Liefde sal Oorwin
Grace Ann Hopkins
In ons wêreld vandag word die waarheid ontken en onderdruk. Vir die hoofstroom van die beskawing is daar nie iets soos absolute waarheid nie en diegene wat daardie waarheid volhou, word gesien as veroordelend en nie welwillend nie. As gevolg hiervan ly baie gelowiges oor die wêreld vir hul geloof. Die huidige kulturele klimaat verskil nie veel met hoe dit was in Nehemia se tyd nie. Vir Nehemia moes dit baie moeilik gewees het om te midde van die bespotting en tergery van die buitewêreld, voort te gaan met die werk wat die Here hom beveel het om te doen.
Wanneer ek dink aan Nehemia se verhaal en die wêreld vandag, vind ek dat net twee keuses bestaan: ons kan konformeer aan die kultuur of ons kan afgesonder wees in Christus. ‘n Vraag wat ek myself afvra is: Hoe kan ons die moed vind om afgesonderd vir die Here te leef en in gehoorsaamheid aan Hom te wandel, net soos Nehemia gedoen het?
Moeilike situasies kan ons noop om op onsself te fokus en om deur die wêreld aanvaar te wil word, of dit kan ons beweeg na groter oorgawe, vertroue en geloof in God. Dit kan ons lei om op ons eie krag staat te maak, of om beheer oor te gee aan die magtige Gees van God, wat ons die moed gee om voort te gaan om gehoorsaam te wees. Het jy al oorweeg dat die situasie wat nou onmoontlik lyk om te navigeer, ‘n geleentheid kan wees vir God om sy naam groot te maak deur jou geloof? Dit is waar dat, in ons swakheid, word God verheerlik, want Hy begeer om sy naam geken en verheerlik te maak deur dit alles.
Ek neem te veel kere dinge in my eie hande en maak op my eie krag staat. Te veel kere soek ek my eie belang. Te veel kere vul ek my lewe met “besig wees” om my gedagtes weg te lei van die ewigheidswerk waartoe God my hart roep—gebed en bediening tot die hart van God en om ander met ‘n suiwer hart lief te hê. Ek wil my stywe greep loslaat en dat God my die weg wys wat ek moet gaan, sodat Hy kan doen wat net Hy kan doen. Vriendin, God roep ons tot meer en Nehemia se verhaal moedig ons aan om ons lewens aan God toe te vertrou en te glo dat Hy vir ons sal voorsien en ‘n weg vir ons sal maak te midde van probleme.
Ek kyk na die voorbeeld van Jesus, want ons is nie geroep om soos mekaar te lyk nie, maar om Christus na te volg en die pad van liefde te loop. 1 Johannes 3:13-14 vertel ons duidelik dat nie almal hier op aarde van ons gaan hou nie; om die waarheid te sê, sommige sal ons verag omdat ons in die waarheid van Christus glo. Maar as gelowiges ken ons die liefde wat red, want ons getuienisse is weerspieëlend van diegene wat van die dood na die lewe gegaan het. In Christus ken ons vrede en hoop en ‘n doel. Wanneer ons opposisie van enige aard ervaar, kan ons onsself toevertrou aan die Een wat regverdig oordeel. Jesus het sy lewe vir ons opgeoffer, want Hy is ons Helper en ons Verlosser (1 Petrus 2:23, Psalm 54:3). Alhoewel ons leef in ‘n wêreld wat deur die bose geregeer word, dien ons ‘n God wat oor alles is; Hy is die lig wat in die duisternis skyn en die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Johannes 1:5).
Ek dank God vir sy Woord, want daardeur ontvang ons bemoediging, krag en hoop. Ons het ware aantekeninge van hoe God getrou was aan sy mense—getrou om hulle te ondersteun en te red. Ons het gelees hoe God vir Jesus gestuur het om alle mense van die loon van sonde te red as hulle hul geloof in Hom plaas. Ons God is gister, vandag en vir ewig dieselfde, so ons kan versterk word wanneer ons onthou wat God vir die mensdom en in ons eie lewens gedoen het. Ons weet dat Hy deur alle generasies aan sy mense getrou was en Hy sal nie nou ophou nie.
Wanneer angs en vrees begin om nader te kruip en probeer om Christus se regmatige plek op die troon van my hart in te neem, gaan ek terug na Matteus 6:32-33 en oordink ek hierdie verse. Jesus sê dat ons die Koninkryk van God bo enige iets anders moet soek en ons moet vertrou dat die Here alles sal voorsien wat ons nodig het. In plaas daarvan om bekommerd te wees of my basiese behoeftes bevredig word en om te veg om dinge in my eie krag te laat gebeur, kan ek vertrou dat God my sien, my ken, my liefhet en vir my sal voorsien. Ons het dus ‘n keuse om te maak. Sal ons Hom vertrou? Sal ons glo dat enige iets moontlik is met Hom?
Vriendin, God is met jou en Hy is op enige tyd van die dag beskikbaar vir jou. Ek moedig jou aan sterk te wees en goeie moed te hou terwyl jy vir die Here wag; kry nuwe krag (Psalm 27:14, Jesaja 40:31). Die Here jou God is by jou en Hy sal jou red (Sefanja 3:17). Wat ookal die situasie is waarin jy jou bevind, God is almagtig.
Week 2 Uitdaging:
Die mense van Jerusalem het teenstand ondervind terwyl hulle besig was om die muur te herbou. Wat kan jy doen om jouself te beskerm teen die aanvalle van die vyand? Dit kan beteken dat jy jou interaksie met sekere mense, die mendia of selfs sekere soorte kos beperk. Vra God om vir jou maniere te wys om jouself, jou gesin en jou roeping teen die aanvalle van die vyand te beskerm
Week 2 Leesplan:
Week 2 Memoriseervers: