God Kan Dit Alles Gebruik

 

God Kan Dit Alles Gebruik

Deur Angela | Oktober 10, 2019 | Ester

Die Here het alles gemaak met ‘n doel, ook die goddelose vir die dag van straf. Spreuke 16:4

Die Here het ALLE dinge vir ‘n doel gemaak: Sy goedheid en heerlikheid word geopenbaar deur ALLES wat Hy geskep het. Die Here het ALLE dinge met ‘n plan in gedagte gemaak. Dit is verbysterend om te dink dat die goddelose tot eer van God kan en sal gebruik word, want deur kwaad te straf sal God se geregtigheid vertoon word. Dit is kragtig om te besef dat goed en kwaad tot eer van God gebruik word. Alhoewel … en selfs al … is ALLE DINGE gemaak ten goede en vir God. Dit was nie genoeg om net te sê dat die Here alles vir homself gemaak het nie … dit is geskryf asof dit ons volgende vraag beantwoord selfs nog voordat ons dit gevra het. Ja, selfs die goddelose. Dit was duidelik belangrik om uit te klaar.

Ek kan nie glo dat ons oor minder as 90 dae ‘n hele dekade afsluit nie! Ek kan nie anders as om terug te dink oor die afgelope tien jaar nie, en as ek eerlik met jou moet wees, sal ek liewer net jaag na die Oujaarsaandpartytjie en die Nuwe Jaar inlui en aanhou vooruit kyk.

Om terug te kyk oor die afgelope tien jaar is moeilik vir my. En ek sal nie verbaas wees as dit ook vir jou moeilik is om terug te kyk nie.

Moeilik omdat daar soveel dood en duisternis was.

Dit is regtig ongelooflik. En die feit dat ek vandag nog sterk staan, is NET deur die genade en goedheid van God.

In 2010 het ek beide my pa en jonger suster binne ‘n kwessie van net ses maande verloor. In daardie selfde tyd het ek afskeid geneem van Nashville, Tennessee. Dit was van klein tyd reeds een van my drome om in Nashville te woon en my kreatiewe drome uit te leef, maar nadat ek ‘n paar uitbarstings gehad het [ek sal nie eers voorgee dat ek perfek is nie] het ek my oorgegee en my man na sy geboortedorp in Montana vergesel. Na my seun, Ezra Brave, se geboorte in 2012, het ek in 2014 ‘n vroeë miskraam gehad, en in 2015 is my moeder ‘n week voor Moedersdag oorlede. My reënboog en sonskyn het in die herfs van 2016 gekom met die geboorte van my dogter, Imogene Joy. Net toe ek so vol selfvertroue gedink het dat ek niks meer kon verloor nie, is ek onkant gevang en verpletter toe ek uitvind dat my man ontrou was aan my in ons amper 14-jare lange huwelik. Ek het hard geveg daardie herfs en winter van 2017 en 2018. Die koffiewinkel wat ons saam geopen het en wat ek daagliks vir 7 jaar bedryf het … is gesluit en verkoop. Om as enkelma gelaat te word met ‘n vyfjarige en eenjarige kind, in wat gevoel het soos die middel van nêrens Montana, met geen familie in die omgewing nie … was regtig die grootste teleurstelling van my lewe. Hoe dit ookal sy, slegs twee weke gelede het ek en my kinders uit die huis getrek wat ons nag ná nag herinner het aan ons hartverskeurende seisoen en ons het ingetrek in ‘n pragtige huis wat ons glo die Here vir ons gebou het … vir ‘n tyd soos hierdie. Die tydsberekening was perfek. Hy het en is sekerlik besig om hierdie situasie om te keer.

So hier is ek … ek kyk terug op ‘n dekade van smart op smart met ‘n paar pragtige pyle tussenin, maar wanneer ek my ‘20/20-bril’ aantrek [jy kan verseker weet ek sal een van daardie blinkertjie-brille aan hê op Nuwerjaarsdag] sien ek duidelik genade op genade en die goedheid van die Here in die land van die lewendes.

Perspektief is alles.

Om aan die Waarheid vas te klou, is wat ons deur hierdie moeilike dae dra en wat ons help om sin te maak van dinge wat nooit op ons eie vir ons sin sou maak nie. Ek moet daagliks vir myself preek. Dit is moeilik om in hierdie klein dorpie in Montana te wees en met mense om te gaan. Maar ek kies elke dag om te glo dat JA, SELFS die SLEGTE dae van dood, verlies en verraad sal nie die finale sê hê nie. Wraak kom ons nie toe nie. Die Here veg ons stryd vir ons. AMEN en AMEN!

In Ester 7:7-8 vind Haman sy weg tot die einde toe op dieselfde instrument wat hy vir die dood van Mordegai bedoel het, hy is gevang in sy eie val wat hy vir Mordegai laat maak het.

Die wapen teen jou kan gevorm word … maar dit sal nie voorspoedig wees nie.

Hou vas aan Jesus in daardie moeilike, donker oomblikke en besef dat God die mag het om altyd goed uit hartverskeurende situasies te bring.

Kelli Trontel

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse