In Verwondering Oor Immanuel

In Verwondering Oor Immanuel

Deur Julie / 15 Desember 2020 / Ewige Verbond

Kersfees is ‘n vreemde tyd van die jaar, dikwels vol van uiteenlopende emosies. Soveel is pragtig en vol hoop, veral vir gelowiges. Dit kan egter ‘n tyd wees wanneer ons die pyn van die verlies van geliefdes nog meer ervaar, of ons kan ontnugter voel omdat ons hoop en drome vir die jaar nie uitgewerk het nie. 2020 was ‘n moeilike jaar vir baie van ons en definitief baie anders as wat ons beplan het. In vandag se Skrifgedeelte is Maria se toekomsplanne verander, maar haar bereidwilligheid om God te vertrou het haar hele lewe in ‘n rigting gestuur wat sy nooit verwag het nie.

In Lukas 1 maak die engel Gabriël sy tweede swangerskap-aankondiging, hierdie keer aan Maria. Sy het van Galilea in Nasaret gekom en was verloof aan ‘n man met die naam Josef. Maria was waarskynlik ‘n tiener en besig met haar alledaagse lewe, toe ‘n engel skielik verskyn en sê: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Soos te verstane was Maria ontsteld en bang. Die bekendheid van hierdie verhaal laat ‘n mens soms miskyk watter geweldige skok dit moes gewees het. Gabriël het haar gerusgestel om nie bang te wees nie, haar op haar naam genoem en herhaal dat God genade aan haar bewys.

Maria is meegedeel dat sy sou swanger word met ‘n seun en dat sy Hom Jesus moes noem. Die Hebreeuse vorm van die naam is Josua – wat “Jahweh verlos” beteken. Hierdie betekenis is belangrik; net soos Josua God se volk die Beloofde Land ingelei het, sou Jesus sy mense van hulle sondes verlos (Matteus 1:21) en sy mense na hulle ewige beloofde land van die nuwe skepping lei.

Gabriël het ook vir Maria gesê Jesus sou:

  • Groot wees. ‘n Interessante ooreenkoms hier met die aankondiging van Johannes se geboorte, is dat Gabriël gesê het Johannes sou “groot wees in die oë van die Here” (Lukas 1:15) terwyl Jesus net as groot beskryf word. Daar hoef niks tot sy grootheid toegevoeg te word nie. Hy is groot. Hy is God. Johannes is ‘n profeet, Jesus is die Here.
  • Die Seun van die Allerhoogste wees. In die eerste eeu het Jode uit eerbied “Allerhoogste” gebruik om die gebruik van God se naam te vermy. Maar om alle twyfel uit die weg te ruim, beskryf Gabriël Jesus as die Seun van God.
  • Koning wees. Jesus is uit die geslag van Dawid en sal vir ewig heers oor die huis van Jakob, God se volk!
  • Heilig wees. Afgesonder.

Al hierdie beskrywings was om vir Maria (en ons) in te lig dat haar seun die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë was. Hy is die Beloofde Redder. Die Messias kom. Jesus sal sy mense verlos. Dit is werklik wonderlike nuus!

Ek hou daarvan dat Maria ‘n praktiese vraag vra: hoe is dit moontlik as ek nog nooit met ‘n man intiem was nie? Sy besef dat daar ‘n onmiddellikheid in sy woorde is, hy het nie gesê dat sy eers gaan trou en dan swanger word nie. Die antwoord wat sy kry is dat die heerlikheid van die Here dit sou bewerkstellig. Dit weerspieël Jesus se aard; Hy is volledig God en volledig mens.

Die feit dat Elisabet, Maria se familielid, wat as te oud en onvrugbaar beskou was, reeds ses maande swanger was, het gehelp om Maria te oortuig dat dit moontlik is! Die engel het met die verklaring afgesluit: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

Hoe sou jy op sulke nuus gereageer het? Jy is jonk, verloof, en jou reputasie is op die spel! As ek Maria was, sou ek nog ‘n paar versekerings gevra het. In plaas daarvan antwoord Maria: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Wat ‘n verstommende antwoord. Haar hele wêreld is omgekeer, al haar toekomsplanne was in gedrang. Al het sy getwyfel, het sy Jesus se woorde wat Hy in die Onse Vader gebed vir sy dissipels geleer het, gereflekteer: “Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied” (Matteus 6:10).

Maria kon met soveel getrouheid reageer vanweë die Een in wie sy geglo het. Sy het God geken. Sy het geweet Hy is getrou, goed, betroubaar, waar, magtig, bekwaam, liefdevol, barmhartig en genadig. Maria het guns in God se oë gevind, nie omdat sy volmaak was nie, maar omdat sy bereid was om vir sy planne en doeleindes gebruik te word. Sy het vertrou dat God se planne beter as haar eie was. Hoe gewillig is jy om gehoorsaam te wees as Hy jou planne onderbreek? Hoe gewillig is jy om Hom te vertrou?

Dit was nie altyd vir Maria maklik nie. Baie goeie dinge het gebeur, soos die herders se vertelling van die engelekoor toe Jesus gebore is, die wyse manne wat gekom het om Jesus te aanbid, en om Jesus se eerse wonderwerk te aanskou. Daar was egter ook baie pynlike en moeilike oomblikke, soos toe hulle na Egipte moes vlug, om te sien hoe Jesus in sy tuisdorp misken word, en die ergste van alles, om toe te kyk hoe Jesus so ‘n verskriklike kruisdood moes sterf.

Dis nie altyd maklik om gehoorsaam te wees nie; trouens, dis dikwels die moeilikste roete. Wat dit moontlik maak, is dat God by ons is! (Lees 2 Korintiërs 12:8-10). Maria was geseënd om Jesus fisies by haar te hê, terwyl ons geseënd is om die Heilige Gees by ons te hê. Is jy bereid om aan God gehoorsaam te wees, selfs wanneer dit die moeilikste pad is?

Mag ons almal hierdie Kersseisoen in verwondering wees oor Immanuel – God met ons – en dankbare, gewillige dienaars van ons wonderlike God wees.

Julie

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse