Swaarkry Wat Verbygaan

Swaarkry Wat Verbygaan

Ebos Aifuobhokhan

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” –2 Korintiërs 4:17-18

Ons Godgegewe drome sal altyd deur Satan, ons grootste sielevyand, en mense wat nie verstaan hoe God in ons lewens werk nie, aangeval word. Ek is al diep seergemaak deur familie en mense wat vir my soos familie is, en die pyn wat ‘n mens ervaar wanneer familie jou seermaak, is erg en sny baie diep.

Josef se broers, sy eie vlees en bloed, was jaloers oor wat kon gebeur as sy drome sou waar word. Daarom het hulle hom en sy drome probeer vernietig.

Liewe vriendin, weet dat niemand jou Godgegewe drome en aspirasies tot niet kan maak nie. God het dit aan jou gegee en Hy is getrou om klaar te maak wat hy in jou lewe begin het. Hoe weet ek dit?

Kom ons kyk eers na verse 8 en 9 in vandag se Skrifgedeelte:

“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.”

Ons sal nooit verpletter word deur die pyn en swaarkry wat ons verduur nie, selfs al is dit deur die toedoen van diegene wat die naaste aan ons is. Hoekom? Omdat God se Woord so sê. En ek glo eerder God se Woord as wat ek glo dat my naam Ebos is. Ons mag oorbluf word deur al die pyn wat ons deurmaak, maar ons sal nooit tot wanhoop of hopeloosheid gedryf word nie. Soos met Josef, is ons Droomgewer lewend en wakker oor sy Woord om dit te volbring (1953-vertaling). Halleluja! Ons sal vervolg word omdat ons in God glo en nie soos ander kan leef nie, maar staan vas, liewe vriendin, God het jou nie verlaat nie. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie. Hy wat oor ons waghou, slaap of sluimer nooit nie. Die ewige God van Israel is ons rots en fondament, ons anker en hulp wat altyd beskikbaar is.

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” – 2 Korintiërs 4:17-18

Die apostel Paulus probeer glad nie die swaarkry ligtelik afmaak wanneer hy die uitdrukking “maar gering” gebruik nie. Hy vergelyk dit met die beloning en heerlikheid wat ons uiteindelik gaan ontvang. My pyn wat ek tans verduur is niks in vergelyking met die skoonheid wat God daaruit gaan voortbring nie.

Wie sou kon dink dat Josef die tweede magtigste man in Egipte sou word? Hy is deur sy broers verraai en as slaaf verkoop, deur ‘n vrou van owerspel beskuldig, in die tronk gesmyt, en vergeet deur iemand wat veronderstel was om hom te help. Maar toe die tyd daar was, het God in al sy glorie opgedaag. Josef het allesbehalwe gelyk soos iemand wat pyn en swaarkry in sy verlede moes verduur. In so ‘n mate dat nie eers sy broers hom herken het nie.

Dit is die God wat ons dien. Hy neem nie jou pyn ligtelik op nie. Hy sien jou lyding raak en Hy weet wat om te doen. Niks kan naastenby vergelyk met wat Hy na jou kant toe gaan laat kom nie. Vergewe diegene wat jou seergemaak het, en kyk weg van die pyn en swaarkry deur op God se Woord en beloftes te fokus. As Hy iets gesê het, dan sal Hy dit doen. Laat ons aanhou want ons vergoeding duskant die ewigheid gaan groot wees en soos vandag se SOAP-verse ons verseker, is ons seker van die ewigheid saam met Hom waar daar nie meer trane, pyn, swaarkry en droefheid sal wees nie.

God is aan jou kant. Jy is nie alleen nie. Vra Hom om jou geestelike oë oop te maak sodat jy dinge vanuit sy perspektief kan sien. Dit sal jou bemoedig om aan te hou.

Gebed: God, in sulke oomblikke, voel ek ek wil in u teenwoordigheid bly en nêrens anders heen gaan of niks anders doen nie want u Woord het my hart vol hoop, sekerheid en vreugde gemaak. Dankie vir u Woord. Help ons om ondanks wat ons sien of voel, op U te fokus. Maak ons oë oop om ons swaarkry vanuit u perspektief te sien, en mag ons daardeur getroos word en ander vertroos. Ons het U lief. Amen.

Week 4 Uitdaging:

God het Josef toegelaat om groot lyding in sy lewe te verduur om sy goddelike doel te bereik. Terwyl jy lees, let op Josef se lyding. Nadat jy hierdie week se leeswerk voltooi het, gaan deur die oomblikke van sy lyding en besin oor hoe God elkeen van daardie gebeurtenisse verlos het. Glo jy dat God op dieselfde manier in jou lewe kan werk? Hoe het God reeds van sommige van jou seisoene van lyding verlos?

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse