Trots, Eer en ‘n Groot Gemors

Trots, Eer en ‘n Groot Gemors

Deur Angela | Oktober 18, 2019 | Ester

Dis asof hy hierdie oomblik jare lank geoefen het … Sy drome is op die punt om waar te word … Hy het hierdie toneel vantevore in sy gedagtes sien afspeel. Hy wou dit so graag hê dat hy soms byna die gewig van die koninklike kleed om sy skouers kon voel. Hy het lank genoeg geluister, hy kon byna die gejuig en die applous van die mense in die strate hoor terwyl sy naam deur die stad uitgebasuin word … “Dit is wat gedoen word vir die man wat die koning graag wil eer!”

Werklik, hierdie was ‘n droom wat Haman reeds baie kere gedroom het. Nou, uiteindelik, was dit op die punt om bewaarheid te word! ‘Natuurlik wil die koning my eer. Ek dien hom die meeste, die beste! Waarom sou hy iemand anders, behalwe myself, wou eer?’

Haman het in ‘n wêreld van ‘ek’ en ‘my’ gewoon … hy was sy eie beste bewonderaar.

Hy het miskien nie ‘n tekort aan rykdom gehad nie, maar sy hart het gesmag na iets wat geld nie kon koop nie … eer.

Het jy opgelet hoeveel keer hy die woord ‘eer’ noem terwyl hy beskryf wat vir hierdie spesiale persoon gedoen moet word? Indien nie, kom ons bekyk dit van naderby:

En Haman het by homself gedink: “Haman het binnegekom en die koning het hom gevra: ‘Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?’ Haman het gedink: aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys? Toe antwoord hy die koning: ‘Met die man aan wie die koning graag eer wil bewys, moet soos volg gehandel word: daar moet ‘n koninklike kleed gebring word wat die koning self aangehad het en ‘n perd waarop die koning self gery het, ‘n perd met die koninklike embleem op sy kop. Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!’” – Ester 6:6-9

Ken jy so iemand?

“Dit is die man wat praat oor hoeveel geld hy verdien, hoeveel kinders hy het, hoe nodig die koning hom het, hoe belangrik hy is.” – Charles Swindoll

Die woorde was skaars uit sy mond. Nadat hy sy droom van alle drome met die koning gedeel het sien ons God se sin vir humor in ons verhaal … ‘Gaan dadelik’, het die koning Haman beveel. ‘Kry die kleed en die perd …’ – Ester 6:10

Hierdie oomblik kon dalk vyf jaar geneem het om verwesenlik te word, maar dit was die moeite werd om te wag.

Jy sien, Haman was vol van homself en God was gereed om hom ‘terug te bring aarde toe’…

In Romeine 12:3 word ons aangemoedig om nie meer van onsself te dink as wat ons behoort te dink nie, maar ons moet onsself liewer daarop toelê om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Met ander woorde, ons moenie te trots wees nie.

“Trots is ‘n hartstoestand wat vroeër of later deur die mond verraai word.” – Beth Moore

Is dit nie waar in Haman se geval vandag nie! Die trots wat in sy hart opgeborrel het, borrel uiteindelik oor soos in ‘n bad waarin daar te veel borrels gegooi is. Dis nie ‘n mooi gesig nie. Dis morsig.

Hoogmoed vloei uit Haman se hart deur sy mond en hy is op die punt om ‘n groot gemors te moet opruim.

Jy sien, liewe vriendin, dis nie dat Haman baie van homself gedink het nie – dis dat hy ‘n bietjie te veel van homself gedink het. Sy identiteit was nie gegrond in Christus nie, maar eerder in wie hy (Haman) was en wat hy gedoen het. Sy identiteit was gegrond in wat vir die wêreld belangrik is eerder as wat God belangrik ag. Hy het verkies om voor mense geëer te word, en nie voor die oë van God nie.

Ons is op die punt om so ‘n ongelooflike kontras in Mordegai te sien. Sien uit met verwagting na Maandag se leesstof – dis een van my gunsteling gedeeltes in hierdie hele verhaal!

Besef hierdie waarheid vandag. God roep ons nie tot ‘n swak selfbeeld nie. Inteendeel, Hy wil hê dat ons ons eie waarde moet vind nie in wat ons doen nie, maar eerder in wie ons is. Ons eiewaarde word gevind in ons identiteit in Christus en in Hom alleen.

Kom ons hou op om te leef vir die applous van baie mense en streef eerder na die applous van die enigste Een wat werklik saak maak. Mag ons drome anders wees as dié van die Hamans van hierdie wêreld. Mag ons lewens nie oor ‘ons’, ‘my’ of ‘ek’ gaan nie, maar slegs oor Hom … Nie vir ons eer nie, maar vir syne.

Wees lief vir God!

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse