Hoe die Imago Dei Alles Verander

 

 

Ek weet nie van jou nie, maar die afgelope paar jare was moeilik. Hierdie wêreldwye pandemie, rassespanning en om te sien hoe verdeeld ons samelewing is oor feitlik elke kwessie, het my moeg en tam gelaat. Soos baie van julle, het ek vriende en familielede verloor as gevolg van hulle woedende standpunte, wat vir my ‘n grenslyn was. Ek het ook moeilike gesprekke gevoer met mense wat ek liefhet, wat ‘n heel ander uitkyk op die wêreld het as ek. Ek het die nuus aangeskakel en dan maar wanhopig net so vinnig weer afgeskakel.

En tog, wanneer ons na hierdie week se Skrifgedeelte kyk, het ek soveel hoop. Die Bybel bied iets beters vorentoe want in Genesis sien ons die grondslag vir Christelike eenheid en broederliefde (en susterliefde!)

God het die hemel geskep, en Hy het die aarde geskep. Hy het die diere en die sterre en die son gemaak. Hy het die aarde gevorm en oseane en seë uitgekerf. Sy mees geliefde skeppingswerk, al een met sy beeld op sy wese afgedruk, is die mens. Van die begin af is die mens bo die res van die skepping verhef en ‘n spesiale plek aan toegeken, want die een ding wat ons van al God se ander skeppingswerke onderskei, is Imago Dei (na die beeld van God gemaak).

“God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep” (Genesis 1:27) Maar nie net dit nie, toe God kyk na alles wat Hy gemaak het, het Hy gesê dat dit goed is (Genesis 1:31).

Deur die hele Skrif word dit aan ons gesê om God lief te hê en mekaar soos onsself lief te hê (Matteus 22:34-40), om mekaar met ons gawes te dien (1 Petrus 4:10), en om eensgesindheid onder mekaar na te streef (Filippense 2:1-11). Reeds in die eerste hoofstuk van die Bybel, die begin van ons oorsprongverhaal, word aan ons gesê waarom.

Waarom het ons mekaar lief en dien ons mekaar?

Want alle mense – ons almal – is volgens God se Beeld gemaak. Hierdie waarheid verander alles. Dit verander die manier waarop ons met ons naastes omgaan. Dit beïnvloed die manier hoe ons van daardie vriend of vriendin met ‘n ander siening praat. Dit laat ons met ander oë kyk na diegene wat anders as ons stem en aanbid en glo, want as gelowiges weet en erken ons dat God se beeld, imago dei, afgedruk is op elke mens wat hierdie aarde bewandel.

Dit vorm die grondslag waarom ons alle mense met agting, waardigheid en respek behandel. Dit is waarom ons mekaar met blydskap dien en ons vyande liefhet. Dit is die grondslag waarom ons geroep is om geduldig en verdraagsaam met mekaar te wees (Kolossense 3:12-14). Ons het lief en vergewe milddadig omdat Christus ons liefgehad en vergewe het. En ons sien ons “waarom” in Genesis 1, toe God almagtig ons volgens sy beeld gemaak en gesê het dat sy skepping goed is. Ons kies om wanneer ons ook al die kans kry, as beelddraers, deur die krag van die kruis, sy goedheid, sy heilige karakter te weerspieël.

Daarom wil ek vandag ‘n paar vrae en een taak aan jou oorlaat. Wie moet jy vandag liefhê, want God het alle mense volgens sy beeld gemaak en – soos die kinderliedjie sê – almal is kosbaar in sy oë? Wie moet jy vergewe? Vir wie moet jy tyd afstaan om voor te bid? Is daar mense in jou lewe wat jy as “ander” beskou terwyl hulle eintlik medebeelddraers is?

Ek wil jou vandag aanmoedig om oor daardie vrae na te dink en tyd te maak om die Skrif in Psalms 139, spesifiek verse 23-24, te bid. Vra God, net soos Dawid, om jou hart te ondersoek en sê: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”

Mag die God wat jou volgens sy beeld geskape het, jou toerus om sy lig en eenheid in ‘n donker wêreld te reflekteer.

Week 2 Uitdaging:

Neem hierdie week tyd om te dink wat dit beteken om as beeld van God geskep te wees. Is die beeld van God ‘n fisiese eienskap of ‘n ongesiene karakterkwaliteit? Wetende dat ons God se beeld elke oomblik in ons lewens weerspieël, hoe daag dit jou uit om anders te leef?

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse