Ons Volmaakte Offer en Hoëpriester

Ons Volmaakte Offer en Hoëpriester

Deur Terria / 23 Oktober 2020 / Jesus, Ons Alles

Wat is die grootste opoffering wat jy al ooit gemaak het?

Gewoonlik gee ons uit ons oormaat wanneer ons vir iemand of ‘n saak ‘n opoffering maak.

Ons offer ‘n bietjie van ons ekstra tyd op.

Ons offer van ons spaargeld op.

Ons kan selfs ‘n kort rukkie ons verhoudings of ons vrede opoffer.

Nadat ons ‘n opoffering gemaak het, verwag ons om agterna selfs een of ander beloning of gewin daaruit te kry. Hoeveel ons bereid is om op te offer, is ‘n aanduiding van hoe toegewyd ons is. Hoe meer ons bereid is om op te offer, dui aan hoeveel die ontvanger vir ons beteken.

God het sonder enige verwagtings en sonder waarborg van vergoeding sy kosbaarste ding opgeoffer vir dié wat Hy die liefste het.

Jesus Christus is die hoogste bewys van God se volle toewyding om ons lief te hê.

Ten spyte van die mensdom se volgehoue verraad en verwerping het God ons lief. Ten spyte van die mensdom se versuim om God se wette te gehoorsaam, het Hy ons lief. Ondanks ons onvermoë om volkome en getrou aan God toegewyd te wees, het Hy ons lief. Hy het ons toe liefgehad en het ons nog steeds lief.

Ons kan volkome verseker wees van God se toegewydheid aan sy volk wanneer ons dit meet aan sy offer vir ons: Jesus Christus.

Jesus is die finale en volmaakte offer.

Voor Jesus het die priesters van die Ou Testament die bloed van ‘n onskuldige dier sonder liggaamsgebrek aanvaar as betaling vir die straf vir die sondes van die volk (Levitikus 22:17-25). God het vereis dat bloed vergiet moes word om die volk te herinner dat enige sonde die doodstraf vereis (Romeine 6:23). Dié dier sou ‘n tydelike plaasvervanger wees vir die sondaar se vereiste dood. Die bloedoffer sou die sonde simbolies wegneem, en God sou die sondaar vir daardie een, spesifieke sonde vergewe (Hebreërs 9:22).

Probeer vir jou so ‘n toneel in jou eie lewe indink.

Met elke leuen, elke onwelvoeglike gedagte, elke daad van woede, trots of jaloesie, moet jy eers alles los waarmee jy besig is. Jy moet een van jou onskuldige, volmaakte diere sonder liggaamsgebrek uitkies. Jy moet na die priester by die tabernakel toe loop om die dier te laat slag sodat jy vergewe kan word.

Elke liewe keer.

Stel jou voor hoeveel bloed elke dag, elke week, om nie eens te praat van ‘n hele leeftyd nie, vir jou onthalwe gestort moes word. Soveel onskuldige bloed.

Omrede God se groot liefde vir ons, het Hy vir ons die volmaakte offerande verskaf. Jesus Christus, ons onskuldige, volmaakte Lam, was die finale offer. Die enigste offerande wat nodig was om vir ons sonde versoening te doen. Geen bulle, bokke of lammers is meer nodig nie (Hebreërs 10:14).

Gelowiges in Jesus is deur Jesus se offer heilig gemaak. Ons kan nou met ons aanbidding, lofprysing en versoeke direk tot in God se teenwoordigheid gaan. Dit is omdat gelowiges deur die bloed van Jesus aanvaarbaar gemaak is. Jesus verbind ons aan God.

Jesus is die finale en volmaakte Hoëpriester.

Voor Jesus was die Ou-Testamentiese priesters Levitiese mans uit die geslag van Aäron en sy nakomelinge wat deur God aangestel is (Eksodus 28:1). Priesters moes as bemiddelaars tussen God en die Israeliete optree. Sommige van hulle verantwoordelikhede was om offers vir die sondes van individue en die volk gesamentlik te bring (Eksodus 29:38-42), die mense te leer (Levitikus 10:8-11), en die volk te seën en vir hulle te bid (Numeri 6:22-27).

Jesus Christus is ons uitmuntende voorbeeld as Hoëpriester. Anders as die hoëpriesters van ouds wat aangestel is, is Jesus nou die enigste bemiddelaar tussen die volk en God (1 Timoteus 2:5). Sonder Jesus kan ons nie by God uitkom nie (Johannes 6:44; 14:6). Jesus was bereid om sy lewe vir ons op te offer, en nou leef Hy om vanaf sy ewige troon in die hemel tot God vir ons te bid en vir ons in te tree (Hebreërs 7:25).

Wat beteken dit vir ons wat in Jesus se dood, begrafnis en opstanding glo?

Vanweë God se groot liefde vir ons en danksy Jesus se vrywillige offer, is gelowiges nou deel van ‘n heilige priesterdom (1 Petrus 2:5, 9). Ons het nou op enige tyd en om watter rede ook al onbeperkte toegang tot God.

Wat is gelowiges, as priesters van God, se offers?

As gelowiges word ons, wanneer ons gered is, geroep om as deel van God se heilige priesterdom, God met ons hele hart, verstand en siel te dien. As gelowiges gee ons ons lewens as lewende offers (Romeine 12:1-2).

Vanweë ons eenheid met Christus kan ons, net soos Jesus, as priester en as offer optree.

Ons lees, bestudeer en deel God se Woord. Ons seën en bid vir mense. Ons bring offers van aanbidding en lofprysing. Ons dien die Kerk opofferend met ons geestelike gawes. Die belangrikste is dat ons mense na Jesus Christus toe lei sodat hulle verewig met God versoen kan raak.

Hoe roep God jou om as priester in jou huis, jou omgewing, jou kerk en jou wêreld te dien? Hoe kan ons vir jou bid terwyl jy jouself as lewende offer aanbied?

Vrede en genade vir jou,

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse