‘n Betroubare Beloftehouer

‘n Betroubare Beloftehouer

Deur Brittany / 8 Desember 2020 / Ewige Verbond

Het iemand al ooit teenoor jou ‘n belofte gemaak wat onmoontlik gelyk het om na te kom, maar tog het hulle dit nagekom en hul woord gestand gedoen?

Toe ek ‘n kind was, kan ek onthou dat my pa gereis en belowe het om vir my ‘n spesifieke item terug te bring, of ‘n foto voor ‘n sekere plek te neem. Hy sou gereeld met die geskenk of foto terugkom en dan was ek in ekstase gewees. Van af was my pa dus ‘n betroubare beloftehouer.

Toe ek ouer geword het, het ek ook die verpletterende slag van verbreekte beloftes beleef. Ek dink ons ​​ken almal die sinkende gevoel van teleurstelling wanneer ons besef dat dit wat ons gedink het waar is van iemand, wel, nie is nie. Wat ek hou van die gedeelte waarby ons vandag stilstaan (Jeremia 31: 31-37), is dat dit ons herinner dat ongeag watter beloftes hier op aarde verbreek word, ons ‘n God dien wat ‘n betroubare beloftehouer is.

In Jeremia lees ons hoe die Here ‘n nuwe verbond, ‘n bindende belofte, met sy volk gesluit het. Om hierdie nuwe verbond ten volle te verstaan, moet ons ‘n paar dinge oor Jeremia weet. Jeremia het as die lydende profeet bekend gestaan, omdat sy profetiese bediening nie maklik was nie. Om die waarheid te sê, die meeste profete se werk was nie maklik nie, want hulle het dikwels nuus gebring oor God se oordeel aan ‘n volk wat geen berou getoon het nie. Dit was ook waar vir Jeremia!

Dwarsdeur die boek sien ons Jeremia bly waarsku en pleit by God se volk om tot bekering te kom. Hulle het voortgegaan om in sonde vas te draai. Aan die einde van die boek vind ons die belofte wat ons vandag in ons studies gelees het.

 “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

— Jeremia 31:33

Sien jy dit?

Ten spyte van sonde, ten spyte van algehele miskenning van Jeremia se profetiese boodskappe, kon God se belofte nie verbreek word nie. Die gedeelte sê dat daar ‘n tyd sou aanbreek waarop God die Almagtige ‘n nuwe verbond sou sluit! Dit vertel ons dat ons goeie en betroubare God het, wat nie die verlossingsplan wat Hy begin het laat vaar het nie. In plaas daarvan, waar baie van ons rede sou vind om op te gee, het God ‘n nuwe verbond met ‘n ontroue volk gesluit.

Toe die dissipels en Jesus die laaste maaltyd saam geniet het in Lukas 22, het Jesus vir hulle gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word… Hierdie beker wat vir julle uitgestort word, is die nuwe verbond in my bloed.”

Vriendinne, die Christuskind, wat gebore is in ‘n krip, en ‘n perfekte lewe geleef het, het ‘n aaklige dood gesterf en uit die graf opgestaan, sodat ek en jy hierdie nuwe verbond en vergifnis van sonde kon ontvang. Die bloed van Jesus wat vir jou gestort is, is die voorspelde nuwe verbond in Jeremia 31. Dit is die fisiese bewys dat ons God ‘n betroubare God is, wat sy beloftes nakom en eendag alle onreg sal regstel. Hierdie verlossingsverbond is geen gewone belofte nie: dit is ‘n belofte om die harte en gedagtes van God se volk te bevry; dit is ‘n belofte om eendag alle verkeerde dinge reg te stel en al ons sondes te vergewe.

Terwyl ons die komende weke met verwagting daarna uitsien om die geboorte van Jesus te vier, kyk ons ​​ook na die dag wanneer die belofte van sy wederkoms vervul word. Ons verkondig telkens dat ons God ‘n betroubare beloftehouer is. Omdat ons weet dat ons ‘n God dien wat sy beloftes nakom, kan ons rus, ongeag watter beloftes hierdie wêreld mag verbreek.

Lees vandag Jeremia 31:33, en neem ‘n paar oomblikke om na te dink oor wat hierdie vers vir jou beteken en hoe, om ‘n volgeling te wees van ‘n betroubare God wat sy beloftes nakom, jou hart en gedagtes kan verander gedurende hierdie seisoen.

Brittany

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse