Kies Die Lewe

Kies Die Lewe

Katie Shott

Kan ek jou ‘n vraag vra? Is jy besluiteloos? Is jy huiwerig om keuses te maak? Dalk is jy soos my vriendin vir wie die restaurantspyskaart ‘n foltering is omdat sy net nie kan kies nie, en wanneer ons gaan inkopies doen, kom sy met leë hande tuis omdat sy nie kan besluit nie. Ek, daarenteen, is heeltemal die teenoorgestelde. Selfs as jong kind het my ma my al aan ander beskryf as “iemand wat weet wat sy wil hê”. (Dit was nie noodwendig ‘n goeie ding nie en het beslis my arme geduldige ma voor ouerskapuitdagings te staan gebring!)

Elke dag maak ons keuses en besluite; sommige onbewustelik, sommige is onbeduidend, en sommige is uiteindelik lewensveranderend.  Miskien is die uitwerking op ons van ‘n keuse wat iemand anders gemaak het uitdagend of hartverskeurend, en in ‘n oogwink is die landskap van ons lewe verander in iets heel anders as wat ons ooit sou kies of selfs vir ons sou kon indink.   

Met die lees van Genesis 29, kan ons maar net raai dat Lea nie sou gekies het om tweede viool te speel, ongeliefd te voel, en ‘n man te hê wat haar nie as sy vrou wou hê nie. Ek wil geensins Lea se lyding ligtelik afmaak en suggereer dat, omdat God saam met haar daarin was, dit alles reg gemaak het nie.

God was baie beslis met Lea, maar ek en jy weet dat daar tye in ons lewens is wanneer die pyn van die omstandighede waardeur ons moet gaan, ‘n baie teenwoordige werklikheid is, selfs mét die versekering van God se teenwoordigheid by ons. Daar is tye wanneer die lewe onregverdig lyk, wanneer die las te groot is, wanneer ons beproewings vir ons te swaar raak en dit lyk asof ons gebede onbeantwoord bly. Dit is wanneer ons ‘n keuse het. Ons kan moed opgee en tou opgooi, of ons kan kies om aan God en sy beloftes vas te hou. Ons kan Hom vra om ons in tye van beproewing en hartseer ‘n ander perspektief te help kry.     

Kom ons kyk wat Lea in haar swaarkry van God geleer het. Die name wat Lea vir haar eerste  twee seuns gegee het, sê vir ons dat sy geweet het God slaan ag op haar situasie en dat Hy die smekinge van haar hart gesien en gehoor het (Genesis 29:32-33). Die wete dat God haar nie vergeet het nie, dat Hy altyddeur met liefde en deernis na sy kinders kyk, moes vir Lea ‘n groot hulp en versekering gewees het.

Liewe vriendin, het ons self vandag daardie liefdevolle herinnering nodig? Ongeag wat ons deurmaak, God weet. God sien. God hoor.

Toe haar vierde seun gebore is, het Lea verklaar dat sy die Here gaan loof! Al het haar situasie nie eintlik verander nie, het Lea die moeilike keuse gemaak en geloof aan die dag gelê. Sy het God vertrou ten spyte van haar omstandighede en Hom geprys vir wie Hy is. 

In Kolossense 3:1-3 spoor Paulus ook die gelowiges in Kolosse aan om ‘n hemelse perspektief te kies. Watter lesse kan ons saam uit sy onderrig leer? 

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (my beklemtoning).

Paulus moedig ons aan om te “strewe na die dinge daarbo”. Ons moet kies om op te kyk en aktief Christus se koninkryk na te jaag, sy gesag en heerskappy in ons lewens te begeer, en ons oë op Jesus, ons opgestane, seëvierende en verhewe koning gevestig te hou. Ons moet ook ons gedagtes bly rig op die dinge daarbo deur te kies om God se Woord, sy groot en kosbare beloftes vir ons te lees en te glo, en ons harte en gedagtes met sy waarheid te vul. Dit is die onwankelbare fondament vir enige omstandigheid waarin ons ons ook al bevind.

Paulus sê ook vir ons dat ons gesterf het en ons lewens saam met Christus in God verborge is – watter wonderlike herinnering aan ons identiteit en sekuriteit! As ons vertrou dat Christus ons Verlosser en Here is, het ons nuwe lewe, die ewige lewe, in Hom. Die verlede het nie meer ‘n houvas op ons nie, ons sonde is bedek deur Jesus se bloed, en die lewe wat ons nou het, is in die Seun van God wat ons liefhet en Homself vir ons gegee het. Ons lewens is dus saamgevoeg, verweef met Christus, saam met ons Hemelse Vader, en ons het ‘n band wat niemand kan breek en waarvan niks ons kan skei nie. Ons is Syne en Hy sal ons nooit los nie.   

As jy in die verlede slegte of dom keuses gemaak het, weet vandag met sekerheid dat jy sy reiniging en vergifnis, en elke oggend nuwe ontferming en sy verlossende genade kan vra.

As jou lewe en hart deur keuses, dalk iemand anders s’n, gebreek is, mag jy God se nabyheid  ervaar. Daar is niks wat Hy nie gesien en gehoor het nie; Hy is die God wat herstel en genees, wat self die lig in ons duisternis is. Mag jy die onverbreekbare liefde van Jesus, die Man van Smarte wat saam met jou deur hierdie vallei stap, beleef.

As jy nog nie heelhartig gekies het om jou lewe te gee aan die Een wat Homself vir jou gegee het nie, of miskien ‘n ruk lank gekies het om jou eie pad te stap, bid ek dat jy vandag sal kies om eers sy koninkryk te soek en Hom toe te laat om jou Verlosser en Here te wees. Kies om Hom met jou hele hart en verstand en al jou krag lief te hê en die goeie planne en doelwitte wat Hy vir jou het, uit te leef.

Moses het geweet, toe die Israeliete op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan, dat alhoewel daar baie seën voorgelê het, daar ook gevegte die hoof gebied en moeilike besluite gemaak sou moes word; met tye sou hulle ongehoorsaam wees en wegdwaal en daarom het Hy God se volk bemoedig en aangespoor met hierdie vermaning in Deuteronomium 30:19b-20a. Ek sluit nou af met hierdie woorde as my gebed vir elkeen van ons vandag en elke dag:

“Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.”

Amen!

Week 2 Uitdaging:

Skryf hierdie week die belangrikste gebeurtenisse van Jakob se lewe neer. Gebeur hierdie dinge as gevolg van Jakob se planne of God se verlossing? Hoe beїnvloed Jakob se manipulasie of ongeduld elke uitkoms? Neem tyd om na te dink oor die maniere waarop jy probeer om God te “help” om sy doel te bereik.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse