘n leiersposisie beklee en het gedink ek het geen ander keuse nie as om sterk te wees en aan te hou. Ek het myself gedwing om uit die bed op te staan en normaal op te tree, maar kon dié vertoon ook maar net ‘n ruk volhou.  

Oplaas het ek my afgesonder en heeldag alleen gebly as ek kon. Die aantal bose gedagtes wat ek toegelaat het om in my kop te sweer, was te veel om op te noem. Dit het gevoel asof ek my identiteit, my gevoel van eiewaarde, my hoop verloor het; my lewe het doelloos gevoel.  

Dink aan ‘n tyd toe dit vir jou gevoel het asof jy in ‘n donker put sonder uitkomkans was—‘n tyd toe jy vasgekeer, desperaat en alleen gevoel het. Miskien voel jy nou so of het jy iewers in die verlede so gevoel, maar ek wil jou aanmoedig om eerlik te wees. Ek moes uit my gemaksone tree om hierdie woorde te skryf, maar ek het besef die vyand wil ons in oneerlikheid vasgevang hou, wat ons net nog meer eensaam en afgesny laat voel. Afsondering is die vyand se doelwit, maar God se volmaakte doel vir jou is verbondenheid en intimiteit en ware, onvoorwaardelike liefde.

Ek is seker jy het baie in hierdie studie oor weeklag geleer. Ek is baie lief vir Psalm 30 omdat dit voel asof Dawid alles so mooi saamvat. In verse 2-4 onthou hy die waarheid oor wie God is en wie Hy vir hom was: sy Opheffer en Geneser en Redder. In vers 3 spesifiek, onthul Dawid dat hy geweeklaag en tot God uitgeroep het toe hy hulp desperaat nodig gehad het. In verse 9-11 sê Dawid hoe hy hom na God gewend en Hom eerder as homself vertrou het. In vers 12 beskryf Dawid God se reaksie teenoor hom, toe God Dawid se droefheid in ‘n dans van vreugde verander het, Dawid se rouklere uitgetrek en hom met blydskap geklee het. Ten slotte beeld vers 13 Dawid se reaksie uit: vir altyd sal hy sy Verlosser, God, dank.

Hierdie gedeelte bevestig vir my dat die jaar van my intense worsteling nie vermors was nie. Ek hoop dat jy bemoedig sal word deur baie dinge wat ek geleer het. Eerstens wens God vir niemand van ons pyn toe nie, maar pyn is die gevolg van ons bestaan in ‘n wêreld wat deur sonde verdorwe is. Pyn het nie die oorhand oor God se karakter nie; God se karakter het die oorhand oor pyn. Hoewel God nie wil hê jy moet swaarkry nie, sal Hy dit altyd ten goede aanwend. Wat die vyand wou gebruik om jou te benadeel en te vernietig, kan God ten goede gebruik om jou te laat groei, sy liefde vir jou te openbaar, en jou na dieper intimiteit met Hom te lei.

Tweedens laat God ons nooit alleen nie. Hy treur in moeilike tye saam met ons, omdat sy karakter volmaakte medelye het (Hebreërs 4:15). Hy is naby die gebrokenes van hart (Psalm 34:18). Sy oë is altyd op ons, en Hy ken ons situasies intiem.

Derdens kan ons slegs wanneer ons eerlik is, waarlik lofprys. Hoe meer ek besef dat ek ‘n punt bereik het waar ek ‘n Verlosser desperaat nodig het, hoe harder word my lofprysing. As ek eerlik is oor my swaarkry, besef ek die omvang van God se genade en liefde, want Hy het Jesus gestuur om vir my te wys hoeveel hy vir my omgee, aan my dink, en aktief namens my veg. Verstaan jy? Swaarkry kan óf deur die vyand gebruik word as jou ondergang óf deur jou Vader, God, om—deur die kruis en Christus se kosbare bloed—jou oorwinning te verklaar oor ‘n wêreld wat deur sonde verdorwe is.

Ek daag jou uit om met jouself eerlik te wees oor waar jy staan. Wat is die toestand van jou hart, verstand en siel? Ek daag jou uit om jou hart voor God uit te stort, want Hy is jou toevlug en wil graag jou gebroke hart vashou (Psalm 51:17; 62:8). Laastens daag ek jou uit om nog ‘n geloofsprong te waag en mense wat jy vertrou by jou situasie te betrek. Ek bestraf die leuens van die vyand dat eensaamheid, angs, depressie en duisternis jou enigste opsies en jou lot is. Jy is gemaak om in verhoudings te leef en liefgehê te word net soos jy is. Die liggaam van Christus is ‘n gawe om juis dít vir jou te wys.

Jy is nie ‘n las nie, my vriendin, maar ‘n seën om vir ander te wys hulle is nie alleen nie. Ons kan almal saam gebroke wees.

Die laaste ding wat ek geleer het, is dat ons kan worstel en terselfdertyd besig wees om te genees. Daar is nie iets soos volmaaktheid nie, en daar is nie ‘n tydlyn vir genesing nie. God geniet dit om elke tree saam met jou te stap en so lank as wat dit nodig mag wees, saam met jou in die loopgrawe te wees, want sy liefde is geduldig en lankmoedig (1 Korintiërs 13:4). Dit is sy karakter en dit sal nie na gelang van jou omstandighede verander nie.

Laastens wil ek jou wys waarom jy kan lofprys. Openbaring 21:1-4 sê:

“Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.’”

Hierdie aarde is nie al wat daar is nie. Jesus gaan vir jou terugkom, om jou na ‘n beter plek te neem (Johannes 14:1-3). Maar hou moed, want terwyl jy nog op hierdie aarde is, sal God self jou Helper, Geneser en Redder wees—net soos Hy vir Dawid was. God sal nie toelaat dat jou swaarkry tevergeefs is nie maar sal dit gebruik om jou na Jesus se beeld te omvorm (Romeine 8:29). Hy sal ook jou getuienis gebruik om ander van sy groot mag en liefde te oortuig (Genesis 50:20). Kyk en beleef hoe Hy jou weeklag en pyn in ‘n dans van vreugde gaan verander. Hy sal dit verseker nie vermors nie.

Na ‘n lang ruk, nadat ek uiteindelik hulp gesoek het en mense in my situasie betrek het, en bowenal, ontmoetings met my Geneser, Jesus, is ek bevry van baie dinge wat my vasgevang gehou het. Ek worstel nog soms maar dit is in orde. Ek is ‘n mens en God weet dit (Psalm 103:14). Ek het op geen ander tydstip groter intimiteit met God ervaar as in my swaarkry nie. Ek het beleef hoe God onvermoeid my uitroepe koester en vashou. Ek het beleef hoe Hy toelaat dat my worsteling ‘n brug bou vir pragtige verhoudings met ander. Ek het beleef hoe Hy my worstelinge gebruik om my hart te reinig en my meer soos Hy te maak. Deur hierdie reis het God my dele van sy karakter gewys wat ek andersins nooit sou gesien het nie: Hy is my Lig, Geneser en Versoener, en het ongelooflik geduldige liefde vir my. Nou kan ek my verhaal vertel en ander bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God my bemoedig het.  Dit is hoe God my weeklag in ‘n vreugdedans verander het.

Week 4 Uitdaging:

Verbind jouself om hierdie week toegewyde tyd te spandeer om God elke dag te loof. Begin met vyf minute en voeg meer by as jy kan. Lees deur ‘n lofpsalm of gebruik jou eie woorde. Om sy lof te verklaar, herinner ons aan sy liefde vir ons en sy vermoë om kragtig in ons lewens te werk.

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse