Slaaploos In Persië

Slaaploos In Persië

deur Jen Thorn | Oktober 17, 2019 | Ester

Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid; hy hou van mense wat die waarheid praat. Spreuke 16:13

Ons drama het verlede week geëindig met Haman wat Mordegai se ondergang beplan het. Die galg was gebou en Haman was bly dat Mordegai, wat ‘n konstante ergernis vir hom was, vir eens en vir altyd gaan verdwyn.

Maar God …

Ons lees hierdie uitdrukking dwarsdeur die Bybel en, alhoewel dit nie direk in die boek Ester gemeld word nie, word dit deurgaans geïmpliseer soos die gebeure ontvou.

Maar God het ander planne gehad. Slaap is ‘n gawe van ons Here (Ps. 127:2) en Hy het gekies om dit daardie nag van koning Xerxes te weerhou. Hy het die slapeloosheid van ‘n koning gebruik om die ondergang van een man en die verlossing van ‘n hele volk te bewerkstellig. In plaas daarvan om vir kalmerende musiek te vra soos koning Saul dit gedoen het (1 Sam. 16:23) het Xerxes gevra dat die argiefboeke na hom toe gebring word. Dit mag dalk klink na ‘n vervelige boek vol droë feite, maar dit was eintlik ‘n baie interessante werk wat in poësievorm geskryf is.

Aangesien die argiewe deur die Perse saamgestel is, kon daar nie ‘n meer leersame en interessante werk voor die koning gebring word nie; aangesien dit alles in versvorm geskryf is, en meestal die werk was van die vooraanstaande digters van die Ryk. – Die Skatkis van Skrifkennis

Ek hou daarvan om God in detail te sien. Dit was nie toevallig dat die koning nie kon slaap nie en dat hy uiteindelik die verhaal gelees het van Mordegai wat sy lewe gered het, ‘n feit meer waardevol as vele ander, maar wat vir vyf jaar nie geopenbaar was nie.

Alhoewel daar een groot, oorkoepelende verhaal in Ester is, sien ons ook kleiner verhale wat in hierdie boek verweef is. Verhale binne verhale. Soos ons al baie keer in hierdie studie gesê het, sien ons die verlossing van die Joodse volk, maar ons sien ook ‘n verhaal van twee mans, Mordegai en Haman. Die een is eerlik, eerbaar en nederig, terwyl die ander een selfgesentreerd, trots en oneerlik is. Die een word geprys en vereer as ‘n held, terwyl die ander een verneder word en dan as ‘n skurk doodgemaak word.

Klink dit bekend? Kan jy aan ‘n nog groter verhaal dink wat ooreenstem met dit waarvan ons hier lees? Soos die Kinderbybel dit stel, ‘elke verhaal fluister sy naam’, die naam van Jesus. Die hele Bybel vertel een groot verhaal, die verhaal van die verlossing van die volk van God. Maar verweef daarin, is baie kleiner verhale. Verhale wat die verheffing van die nederiges en die ondergang van die hoogmoediges vertel. Ons sien verhale wat die krag van waarheid uitwys, maar ook die wreedheid van misleiding, en daar is verhale van gebrokenheid en die hoop dat alles weer herstel kan word.

Watter storie word deur jóu lewe vertel? Is dit een van eer, waarheid en nederigheid, of is dit een van bedrog, trots en selfsug? Ek dink dat ons baie van hierdie gebreke, maar ook kwaliteite in ons lewens sien, omdat ons in ‘n gebroke wêreld leef en sondige harte het, maar hopelik sien ons dat God in ons werk soos ons in sy Woord werk en dat ons, soos Mordegai, vereer sal word vir ons getrouheid, waarheid en eer.

Kyk na Jesus,

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse