Ons Herder-Koning

Ons Herder-Koning

Katie Shott

“Hy sal oor sy kudde regeer met die krag van die Here

en die magtige Naam van die Here sy God.

Sy volk sal dan veilig kan woon,

want hy sal deur die hele wêreld geëer word.” – Miga 5:3 (Nuwe Lewende Vertaling)

Ek wonder of jy, soos ek ook, met elke Advent seisoen sekere tradisies het terwyl jy voorberei vir die Kersvieringe? ‘n Hoogtepunt, vir langer as wat ek kan onthou in Desember, is om ‘n kersligdiens van Nine Carols and Lessons in ‘n nabye kerk by te woon. Ek is gaande oor hoe die verhaal van Jesus se koms deur Skriflesing en sang vertel word, vanaf Genesis, deur die profesieë wat in vervulling gekom het en afsluit met Jesus se geboorte in die Evangelies. Ek moet bieg, ek word gewoonlik net een maal per jaar, by dié Kerssangdiens, aan vandag se Skrifgedeelte uit Miga 5 en God se profesie aan Sy volk herinner.   

Kom ons plaas ons in die skoene van die aanvanklike toehoorders van Miga se Godgegewe proklamasie. Die volk van God het in opstand gekom, hulle was ongehoorsaam en ontrou en het as ‘n nasie onder die gevolge van hulle sonde gely. Die waarskuwings van God se oordeel is deur Miga uitgespreek, maar dit het gepaard gegaan met hoop, want óns God is ‘n getroue God wat Sy verbond hou, sonde en opstandigheid vergewe en ‘n behae het om aan ons Sy lojale liefde te bewys. (Miga 7:18).    

In hulle verlange na ‘n Messias wat sou kom om Sy volk te red, kan ons ons voorstel dat hulle van Miga verwag het om te verklaar dat die beloofde Koning in die koninklike stad Jerusalem aan bewind sou kom, in die paleis regeer en met groot militêre mag oor die vyand heers.

Hoe onverwags, en onbegryplik moes dit vir God se volk gewees om te hoor dat hulle beloofde Koning uit Betlehem, die onbelangrikste plek, die kleinste van al die stamme van Juda sou kom; en dan beskryf word as ‘n herder, nie ‘n magtige krygsman nie! Dit was tog nié wat hulle verwag het nie?

Is jy nie ook gaande oor hierdie onderstebo koninkryk van God nie? Wat in die oë van die wêreld magteloos en onbeduidend is gebruik Hy, omring Homself met die swakkes en weerloses en werk op die verrassendste maniere om Sy beloftes aan sy kinders getrou na te kom. 

Kom ons dink ‘n oomblik na oor hierdie dorpie Betlehem. Miga verwys ook na die ou Joodse naam uit Jakob en Josef se tyd—Efrata. Hierdie naam beteken “vrugbaar”; die huidige naam Betlehem beteken “Huis van Brood”. Jesus, die beloofde Messias, gebore in hierdie vrugbare plek, beskryf Homself in die Evangelies as die “ware Wingerdstok” en die Een wat in die huis van brood gebore is, is inderdaad die “Brood van die Lewe”. Dit is opwindend om op sulke klein maar tog spesifieke besonderhede af te kom terwyl jy in God se Woord delf. Dinge wat so maklik ongemerk kan verbygaan, herinner ons keer op keer hoedat ons God, ‘n God van fyn detail is.

Mag hierdie versekering jou bemoedig, liewe Vriendin. God sien en ken die fynste besonderhede van daardie moeilikheid of hartseer waarmee jy te doen het, die sondeprobleem wat jy sukkel om te oorwin, of die geliefde wat swaar op jou hart lê. Geen omstandighede of beproewing is tevergeefs wanneer ons God nooi om tot Sy eer en vir ons eie beswil daarin en daardeur te werk nie. Deur alles heen kan ons op God se beloftes staatmaak, vol vertroue dat Hy ons nooit sal verlaat nie, dat Sy genade allesomvattend is en dat absoluut niks ons van Sy onbreekbare liefde vir ons kan skei nie.  

Onthou ook dat Betlehem, alhoewel dit onbeduidend was onder die geslagte, natuurlik vir die toehoorders van Miga se profesie betekenisvol was en ‘n sterk verbintenis met Israel se vernaamste aardse koning gehad het. Dawid, die herder-seun, wie se tuisdorp Betlehem was, is as koning gesalf en het God se verbondsbelofte ontvang dat die uiteindelike heerser vir God se volk uit sy huis en geslagslyn sou kom, en aan Sy koninkryk sou daar nooit ‘n einde kom nie.

Hierdie beloofde hoop is in Jesus Christus, die goddelike Herder-Koning wat sy lewe vir Sy skape kom aflê het, vervul. Sy Koninkryk word steeds vandag regoor die wêreld verkondig en bly groei. In hierdie Advent seisoen van hoopvolle verwagting, terwyl ons opnuut oor hierdie Ou Testamentiese profesie in Miga 5 nadink, verbly ons ons dus daarin wanneer ons sien hoe God sy verbondsbeloftes nagekom het, want ons Koning het gekom!

Halleluja!

Ons sal met afwagting en verwagting bly leef want ons weet ons Koning kom weer. Hy sal in soewereine mag en gesag kom om te heers en te regeer, om alles wat verkeerd en gebroke is in hierdie wêreld wat Hy so liefhet, reg en nuut te maak; ‘n wêreld wat tans aan opstandigheid, verwarring, geweld en onsekerheid uitgelewer is. God is ons sekuriteit. God sal ons vrede wees. God is ons enigste vaste hoop.

Intussen, terwyl ons uitsien en op Sy wederkoms wag, leef ons met die versekering van die konstante teenwoordigheid van ons Herder-Koning.

Die Een wat ons Syne noem en ons intiem ken, beskerm en lei Sy kudde, gaan agter diegene aan wat afdwaal en lei ons na verfrissende strome van lewende water.

Ons Goeie Herder wat saam met ons deur die donker vallei stap, die enigste Een wat Sy lewe vir ons afgelê het, die Een wat op die troon sit en leef om vir ons in te tree.

Kom ons raak ‘n oomblik stil, voordat ons meegesleur word deur die bedrywighede van ons dag en hierdie seisoen en spreek die lewegewende woorde van hierdie seëngebed oor onsself en mekaar uit:

Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het,

 julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.” – Hebreërs 13:20-21 (Ou Vertaling)

Mag ons aangespoor word om die Goeie Nuus wat hierdie Kerstyd groot blydskap bring, te vertel aan diegene wat Jesus nog nie ken nie, die Een wat gekom het om hulle Verlosser, Herder en Koning te wees.

Week 4 Uitdaging:

Toe die Engel aan Maria aangekondig het dat sy swanger sal word met die Messias, het sy geglo. Sy het nagedink oor alles wat besig was om te gebeur terwul sy voorberei het op die koms van Christus. Hoe berei jy voor om die koms van Christus met Kersfees te vier? Hoe berei jy jou voor vir die koms van Christus wanneer Hy terugkeer?

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse