Groot Planne

Groot Planne

Nog voor my eerste asemteug was my lewe al in die moeilikheid. Die meeste babas kom skreeuend in die wêreld, ek het stil my opwagting gemaak. Na ‘n uitmergelende urelange kraamproses en ‘n vertikale noodkeisersnit in ‘n afgeleë militêre hospitaal, was my ma oombliklik bekommerd oor die stilte. Die bevalling was nie vir een van ons maklik nie. As gevolg daarvan het albei my longe platgeval terwyl sy desperaat aan my geboorte probeer gee het. Hartseer was die eerste reaksie op my aankoms, maar God het Hom nie deur die erns van die situasie laat afskrik nie. In plaas daarvan het Hy daardie dag ‘n dokter en ‘n paar verpleegsters gebruik om my lewe te red en my te help asemhaal. Dit was nie die laaste keer dat God ander sou gebruik om my weer te help asemhaal nie.

Wanneer ek Efesiërs 2:10 lees, dink ek soms aan my moeilike aankoms in hierdie wêreld en wonder of Satan bewus was van God se planne vir my lewe. Wou hy die werk wat God deur my sou doen, probeer stuit? Ek weet nie verseker nie, maar ek is verheug om te weet dat God voor my eerste asemteug al daar was en nie sou toelaat sy planne vir my lewe in die wiele gery word nie.

God het nie net voor my uit gegaan nie, maar wat ek deur die jare heen gesien het, is hoe Hy my ook toegerus het waarvoor Hy my geroep het om te doen. Ons weet uit Efesiërs 2:8-9 dat ons verlossing net uit genade is en nie deur ons dade nie sodat ons nie kan grootpraat nie. Verlossing is ‘n gratis geskenk en nie ‘n onderhandelingsvergoeding vir ons diens aan God nie. Die besef dat God voor my uit gegaan, en my toegerus het met die regte persoonlikheid, gawes en passies om ongelooflike werk vir Hom te doen, maak my opgewonde, maar terselfdertyd ook nederig.  

Omdat ek verstaan dat God voor my uit gegaan het om vooraf hierdie goeie werke in my lewe voor te berei en my daarvoor toe te rus, help my om te midde van my stryd sterker te staan en miskien ‘n bietjie moediger te wees. Weet verseker, God ken ons toekoms en Hy weet presies wat ons nodig het vir die dae wat voorlê.  

Vertrou God op dié dae wat jy nie verstaan wat aangaan nie. Vertrou Hom wanneer angs jou hart beetpak as jy aan die toekoms dink. Dink terug aan wat jy van God se karakter weet en

vertrou op die waarheid van wie Hy is. Jy is nie alleen nie. God het jou spesifiek vir hierdie dag, hierdie spesifieke tyd in die geskiedenis toegerus. Maak Hom jou anker en hou styf aan Hom vas. Jy is presies die vrou wat hy nou wil gebruik om sy koninkryk te bevorder. Hy het hierdie ongelooflike werk vooraf, vir hierdie presiese oomblik, voorberei en Hy het jou ruimskoots voorsien van presies wat jy nodig het vir jou aandeel in die wonderlike verlossingsverhaal wat Hy deur ons lewens skryf.  

Bly daarom in God se Woord, maak Jesus jou anker en stap in geloof vorentoe. Wanneer sommige gevegte so fel raak dat dit vir jou voel asof jy nie kan asem kry nie, sal God mense oor jou pad stuur, net soos vir my, om jou te help asemhaal. Moet nooit vergeet dat God jou liefdevol toegerus het vir die taak voor jou nie. Hy het jou gekies vir hierdie wonderlike goeie werk wat sy liefde en verlossing sal vertoon aan ’n wagtende wêreld wat Jesus so desperaat nodig het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse