Oorwin Struikelblokke

Oorwin Struikelblokke

Een van my gunsteling verhale van wat tydens Jesus se lewe op aarde gebeur het, is in Markus 2 opgeteken. Ek is gaande oor hierdie naamlose vriende se onverskrokkenheid! Hulle was geloofsvriende en hulle geloof was in Jesus.

Jesus was in Kapernaum, wat as sy tuiste beskou word omdat Hy regdeur sy bediening gereeld daarheen teruggekeer het. Kapernaum is ongeveer 32 kilometer van Nasaret af, wat ook in Galilea is.

In Markus hoofstuk 1 genees Jesus ‘n man met ‘n bose gees terwyl Hy besig was om in die sinagoge in Kapernaum te leer. “Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: ‘Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom’” (Markus 1:27).

Nadat Jesus in die sinagoge geleer het, het Hy na Andreas en Petrus se huis toe gegaan en Petrus se skoonma genees. In verse 32 tot 34 staan daar: “Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe.”

Toe die mense hoor dat Jesus terug in die dorp was, het ‘n groot skare saamgedrom. Lukas se evangelie vertel hoe Fariseërs en leermeesters van die wet van elke dorp dorp in Galilea, Judea en Jerusalem teenwoordig was (lees Lukas 5:17). Daar was nie meer plek in die huis of naby die deur nie. Almal het na Jesus se prediking kom luister.

‘n Groep vriende het hulle by hierdie gedrang aangesluit. Vier van hulle het ‘n gestremde man gedra wat nie kon loop nie. Hulle kon nie naby Jesus kom nie. Ek is gaande oor hulle plan om die probleem op te los deur op die plat dak te klim (daar was gewoonlik buitetrappe) en van die dakteëls te verwyder (lees Lukas 5:19) sodat hulle hul vriend tot reg voor Jesus kon laat afsak.

Hulle het nie geweet hoe Jesus sou reageer nie. Hulle het egter geglo dat hulle net hulle vriend by Jesus moes uitbring. Hulle was reg. Jesus het hulle geloof gesien en daarop gereageer. Die man se grootste nood is aangespreek – sy sondes is vergewe.

As ek een van die vriende was, sou ek teleurgesteld gewees het dat my vriend nie liggaamlik genees is nie. Dit is egter die hele doel van Jesus se koms na die aarde – om vir sondaars soos ons ‘n manier te voorsien om vergewe te word. Jesus het wel die man fisiek genees om te bewys dat Hy die outoriteit het om sondes te vergewe. Maar hierdie verhaal is om ons te herinner dat ons dikwels so besorg is oor tydelike dinge dat ons dit wat ewig saak maak, miskyk.

Ek wil hê jy moet oor die vriende en familie in jou lewe nadink, diegene wat Jesus nog nie ken nie. Ons dink dikwels hoe wonderlik dit sou wees as iemand hulle vir Christus kon bereik! God het jou egter in hul lewe geplaas om deel van hulle reis na Hom te wees!

Eerstens moet ons vir hulle bid. Daar is ook talle geleenthede in die alledaagse lewe om van God te vertel. Jy kan dalk ‘n stukkie meedeel hoe God jou lewe verander het of wat Hy besig is jou te leer. Jy kan van jou mislukkings en van God se genade vertel. Jy kan vrae vra oor wat hulle glo, of hulle vrae oor Christenskap beantwoord. Elke gesprek hoef nie altyd in ‘n rigting gestuur te word om oor God te praat nie, maar net so behoort nie een van jou gesprekke God heeltemal uit te sluit nie!

Daar sal ook geleenthede wees om liefde prakties te demonstreer, net soos hierdie vriende hul vriend na Jesus toe gedra het, sodat die liefde wat God in jou lewe uitgestort het, na ander kan oorspoel. Soos daar in Kolossense 4:5-6 staan: “Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”

Wat van jou verhoudings met ander Christene? Is jy gewillig om hulle na Jesus toe te bring? Daar is sommige van ons Christenvriende en -familie met wie ons graag oor enigiets anders sal praat as dit wat regtig saak maak! Ek is so dankbaar vir vriende wat nie net vir my bid nie, maar met wie ek gesprekke oor God kan voer. Dit is so bemoedigend wanneer ons tyd saam ‘n weerspieëling is van Spreuke 27:17 wat sê: “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.” En ook wanneer ek aanhou om sonde te doen en geseënd is om vriende te hê wat genoeg omgee om my in liefde te help om my sonde raak te sien en te oorwin deur my weer by Jesus uit te bring.

As gevolg van die genade wat God oor my uitgestort het, praat ek graag met ander Christene oor Hom. Ek geniet dit om te praat oor wat ons geleer het, oor ‘n beker koffie, in Bybelstudiegroepe, een tot een, of Sondae na kerk. Laasgenoemde kan nogal moeilik raak as jy met die leraar van die plaaslike kerk getroud is! Ons word aangemoedig om mekaar moed in te praat en mekaar te versterk (1 Tessalonisense 5:11). Kolossense 3:16 sê: “Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.”

Ek daag jou en myself uit om hieraan te dink: Is jy die soort vrou wat God soek om enige soort probleme te bowe te kom, om jou vriende en familie by Jesus uit te bring, omdat jy weet dat dit die enigste plek is waar hulle sal vind wat hulle regtig nodig het?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse