Seën diegene wat jou vervloek

Seën diegene wat jou vervloek

Deur Jen / 21 Oktober 2019 / Ester

Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed vir Mordegai aangetrek, hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”  – Ester 6:10

Hierdie vers is ‘n perfekte opsomming van wat hierdie week in ons Ester studie gebeur.

Haman dink dat die koning hom gaan eer, maar dit is inteendeel Mordegai wat spesiale guns sal ontvang. Na die slegste dag in sy lewe gaan Haman huis toe, verpletter met skaamte.

Daar is niks wat hy kan doen aan die man wat hy die meeste haat nie.

En wat van Mordegai? Hy keer terug na die koning se hek. Hy is steeds bekommerd oor die dreigement teen die Jode en hy gaan dadelik terug na die paleis. Hy laat nie toe dat die eer wat hy ontvang het hom hoogmoedig of ledig maak nie.

Die man wat Haman vervloek het is nou verhef en geseën, en Haman wat sy eie selfverheffing gesoek het, is vervloek. Ek wil ‘n bietjie tyd spandeer om te praat oor die idee om diegene wat ons vervloek, te seën. Die vers vir ons SOAP vandag is Genesis 12:3 “Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

God belowe aan Abram dat hy sal veg teen sy vyande. Hulle sal vervloek wees en diegene wat vír Abram is, sal geseën word. Hy laat weet Abram in geen onsekere terme nie, dat Hy, die Here, aan sy kant is en dat die nasies deur hom geseën sal wees.

Die belofte word ook aan jou en my uitgereik. God vertel sy volk herhaaldelik dat Hy aan hulle kant is. Hy sê dat as ons kinders van Abraham is (deur geloof in Christus), sal ons geseën word (Handelinge 3:25). En in Romeine 8:31 vra Paulus, “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” Dit is net deur die bloed van Jesus dat God vir ons kan wees.

As ons eerlik is, voel dit nie altyd of God aan ons kant is nie (Psalm 73). Dit voel asof daar baie dinge teen ons is, soos regerings, institusies, individuele persone en omstandighede. Maar God wat in ons en vir ons is, is sterker as enige omstandighede of persoon wat teen ons te staan kom (1 Johannes 4:4).

ONS REAKSIE

Hier is iets baie belangriks vir ons om te onthou. Daar word nêrens vir ons gesê dat ons díe wat ons vervloek, moet vervloek nie. Dit is alleenlik God se werk.

Die Here sal vir ons alles goed laat afloop (Psalm 138:8)

Dit is ‘n goeie rede hoekom ons diegene wat ons vervloek moet seën, want dit is genoeg dat God hulle sal vervloek.– Matthew Henry

Ons word gevra om te bid vir diegene wat ons sleg behandel (Lukas 6:28). Sjoe, dit is ‘n baie moeilike opdrag. Wat beteken dit?

Om ons vyande of die mense wat teen ons is, lief te hê, beteken om hulle beswil te wil hê. Dit beteken om ons gevoelens van wrewel of om hulle slegte dinge toe te wens, te bedwing. Dit beteken om ontslae te raak van daardie begeerte in ons harte om kwaad met kwaad te vergeld.

Hoe doen ons dit? Deur vir hulle te bid, deur goedgunstiglik oor hulle en met hulle te praat, EN om goed te wees teenoor hulle.

Hier is die feit; om ons vyande lief te hê, om mense wat ons kwaad wil aandoen lief te hê, diegene wat ons irriteer, wat ons nie liefhet nie, wat sleg oor ons praat en wat haatdraend teenoor ons is, gaan teen ons natuur in. Dit is nie natuurlik vir ons om hierdie soort van genade te betoon nie.

Ons Here God moet ‘n godsalige man wees om skurke lief te hê. Ek kan dit nie doen nie, en tog ek is self ‘n skurk. – Martin Luther

Ja, ons is skurke en nog slegter! Ons is dankbaar vir ons perfekte voorbeeld, Jesus. Hy het barmhartigheid en goedheid gewys aan dié wat in sy gesig gespuug het, hom beskuldig het van allerlei valshede, vir hom gelag het, hom gemartel het en doodgemaak het.

Hy is nie net ons voorbeeld nie, Hy is ook ons hoop. Ek weet nie van jou nie, maar dit is vir my onmoontlik. Selfs as ek in hulle teenwoordigheid teenoor hulle goedgunstig kon wees, sou ek in my hart geworstel het. Dit verskoon my nie, maar dit maak Jesus se opoffering des te meer kosbaar. Jesus het sy vyande perfek liefgehad vir ons, het verkeerdelike aantygings en beskindering met perfekte genade verduur vir ons, en Hy het gesterf aan die kruis vir al die kere wat ons sou faal om ons vyande te seën.

Ons word gevra om die die regte pad te neem, om díe wat ons vervloek te seën en om díe wat teen ons is lief te hê, maar ons word nie gevra om hierdie pad alleen te loop nie. God is met ons en vir ons, en op die einde sal Hy ons vindikeer – die waarheid sal oorwin.

As ons opstaan vir wat reg is, sal ons vyande hê. Hulle sal geregverdig voel in hulle vyandskap. Maar Jesus sê, wees nogtans lief vir hulle. Vyandige mense verwag vyandigheid terug. Jesus sê, verras hulle. – Ray Ortland

Kyk na Jesus,

 

Week 5 Uitdaging: Bid hierdie week vir die mense wat nie van jou hou nie. Wanneer jou gedagtes gevul is met gevoelens van wraak of bekommernis, verander daardie gedagtes in gebed. Vra God om jou bonatuurlik te help om lief te hê wanneer jy nie wil liefhê nie, en loof sy naam in tye van onsekerheid.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse