Sommige Dinge Neem Tyd

Sommige Dinge Neem Tyd

Andrea Howey

“Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.”

–Galasiërs 6:7–9

Ons het al almal situasies beleef wanneer die versoeking daar is om op te hou, omdat ons nie enige vrugte sien van die getroue dade van gehoorsaamheid wat ons in ons lewens saai nie. Miskien begin ons moeg word om te wag, moeg om te probeer, moeg omdat ons geen resultaat sien van die regte dinge wat ons doen nie.

Ek wil jou bemoedig: moenie ophou om die regte dinge te doen omdat dit voel asof gehoorsaamheid geen verskil maak nie. Moenie opgee wanneer jy begin wonder of dinge ooit sal verander nie. Jy mag dalk nie die vordering sien wat jy wens jy vandag al kan sien nie, maar sommige dinge neem tyd. Die oes kom altyd uit die saad wat gesaai is. Ons sal regtig oes wat ons saai.

God mis niks nie. Nie die goeie nie en ook nie die slegte nie. God mis nie die getroue gehoorsaamheid van sy kinders nie, net soos Hy ook nie die ontroue aksies van ander wat verkeerd doen en lyk asof hulle daarmee wegkom, mis nie.

Daar is ‘n versekerde oes, ‘n belofte van God vir ons as ons nie ophou om goeie sade in geloof te saai nie: sade van liefde, genade, gehoorsaamheid, ywer, hoop en oorwinning in ons lewens. As jy die regte dinge gedoen het, hou aan daarmee. Hou aan om te bou op sy getroue belofte dat as ons nie moeg word om goed te doen nie, ons op die bestemde tyd die oes sal insamel.

Dit is net ‘n kwessie van tyd. Bietjie vir bietjie, dag na dag hou ons aan om in die dinge van die Gees te saai. Dit lyk nie asof daar op die oomblik baie gebeur nie, maar gee dit tyd. Bly getrou. Hou aan om te doen wat reg is. Dit sal nie lank wees voordat jy sien dat die sade van getrouheid pragtige vrugte produseer in jou lewe nie en jy sal ‘n verhaal en ‘n getuienis hê oor die getrouheid van God rakende sy beloftes in jou lewe.

Laat ons nie opgee nie, laat ons nie moeg word om goed te doen nie en kom ons volhard vir daardie versekerde oorwinning. Kom ons volhard in geloof en hoopgevulde verwagting en glo dat Hy ‘n oes van belofte en deurbraak in ons lewens sal bring op presies die regte tyd.

God weerhou nie die goeie van jou nie; Hy is besig om iets in jou te verdiep met die verloop van tyd. Hy wil hê dat sy Woord in jou lewe moet werk. Ons sal nooit skaam gelaat word wanneer ons sy weë volg en volgens sy Woord leef nie. Hy is ‘n goeie Vader en Hy is vir ewig getrou. Hy is nie onverskillig met ons lewens nie, nie onbewus oor ons dade van getroue gehoorsaamheid nie. Hy mis niks nie. Hy het altyd sy oog op ons en sy hand op ons lewens.

Stap vir stap, bietjie vir bietjie, selfs waneer dit voel asof jy nie vorder nie, hou aan om te doen wat goed en reg is. God is ‘n God van sy woord. Hy hou sy beloftes. Eendag sal ons terugkyk en verstom staan oor hoe sy getroue beloftes in ons lewens bewaarheid is. ‘n Goeie oes sal op die regte tyd kom—dit is net ‘n kwessie van tyd.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse