Oortuig en Toegewyd

Oortuig en Toegewyd

Ek het oorkant ‘n vriendin gesit en gesels en koffie drink, toe ek ‘n begeerte, wat ek tot dusver verborge gehou het, met haar gedeel het. Nadat die woorde uit my mond gekom het, het ek amper gewens ek kon die terugdraai knoppie druk en die begeerte van my hart terugneem, maar die woorde was gespreek en dit het oor die tafel tussen ons gehang. “Dink jy dit is mal?” het ek gevra. 

Vir ‘n geruime tyd het ek ‘n smagting ervaar om iets anders te doen. Ek was nie seker hoe of wanneer of selfs hoekom nie, maar ek het geweet dat God hierdie begeerte in my hart geplaas het. Ek het egter geen aardse idee gehad hoe ek kon oorgaan van waar ek tans dien, na ‘n nuwe rol waar ek my Godgegewe geskenke kon gebruik nie. 

My vriendin het nader geleun en vir my geglimlag. “Nee, jy is glad nie mal nie. Ek kan jou dit sien doen. Ek het geen idee hoe dit sal gebeur nie, maar God weet. Waarom bid ons nie daaroor nie?” Toe neem sy my hand en vra God om ‘n deur oop te maak sodat ek ‘n “nuwe ding” tot sy eer kan doen. 

‘n Week later het ek ‘n oproep gekry van ‘n vriendin met wie ek jare laas gepraat het. Sy het vir ‘n nuwe bediening gewerk en hulle het ‘n posisie beskikbaar gehad. Sy het dadelik aan my gedink. Onderwyl sy die geleentheid beskryf het, het my hartklop begin versnel. Alles wat sy gesê het, was presies dieselfde as die begeerte wat ek net ‘n paar dae tevore met my vriendin gedeel het. 

Om ja te sê vir hierdie geleentheid, het egter vereis dat ek alles wat ek reeds tot stand gebring het, agterlaat en na ‘n totale nuwe plek vertrek. Ek moes ‘n besluit neem. Ek kon óf in geloof vorentoe gaan, of toelaat dat die vrees my gevange hou. 

Miskien het jy, net soos ek, ook al geworstel met angs oor wat môre sal inhou. Ons is bekommerd oor ons gesondheid, ons geliefdes of finansies. Ons huiwer om vorentoe te gaan, want ons kan nie die uitkoms beheer nie en daarom bly ons vas in die vallei van besluiteloosheid. 

Rebekka het in geloof opgestaan en op ‘n kameel geklim. Sy het God se dienskneg gevolg en na ‘n nuwe toekoms gery. Sy het alles agtergelaat om die Here se pad te volg. Haar vertroue in God is vir my ‘n uitdaging.

Vriende, God hou al die besonderhede in sy hand. Hy ken ons harte en Hy organiseer die gebeure van ons lewens perfek. Die huwelik van Rebekka en Isak was ‘n vervulling van sy belofte aan Abraham en sy nageslag. Die draad van God se verlossing vleg deur elke generasie en toon pragtig hoe God se standvastige liefde ons nooit verlaat nie. Rebekka was oortuig dat sy deel was van God se plan en sy was toegewyd om Hom te behaag. 

Kom ons bid en vra God om ons ‘n heilige vertroue in sy voorsienende sorg vir ons lewens te gee. Net soos Rebekka kan ons ons oë opslaan en opkyk om te sien wat God vir ons dag beplan het en met sekerheid vorentoe gaan. Ons aanbid God wanneer ons gewilliglik reageer en besluit om te gehoorsaam. Wanneer ons ons lewensweg daaraan toewy om God te eer, sal ons nooit spyt wees oor ons besluit nie. 

Week 5 Uitdaging:

Waarom is geloof so belangrik vir God? Wat beteken dit om seker te wees van die dinge wat ons hoop en oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie? Bestee hierdie week tyd om oor die geloof van Abraham, Sara, Isak en Rebekka te besin. Wat kan jy uit hulle geloof leer?

Week 5 Leesplan:

Week 5 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse