‘n Pakhuis van Wysheid
Lyli Dunbar
Jare gelede het ek in ‘n klas op universiteit gesit en geluister na ‘n baie suksesvolle professor wat haar wysheid gedeel het oor wat my fokus as ‘n onderwyser moet wees. Haar woorde was passievol en duidelik, maar die fondasie van haar redenering was ver van wat die Bybel sê. Sy het nie herken dat die grootste probleem wat ons in die gesig staar, ons sonde en gebrokenheid is nie. Ons het desperaat ‘n Verlosser nodig. Ons kan onsself nie op ons eie red nie. Ons moet die waarheid van God se Woord ontvang en wegdraai van ons eie manier van denke. Ware sukses en sekuriteit word net gevind wanneer ons God se Woord gehoorsaam en toelaat dat sy wysheid ons lei.
Die wêreld wil hê dat ons doen wat veilig en maklik lyk. Maar ons gemak en sekuriteit bepaal nie wat heilig en reg is nie. Wanneer ons die wysheid van hierdie wêreld volg, behaag ons nooit vir God nie en ons vind nooit vrede nie. As ons ons veiligheid hoër ag as om God te dien, sal ons nie onsself red nie.
Nehemia het God se Woord gekoester. Hy het homself verdiep daarin om die Skrif gereeld te lees. Hy het met ywer bestudeer wat die Skrif leer, om God se wysheid te verstaan. Hy het die waarhede van die Bybel oordink totdat die Woord op sy hart afgestempel was en daardie oortuiginge die manier hoe hy die wêreld gesien het, verander het en onderskeiding gemaak het tussen wat reg en verkeerd is. As ‘n leier het hy elke besluit wat hy geneem het, ondersoek in die lig van God se onveranderende beginsels.
Wanneer ons raad van die wêreld ontvang, moet ons altyd ondersoek hoe enige beredenering trou bly aan die waarheid in God se Woord, net soos Nehemia hier gedoen het:
Eerstens moet ons die bron van die inligting oorweeg. Semaja het homself as ‘n profeet voorgedoen, maar die fondasie van sy argument was vrees. Hy was toegesluit in sy huis en sy isolasie het vir hom ‘n beperkte begrip van realiteit gegee. Eerder as om die waarheid te spreek, het hy sy redenasie gebaseer op veronderstellings van wat moontlik kan gebeur.
Tweedens, Nehemia het die regte vrae gevra en goddelike onderskeidingsvermoë toegepas. Op die oppervlakte, het dít wat Semaja voorgestel het soos ‘n verstandige manier geklink om sy lewe te beskerm teen sy vyande. Maar Nehemia het besef dat hierdie handelswyse sou beteken om “weg te hardloop” van God se beskerming deur ongehoorsaam te wees aan sy Woord. Enige iemand wat nie ‘n priester was nie, is verbied om die tempel in te gaan.
Laastens, in plaas van om met hierdie teenstaander te argumenteer of om homself te verdedig, het Nehemia gebid. Herhaaldelik, regdeur die herbouingsproses, het hierdie nederige leier sy absolute afhanklikheid van God erken. Hy het God nie net gevra om hom te “onthou” en hom sukses te gee nie, maar om ook sy vyande te “onthou” en tot sy verdediging te kom. Nehemia was ‘n man wat verstaan het dat hy beide met sy hande moet werk en op sy knieë in gebed moet veg.
Soos ons ons eie stryde veg en worstel om besluite te neem, is die beste manier om voor te berei, deur God met ons hele hart te soek en Hom te vra om ons te help om nie van sy bevele af weg te dwaal nie. Wanneer ons God se Woord bestudeer en ons denke en waardes daardeur laat deurdrenk, sal die Here ons ‘n pakhuis van wysheid gee om ons te help om weg te bly van sondige weë en om met sukses vorentoe te beweeg.