Van hopeloos tot hoopvol

Van hopeloos tot hoopvol

Deur Angela / 29 Oktober 2019 / Ester

Was jy al ooit in ‘n situasie of verhouding wat hopeloos gelyk het? Dalk was daar iemand in jou lewe wat ‘n bose plan bedink het teen jou of jou geliefdes om julle seer te maak, en daar is selfs nie ‘n halmpie hoop te vinde nie?

Terwyl ek die afgelope ses weke deur Ester gelees en haar huwelik met koning Ahasveros bestudeer het, het ek tot die slotsom gekom dat die koning, ten beste, afsydig van sy vrou geleef het. Ester was nou wel ‘n weesmeisie wat koningin geword het, maar haar huwelik met koning Ahasveros was g’n sprokie nie.

Hy was ‘n man wat dalk ‘n drankprobleem gehad het. Neem jou gedagtes terug na hoeveel gebeure uit ons verhaal rondom bankette en wyn gehandel het.

Hy was ‘n man wat maklik kwaad geword het, wat eers gereageer en later gedink het.

Ons weet dat hy nie ‘n goeie beoordelaar van karakter was nie. Hy het homself omring met onverstandige mense, of dit nou Haman of sy raadgewers was. Vir ‘n goeie voorbeeld, dink terug aan die advies wat die manne hom gegee het toe hy met koningin Vasti moes handel.

Asof dit nie genoeg was nie, blyk dit dat die huwelik van koningin Ester met koning Ahasveros afgekoel het, aangesien daar dertig dae verloop het sedert die koning na haar gevra het. Dink vir ‘n oomblik hieroor na. Dertig dae sonder om enige soort kontak met jou man te hê … ‘n vrou kan begin voel asof sy vergete is, oorbodig … nie geliefd nie.

Om alles te kroon, moes Ester genoeg moed bymekaar skraap om die een te wees wat haar man nader … om haar eie lewe vir haar mense te waag, deur die aanmoediging van die enigste man wat haar regtig liefgehad het, haar neef en aangenome vader-figuur, Mordegai.

Ek sê dit alles net omdat my hart vir haar bloei.

As ‘n vrou.

As ‘n eggenote.

Sy moes met tye gewonder het of koning Ahasveros regtig die persoon was met wie sy veronderstel was om getroud te wees. Hoewel haar lewe van buite glansryk vertoon het, was dit binne die mure van die paleis alles behalwe ‘n sprokie.

Jy kan amper die hartseer voel wat Ester in hoofstuk 8 ervaar wanneer sy aan haar man se voete neerval, terwyl sy ween en pleit dat  hy hierdie bose plan moet stopsit – wat, laat my toe om jou te herinner, hy en sy maat Haman, ‘teen die Jode bedink het’.

Ter verdediging lyk die koning amper geskok oor die reaksie van sy vrou op hom. Vanuit sy perspektief het hy haar alles gegee wat sy wou hê. Haman was dood en sy boedel is aan haar gegee, wat sy op haar beurt weer aan Mordegai gegee het. Wat meer wou sy hê?

Maar dit was nie genoeg nie.

Want hy het regtig nie verstaan ​​wat haar hartsbegeerte was nie.

Dit het nie oor haar gegaan nie … maar oor HULLE.

Haar mense.

Dit lyk nie asof die koning die impak van die wolk van bedreiging begryp het wat oor Ester en haar mense gehang het nie, selfs na Haman se dood. Die bose edik was steeds in plek en iets moes daaraan gedoen word. Dis asof die lig aan gegaan het en koning Ahasveros uiteindelik die erns van die plan wat hy en Haman in werking gestel het, begryp het.

En dan gebeur daar iets: ‘n straaltjie van hoop verhelder die situasie.

Koning Ahasveros begin om die erns van die situasie te verstaan, en sy hart draai na dié van sy vrou en haar mense.

Wat eens hopeloos was, is nie meer nie.

God is aan die werk en verlossing is op die horison.

In plaas daarvan om verdeeld te wees oor hierdie kwessie, is hulle nou verenig.

Hoewel die vorige wet nie ongedaan gemaak kon word nie, gee koning Ahasveros vir Ester en Mordegai die mag om ‘n nuwe edik te skryf wat die Jode in staat stel om hulleself te verdedig op die beplande dag van hul vernietiging!

Was jy al ooit in ‘n situasie wat hopeloos gelyk het? Indien wel, word vandag bemoedig in die wete dat God, op sy tyd, die situasie kan verander. Hy het vir Ester, Mordegai en al die Jode wat onder Koning Ahasveros se regering geleef het, hoop en bevryding gebring! Hy het dit toe gedoen en Hy kan dit weer doen!

Wat eens ‘n hopelose situasie was, kan verander word in ‘n hoopvolle situasie wanneer God deur sy mense werk!

Kom ons gesels: Het jy al ooit ‘n situasie beleef waarin jy hopeloos gevoel het? Indien wel, hoe het God in jou lewe gewerk om jou van hopeloos na hoopvol te laat beweeg?

Hê God Groots Lief!

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse