God Kan Baie Doen Met Min

God Kan Baie Doen Met Min

Andrea Howey

Die verhaal van Jesus wat die vyfduisend voed, is ‘n alombekende wonderwerk van Jesus. Dit is ook die enigste wonderwerk van Jesus wat in al vier die Evangelies opgeteken is. Ons kan baie leer in hierdie gedeelte omtrent Jesus se aard en hart. Behalwe dat ons baie hieruit kan leer, is daar ‘n paar sleutelgedagtes wat vir my uitstaan terwyl ek lees.

Eerstens leer ons dat Jesus ons sien en empatie met ons het.

Nadat Jesus baie wonders gedoen en siekes genees het, het Hy saam met sy dissipels gaan sit. Toe Hy rondkyk, het Hy die skare mense gesien wat na Hom kom soek het. Hy kon, soos talle ander kere, die oomblik benut het om weer op te staan en die menigte te begin leer en vir hulle te preek, maar pleks daarvan het hy vir die dissipels ‘n vraag gevra.

Johannes 6:5 sê: “Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: ‘Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?’” Sy vraag aan sy dissipels op daardie oomblik gee vir ons insig dat Hy net soveel op die mense se fisieke as op hulle geestelike behoeftes ingestel was en gereageer het.

Ek wonder soms of ons dinge in die lewe kan oorvergeestelik. Ek wonder of ons nie soms voel ons fisieke, praktiese behoeftes is vir God minder belangrik as ons geestelike groei nie. Op hierdie oomblik wys Jesus vir sy dissipels (en vir ons) dat ons mees basiese, praktiese behoeftes nie net vir Hom saakmaak nie, maar dat Hy ook daarin wil voorsien. Sy oë is op ons, om diegene wat met hulle hele hart op Hom vertrou, te help (2 Kronieke 16:9).

Tweedens leer ons dat God baie kan doen met min.

Toe Jesus vra waar hulle brood kan gaan koop sodat al die mense kan eet, het die dissipels aan Hom teruggerapporteer: “Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (Johannes 6:9).

Wanneer jy voor ‘n skare van 5 000 mans (party geleerdes reken daar was 15 000 mense as jy die vroue en kinders bytel) te staan kom, lyk dit absurd om te dink ‘n handvol broodrolletjies en ‘n paar stukkies vis kan een persoon se honger stil, wat nog te sê van ‘n skare van daardie omvang! Dit was ‘n natuurlike reaksie om te wonder, “Wat gaan dit help as die behoefte rondom my soveel groter is?”

Maar dit is wat ek in hierdie wonderwerk ervaar: God kan baie doen met min. ‘n Bietjie word baie as God daarby betrokke is. En God spesialiseer daarin om gewone dinge te gebruik. Hy weet hoe om op ‘n wonderbaarlike wyse in die ontsaglikste behoeftes te voorsien, en Hy gebruik dikwels wat Hy reeds in ons hande geplaas het. Moenie wat God vir jou gegee het, onderskat nie. Dit kan juis dít wees wat Hy wil gebruik vir jou beswil, tot ander se voordeel en tot verheerliking van sy naam. 

Derdens het God ‘n onuitputlike voorraad waaruit ek kan put — meer as genoeg.

Wat aanvanklik nie naastenby genoeg was nie, het in sy hande meer as genoeg geraak. Jesus het “soveel as wat hulle wou hê” (Johannes 6:11) voorsien. As ons na Jesus toe kom en Hom toelaat om die bron te wees wat in ons behoeftes voorsien, ontdek ons dat in Hom aan elke begeerte voldoen kan word. Hy wil volgens sy wonderbaarlike rykdom in elke behoefte van ons ryklik voorsien. Wanneer ons smul aan sy Woord, wanneer ons deel het aan die ware Brood van die lewe, sal ons niks kortkom nie. 

Vierdens, by God word niks vermors nie.

Dit sou genoeg gewees het as Jesus met ‘n goeie maaltyd in die mense se behoeftes voorsien het. Hulle sou versadig weggegaan het. Maar na afloop van alles is niks vermors nie. “Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: ‘Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie’” (Johannes 6:12).

Jesus het seker gemaak dat die dissipels niks van sy voorsiening, nie eens sommige se klein stukkies oorskiet, laat agterbly nie. Hy het nie net vir hulle “vandag” voorsien nie, Hy het verseker dat daar nog vir hulle “môre” ook sou wees. In die daaropvolgende dae sou hulle onthou wat hulle Hom gesien doen het, en krag en openbaring put uit sy vermoë om in hulle behoeftes te voorsien.

Dit bring ons by ons laaste waarneming: Wanneer God in ons lewens beweeg, is dit ‘n onmiskenbare bewys van wie Hy is. Wanneer God in ons lewens werk, kan sy goedheid en getrouheid nie ontken word nie. Laat ons gou wees om Hom daarvoor te loof en te verheerlik (lees Johannes 6:14). Laat dit ons wees wat die kragtige werking van sy mag erken, ander van sy goedheid vertel en Hom loof vir alles wat Hy gedoen het.

Week 3 Uitdaging:

Ons tema vir hierdie week is om met vrymoedigheid te bid. Is daar iets in jou lewe wat vrymoedige gebed benodig? Hoe kan jy ‘n geloofstap neem en jou gebedsversoeke met vrymoedigheid na God te neem?

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse