Leef goed

Leef goed

Katie Shott

Ek wonder, geniet jy ook ‘n interessante televisie dramareeks soos ek? Die spanning bou op wanneer die skrywer ‘n oënskynlik irrelevante stukkie detail, wat maklik ongesiens kan verbygaan, inglip wat eintlik die sleutel tot die hele sage blyk te wees!

Ons vind dit aan die begin van vandag se skrifgedeelte, wanneer Johannes iets noem wat, op die oog af, onbeduidend klink, “Maar hy moes deur Samaria gaan” (Johannes 4:4).

Hierdie is nie bloot ‘n stukkie geografiese inligting oor Jesus se reis nie, want die Jode sou tradisioneel eerder ‘n ompad neem om hierdie gebied heeltemal te vermy, omdat hulle in vyandskap met die Samaritane geleef het! Johannes is besig om ‘n milieu te skep vir ‘n merkwaardige ontmoeting wat plaasgevind het, omdat Jesus ‘n goddelike afspraak in Samaria gehad het wat sou lei tot ‘n lewe-gewende aanbod en verstommende openbaring!

Jesus het by die fontein van Jakob in die Samaritaanse dorp Sigar gaan sit, omdat “Hy moeg was van die reis” (Johannes 4:6). Johannes beklemtoon Jesus se menswees hier: volkome God, maar tog volkome mens. Ons sal Jesus se goddelikheid ervaar in die gesprek wat Hy met die Samaritaanse vrou het.

Kom ons let op ‘n paar dinge oor hierdie liewe vrou wie se naam ons nie vertel word nie. Sy het na die put gekom in die middag. Dit was gebruiklik om vroeg in die oggend of teen skemer water te kom haal, nie in die hitte van die middagson nie. Dit blyk te wys dat sy ‘n sosiale uitgeworpene was, selfs binne haar eie gemeenskap gemarginaliseer.

Moenie die feit mis dat dit baie ongewoon was vir Jesus om ‘n gesprek met haar aan te knoop nie.

Jesus het uitgereik na haar en alle rasse-, kulturele-, geslags- en morele hekkies oorkom.

Deur te vra vir ‘n bietjie water om te drink, het Jesus ‘n geleentheid geskep wat rondom twee dinge gesentreer was; haar behoefte en Jesus se identiteit.

Hou jy ook van hoe Jesus haar situasie direk aangespreek het, wetende dat net Hy haar diepste geestelike dors kon les, en dat Hy vir haar lewende water kon aanbied wat in haar ‘n fontein sou wees wat opborrel en vir haar die ewige lewe gee? Hy ontbloot haar sonde sagkens — daar is geen veroordeling, geen naamskending, skuldgevoelens of skaamte nie (dit is die vyand se taktiek). Jesus het die waarheid uitgeleef wat Hy in Johannes 3:17 verklaar het:

“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Met deernis en oortuiging, wat sy alwetendheid openbaar het, het Jesus gewys dat Hy elke detail van hierdie vrou se lewe ken. Daarna het Hy aan haar geopenbaar dat Hy die Messias is! Hy is die einste Een wat sy nodig gehad het midde in die gemors van al haar verhoudings, foute, eensaamheid en hartseer! Toe haar oë oopgaan en sy skielik herken wie Jesus is, het sy haar waterkruik net daar gelaat en gehardloop om vir ander te sê om die Messias te kom sien!

Dit is interessant om daarop te let dat die vrou nie ‘n oomblik geneem het om stil te word en te dink, “Ag, ek kan nie vir ander van Jesus vertel nie, hulle sal nooit na my luister nie as gevolg van my verlede; Ek word nie eers aanvaar deur my eie mense nie, hulle sal my nie glo nie.” Nee, skaamte en vrees het haar nie teruggehou nie, maar in plaas daarvan het die blote vreugde van hierdie lewensveranderende ontmoeting en verrassende openbaring haar genoop om hierdie wonderlike nuus te deel!

Johannes maak melding daarvan dat baie Samaritane na Jesus gekom het as gevolg van hierdie vrou se getuienis en dat hulle ook geglo het, die lewende water ontvang het wat tot die ewige lewe lei, en erken het dat Jesus “waarlik die Verlosser van die wêreld is” (Johannes 4:42).

Jesus het gekom vir almal wat Hom sou ontvang! Heel moontlik was hierdie merkwaardige gebeurtenis in Johannes se gedagtes toe hy later geskryf het: “En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.” (1 Johannes 4:14).

Kom ons neem ‘n oomblik om na te dink oor die vrou in ons drama vandag. Miskien kon min van ons baie of enige ooreenkomste tussen onsself en haar lewe en omstandighede vind. Maar kom ons kyk vir ‘n oomblik ‘n bietjie dieper in ons eie harte in.

Die Samaritaanse vrou het ‘n sielsdors gehad en het na bevrediging gesoek.

Vind ons onsself ooit dat ons streef na tevredenheid, genoegdoening, aanvaarding in…

● Verhoudings?

● Loopbane?

● Familie?

● Finansiële sekuriteit?

● Materiële besittings?

● Uiterlike voorkoms?

Natuurlik is nie een van hierdie dinge op sigself sleg nie. Ons weet dat ons goeie Vader ons alles ryklik gee om te geniet; maar wanneer die tydelike, aardse dinge, die mense, plekke en situasies word waarna ons smag as bronne van bevrediging, dit is wanneer dit ‘n probleem word. Ons raak geestelik ontwater en verlang na meer.

Ons neem dit ter harte wanneer ons die klaaglied lees van die Psalmdigter wat ver van die huis af, worstelend met depressie, oorweldig en onderdruk voel, in Psalm 42 uitroep: “My siel dors na God, na die lewende God.”

Net Jesus kan volkome en ewig bevredig, ten spyte van ons huidige omstandighede. Hy bied ons Homself en in geen geringe mate nie. Dit is nie ‘n straaltjie water wat Jesus bied nie, maar ‘n fontein, lewe in oorvloed. Hy wil hê ons moet goed lewe.

Ons Vader het ons gemaak vir Homself en sy koninkryk. Slegs in Hom kan ons aanvaarding, vergifnis, ware seën, vervulling en sekuriteit vind vir alle ewigheid.

Ons reaksie moet dan tog dié van die Samaritaanse vrou wees. Ons sit ons ‘waterkruik’ neer – ons bron van tydelike bevrediging waardeur ons poog om ons eie begeertes in enigiets anders as Jesus self te vervul. En met ‘n nuwe besef, dankbaarheid, verbasing en vreugde oor wie Jesus is en alles wat Hy vir ons gedoen het, reik ons met oorvloedige harte uit na ‘n dorstige wêreld – na diegene wat ons liefhet, saam met wie ons leef en werk, en dwing hulle om die Verlosser van die wêreld “te kom sien” en die ewige lewe wat net Hy kan gee, te vind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse