Nederige Siele

Nederige Siele

Deur Sara / 22 Oktober 2019 / Ester

Hierdie spesifieke verse uit Ester speel soos ‘n spannende toneel uit ‘n film in my gedagtes af. Ons het toegang tot die hele verhaal, so ons weet dat die koning nadink oor hoe hy Mordegai moet eer vir sy lojaliteit. Ons sien dat Haman onbedoeld sy eie strik stel, en ons sien dat Haman se trotse aannames sy openbare skande en uiteindelike dood veroorsaak.

Miskien krimp ek ineen ek as ek die woorde lees, omdat ek weet dat dit heeltemal te maklik is om trots en self-verering in my lewe toe te laat. Ek dink aan ‘n tyd toe ons een van ons jong dogters probeer leer het oor nederigheid en dat sy (terwyl sy ironies genoeg die punt heeltemal mis) sê: “Ja, ek is die beste in nederig wees.” Ons het almal nog iets om aan te werk, nê?

Die Bybel waarsku ons spesifiek oor die bevordering van ons eiewaarde. Spreuke 25: 6 sê:  “Moet jou nie vernaam aanstel by die koning en op die plek vir hoë mense gaan staan nie…”. By ‘n bruilofsfees het Jesus die volgende gesê: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word” (Lukas 14:11).

Dit is ’n moeilike konsep, want so baie stemme in hierdie wêreld sê vir ons dat ons dapper moet wees, dat ons met selfvertroue onsself moet laat geld, dat ons ons eie sukses moet skep. Ons word geroep om die evangelie met vrymoedigheid te verkondig en te leef sodat mense Jesus sien, maar daar is niks in die Skrif wat sê dat ons onsself moet verhoog nie. Laat ons nie deur die persoon in die spieël afgelei word nie. Laat ons nie versoek word deur ons eiegeregtigheid nie. Vriende, die vrae wat ons onsself moet afvra. . . Watter koning dien ons regtig? Is die guns en eer waarna ons verlang van hierdie wêreld of die ewige? 

Ons soewereine God het ons lief en streef na ons – nie omdat ons ons waarde bewys het, ons CV ingedien het, of ons ‘n oudisie gedoen het vir die rol nie. Hy neem ons aan as ‘n gebroke, sondige gemors en vra dat ons moet sterf aan onsself om ten volle vir Christus te leef.

Vroeër in die boek het Mordegai Ester uitgedaag om haarself op die prys te stel om haar mense te red – om haar posisie en invloed ‘met die oog op ‘n tyd soos hierdie’ te gebruik (Ester4:14). Vriende, dit is nou ons tyd. Jy kan bediening doen aan mense waar jy ookal is. Jy het nie ‘n groter platform nodig om indrukwekkend te wees nie. Jy hoef nie meer volgelinge te hê om ‘n indruk te maak nie. Jy het nie ‘n beter titel, ‘n kleiner middellyf, ‘n groter salaris, ‘n sterker stem nodig nie. God was nog altyd besig om groot wonderwerke deur gewone mense en nederige bronne te doen.

 God, gee ons nederige harte wat wil dien – vir ‘n tyd soos hierdie.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse