Liefde Oorwin

Liefde Oorwin

Deur Crystal / 11 November 2020 / Jesus, Ons Alles

Ek het aan ons kombuistafel gesit terwyl gesprekke rondom my plaasvind. Daar was leë pizzabokse, klewerige roomysbakkies, speletjies wat wag om gespeel te word, maar wat my aandag getrek het, was die sagte stemme van die drie neefs wat ek in ons sitkamer kon sien. Ek kon aan die voorkoms van hul gesigte sien dat daar iets is waaroor hulle nie saamstem nie – dalk was dit wie se beurt dit volgende was op die mini-trampolien, of watter videospeletjie om te speel. Ek het agteroor gesit en wag dat een van hulle na my toe aangehardloop sou kom vir my om te besluit wie reg is, maar die geskree en gehuil het nooit gekom nie.

In hul frustrasie en meningsverskil was dit liefde en kompromie wat gewen het.

Vir ‘n vyf-, agt- en tienjarige om moeilike besluite te kan neem en verdeeldheid vermy, het my soveel hoop gegee in ‘n wêreld wat voel asof dit uitmekaar skeur. Hulle het my daaraan herinner dat ons nie altyd ons sin kan kry nie, maar dat ons steeds mekaar kan liefhê. Ons kan van mekaar verskil en steeds deernis hê. Ons kan dit wat óns verkies ‘n bietjie op die agtergrond sit  om ruimte te skep vir ander om by ons aan te sluit.

My dogter en haar neefs weet dat hulle tyd om saam te speel, beperk is en daarom het hulle vrede gekies. Die wêreld is nie ons tuiste nie, en ons tyd hier is nie gewaarborg nie – so waarom veg ons vir enigiets anders as eenheid en vrede en gemeenskap met mekaar?

In ons skrifgedeelte vandag, kom die skrywer van Hebreërs in hoofstuk 11 uit met sy lys van ongelooflike geloofsfigure. Noudat ons voorbeelde gekry het van mense om na te volg terwyl ons onsself daartoe verbind om dieper in ons geloof te delf, is die volgende stap om volledig terug te draai na God toe. Die lesers van hierdie Bybelboek het stadig van hul geloof af weggedraai, tevrede om op die oppervlak te leef. Hierdie hoofstuk in Hebreërs moedig gelowiges aan om gedissiplineerd te wees, heiligheid na te streef en in vrede binne hul Christen- gemeenskap te leef.

Net soos Hebreërs 11 vir ons voorbeelde van getroue mans en vroue gegee het, gebruik die skrywer van Hebreërs die voorbeeld van Esau in vandag se hoofstuk om die gevolge van die verwerping van God en die gebrek aan ware berou te toon. Die Layman’s Nuwe Testament Bybel Kommentaar sê: “Esau het dwaas sy toekomstige erfenis verruil vir die onmiddellike bevrediging van sy honger. Net so was die eerste-eeuse gelowiges bereid om die belofte wat hulle gehad het, te verruil vir die maklik beskikbare plesier van die wêreld.”

Die muur-van-geloof mans en vroue van Hebreërs 11 het geglo in God se beloftes en sy trou, alhoewel hulle nooit die vervulling van die beloftes gesien het nie. Esau het besluit om die saak in eie hande te neem en ‘n aardse erfenis op te eis, wat hom beroof het van die seëninge wat God vir sy kinders gehad het. Ons kan veg vir die tydelike dinge van hierdie wêreld, of ons kan heiligheid, vrede en die ewige koninkryk van God soek.

Mag ons te midde van die geraas en chaos, vrede kies. Mag ons kies om mense te prioritiseer bo ons persoonlike voorkeure. Mag ons lewens voorbeelde wees van liefde wat eenheid, dankbaarheid, aanbidding en toewyding aan God aanmoedig. Mag ons God heelhartig liefhê.

Crystal

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse