Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

Jenna Rea

“Dit is volbring.” Hierdie is van die mees ysingwekkende en tegelykertyd hoopvolle woorde in die Bybel. Dit is moeilik om die trane te keer op hierdie tydstip in die verhaal. Hoe kon Jesus sterf? Wat het Hy bedoel met “dit is volbring”? In Johannes 13:1 staan daar: “Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.” Daardie uur het aangebreek ‘n paar hoofstukke later, terwyl Hy aan die kruis gehang het!

Stel jou vir ‘n oomblik voor dat dit jou eerste keer is dat jy hierdie verhaal in Johannes 18-19 lees. Jy het in Genesis begin lees en jy het geleer van hierdie God wat alle dinge gemaak het en waaroor Hy ook regeer. Hy het man en vrou na sy beeld geskep en ‘n pragtige verhouding met hulle gehad. Ongelukkig lees jy hoe hulle hul eie gang gegaan het en teen God se volmaakte plan en opdragte in opstand gekom het.

Van daardie oomblik af sien jy hoe die hele skepping uitmekaar val en gevul word met dood en vernietiging. Maar te midde van al die wanhoop sien jy hoe die Skepper-God beloof om alles wat gebreek is, te herstel. Hy doen dit deur Abraham, Moses, die Wet, die offerstelsel, profete, priesters en konings, maar almal faal. Daar is sekerlik iemand beter!

Na die ballingskap van God se volk, hulle terugkeer, en dan vierhonderd jaar van doodse stilte, word ‘n baba in ‘n krip gebore. Die een na wie al die mense en profesieë heen gewys het, is hier! Jesus, die beter Adam, die volmaakte profeet, priester en koning. Jy lees van sy bediening om siekes te genees en sondes te vergewe. Jy sien hoe Hy aanspraak daarop maak dat Hy God is en ook sy volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet. Dan skielik is Hy dood aan ‘n Romeinse kruis. Hoe kan dit goeie nuus wees?

Vir diegene wat Hom liefgehad en gevolg het, het dit glad nie na goeie nuus gelyk nie. Maar toe Jesus gesterf het, het Hy geweet van die volle omvang van die Vader se liefde en die reddingsplan wat vervul is. Al die profesieë wat gemaak is oor hierdie komende Verlosser het in vervulling gegaan. Soos belowe is in Genesis 3:15, is God se toorn teenoor sondaars ten volle bevredig. Satan is ontwapen deur die “Koning van die Jode”. Vergifnis en redding is beskikbaar vir almal wat in hierdie ware Verlosser, Jesus, glo.

In my wandel met die Here het ek gevind dat hierdie vers en al die implikasies wat dit vir my lewe inhou, moeiliker is om te begryp as wat ek dikwels graag wil erken. Ek vind myself besig om te arbei vir die verlossing wat ek reeds in Christus ontvang het. Terwyl Hy aan die kruis gehang het, het Jesus nie verkondig dat die werk half klaar was en dat ons die res moet verdien deur goeie werke en bietjie gebed nie. Nee! Hy verkondig “dit is volbring”! Die skuld is betaal! Sy volkome gehoorsame lewe en offerdood was genoeg om die aanklagte teen my weens my sonde te dek. In Jesaja 53:11 sê Jesus: “Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.”

Prys die Here dat, in die voltooide werk van Christus, almal wat glo, regverdig verklaar sal word. As jy soos ek is in jou stryd om hierdie waarheid te glo, laat Romeine 4:5 jou hart bemoedig: “… Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.” Aan God al die eer!

Glo jy dat die werk volbring is? Waar vind jy jouself besig om te werk vir die verlossing wat jy reeds ontvang het? Vra die Heilige Gees om jou te herinner aan die goeie nuus van die voltooide werk van Christus. Prys God dat Hy die werk namens jou voltooi het. Bid vir geleenthede om die hoop en vryheid wat hulle in Jesus kan hê met ander te deel.

Jenna

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse