Staan Sterk
Melissa Fuller
“Trek die volle wapenrusting van God aan sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeue, teen die bose geeste in die lug” – Efesiërs 6:11-12
Vandag se gedeelte lyk bekend, of hoe? Dit is omdat dit die vierde melding in Nehemia is van God se volk wat met vreemdelinge van ander gelowe trou. Die kwessie was nie dat vreemdelinge onwelkom was in die nasie van God se volk nie, maar dat hierdie vreemde huweliksmaats die Jode van God af weggelei het en hulle aangemoedig het om ander gode te aanbid.
Nehemia het reeds met die mense hieroor gepraat en hulle gewys waarheen hulle afgodery hulle sou lei, maar dit was ‘n sonde wat deurdringend en herhalend was. Dit moes voortdurend aangespreek word en Nehemia se intensiteit was geregverdig.
Hierdie keer het die kleinseun van die hoëpriester (die persoon wat in die Allerheiligste ingegaan het, waar die teenwoordigheid van God was) met die dogter van Sanballat getrou. Dis reg, die geestelike leier van God se volk het nie ingegryp en sy kleinseun gekeer om met die dogter van die grootste vyand van die Jode te trou nie. Die einste man wat oor en oor probeer het om die herbou van die mure van Jerusalem te keer en Nehemia in oneer te bring. Geen wonder Nehemia het die mense swaar verwyt nie.
Dit is maklik om na hierdie gebeure te kyk en te dink dit sal nooit met ons gebeur nie. Sonde sypel stadig in. Ons vyand is slinks, soos Sanballat wat voortdurend probeer om ons harte en lewens te infiltreer totdat hy die dinge vind wat ons oor en oor laat struikel. Ons moet soos Nehemia vinnig optree en die dinge regmaak wanneer ons ons eie sonde of die sonde van ander raaksien in die liggaam van Christus.
Ons is nie alleen in ons stryd teen die vyand en sonde nie. God het Sy Woord en Sy mense aan ons gegee om ons te help om aan Hom getrou te bly. Ons moet onsself voorberei en vasstaan en elke dag onthou dat ons in ‘n stryd gedompel is en moet bereid wees om te veg. Ons moet ons sondes ernstig opneem en God vra om ons te help om dit te oorkom. Hy sal ons help.
Selfs wanneer ons misluk, het ons ‘n liefdevolle, genadige en deernisvolle God wat stadig is om kwaad te word, een wat reeds met ons sondes afgereken het deur Sy Seun te stuur om in ons plek te sterf. Terwyl ons met sonde worstel op hierdie aarde, kan ons berus in die feit dat die stryd reeds in Christus oorwin is en dat ons in die hemel uiteindelik volmaak sal wees.