Herinnering
Andrea Howey
Het jy al ooit vir ‘n dag weggegaan en dan, ‘n paar uur later, wonder jy paniekerig of jy onthou het om jou krultang uit te prop of seker gemaak het dat die stoofplaat of oond afgesit is? Ek onthou as kind toe ons gesin eenkeer in die pad geval het om by my oupa-hulle wat ‘n paar uur se ry van ons gebly het, te gaan kuier. Na so drie of vier ure kan my ouers skielik nie onthou of hulle die oond afgesit het voor ons gery het nie. Hulle wou nie die kans waag van ‘n moontlike ramp as gevolg van ‘n warm oond wat vir dae aangelos is nie, en besluit toe om my en my broers by ons oupa-hulle af te laai. Na die vier uur lange terugrit huis toe stel hulle vas dat die oond (gelukkig) toe nie aangelos was nie.
Klaarblyklik is sulke soort situasies glad nie ongewoon vir mense nie, want ek het al op ‘n paar nuttige wenke afgekom om heeltemal seker te maak jy onthou al die regte goed voordat jy die huis verlaat. Hier is een van daardie nuttige wenke: voordat jy jou huis verlaat, neem ‘n foto van jou uitgepropte krultang of van oondknoppe wat duidelik afgedraai is – of wat jy ook al geneig is om te vergeet – en as jy dan later op jou reis wonder of jy dubbeld seker gemaak het van ‘n toestel of verstelling, kan jy weer na die foto gaan kyk wat jy geneem het om te bewys dat jy dit wel gedoen het.
Dit is interessant hoe so ‘n eenvoudige fisiese geheueleidraad ons kan help onthou wat reeds afgehandel is sodat ons gemoedsrus kan hê en met sekerheid kan aanbeweeg.
Dit is dalk ‘n eenvoudige voorbeeld, maar dit laat my dink hoe kragtig dit is dat Jesus vir ons ‘n tasbare bewys gelaat het – die nagmaal – waardeur ons herinner word aan die kragtige werk wat Jesus verrig het toe Hy na die kruis toe is.
Die nag voor Jesus se kruisiging het Hy saam met sy dissipels geëet. Toe Hy die brood breek en die beker met hulle deel, het Hy ‘n ongelooflik kragtige beeld gedemonstreer van die nuwe verbond wat Hy besig was om te maak. In daardie oomblikke toe Hy saam met sy dissipels die nagmaal gebruik het, het Jesus vir ons ‘n herinnering gelaat dat ons altyd kon teruggaan en onthou elke keer dat ons na daardie elemente kyk. Jesus het ‘n fisiese handeling as voorbeeld gebruik om die offer wat Hy vir ons gemaak het, te illustreer. Wanneer ons die brood neem en breek, onthou ons dat ons heel gemaak is omdat sy liggaam vir ons gebreek is. Wanneer ons die beker neem en drink, onthou ons dat ons vergifnis van ons sonde gekry het omdat sy bloed vergiet is.
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Gebruik dit tot my gedagtenis.” Hy het ons herinner dat ons hierdie wonderlike instelling so dikwels as wat nodig is kan gebruik. En elke keer dat ons dit gebruik, word dit ‘n gedagtenisvolle oomblik. Gedagtenis beteken bloot “die handeling om te onthou”.
Wanneer laas het ons doelbewus tyd gemaak om aan die nagmaal deel te neem as ‘n herinneringsdaad? Dit is nie net ‘n godsdienstige handeling wat ons af en toe met ‘n kerkdiens beleef nie. Dit is ‘n pragtige en kragtige beeld van wat Jesus vir ons gedoen het. Hierdie handeling van die nagmaal, van die brood wat gebreek en die beker wat gedrink word, was bedoel om ‘n herinnering te wees waaraan ons as gelowiges vrylik en kragtig kan deelneem. En ons word aangemoedig om dit te doen tot die dag van sy wederkoms (1 Korintiërs 11:26) om die voltooide werk van sy offer te onthou, hoe sy liggaam vir ons gebreek en sy bloed vir ons gestort is.
Hy wou hê dit moet vars in ons gedagtes bly, dat ons dit nooit sal vergeet nie. Nagmaal is ‘n wonderlike herinnering van wat Jesus alreeds volbring het. Indien ons ooit onseker is oor waar ons met God staan, indien ons ooit wonder of ons gesien en waardeer word of geliefd is, as ons ooit vergeet presies hoe kragtig die bloed van Jesus is en dat dit sy bloed was wat ons van alle sonde gereinig het, moet ons net die brood eet en die beker drink en dan sal ons herinner word aan die voltooide werk wat hy gedoen het. Ons kan opnuut herinner word om met vertroue in die waarheid en oorwinning te bly van wat Jesus aan die kruis gedoen het. Ek wil nooit geringag of vergeet wat die krag van wat Jesus vir my gedoen het verteenwordig nie.
Elke keer wanneer ons hierdie nagmaal met Hom ontvang, tot die dag van sy wederkoms, is dit ‘n herinnering wat voortdurend ons geloof sal versterk as ons die waarheid en die belofte van alles wat Jesus vir ons opgeoffer het, onthou, daaroor nadink, glo en verkondig.