God is altyd aan die werk

God is altyd aan die werk

Deur Jen / 26 September 2019 / Ester

Een van my gunsteling karaktertrekke van God is sy sorgsaamheid. Ek kan heeldag daaroor lees en praat, want as ek maar net om my kyk, besef ek gou hoe min beheer ek oor my lewe het. My gebrek aan wysheid laat my soms swak besluite neem, en dis ‘n feit, maar die waarheid dat my God nie net oor alle mag beskik nie, maar dit gebruik om alles tot sy eer en my beswil te orkestreer, het ‘n kalmerende en bevrydende uitwerking op my en gee vir my vrede.

Die sorgsaamheid van God is die voortdurende werksaamheid van die Skepper waardeur Hy in oorvloedige rykdom en welwillendheid sy skepsels in ‘n geordende bestaan onderhou en lei; alle gebeure, omstandighede en vrye dade van engele en mense beheer; en alles volgens hul bepaalde doel en tot sy eie glorie rig.
J.I. Packer

In ons studies hierdie week maak ons alreeds kennis met God se voorsiening wat begin met Koning Ahasveros se uitspattige onthaal.

Koning Ahasveros was ‘n baie trotse man. Hy was veral trots op sy koninkryk en het besluit om te wys presies hoe belangrik hy was. Hy het begin deur 180 dae lank sy rykdom ten toon te stel en toe afgesluit met ‘n week lange onthaal en ‘n ongelooflike oordadige ete.

Die skrywer wys daarop dat wyn vrylik gevloei het en dat almal soveel kon drink as wat hulle wou (vs. 7-8). In hierdie konteks het die koning besluit om ten slotte, sy koningin te vertoon. Sy weier egter om te kom. Ons word nie vertel waarom sy so blatant sy wense verontagsaam het nie. Die rede maak nie regtig saak nie. Die punt is dat sy verseg het om te kom en die koning is briesend (vs. 12).

Hy is so woedend oor haar hardnekkige weiering om sy opdrag te gehoorsaam dat sy haar posisie en titel as koningin ontneem is. ‘n Bevel word aan die hele land uitgevaardig dat vroue hul mans moet eerbiedig (vs. 20).

Dis moeilik om uit te maak of Vasti verkeerd was of nie. Party spekuleer dat sy naak sou moes paradeer, ander dink sy kon een of ander mismaaktheid gehad het; sommige meen dat sy haar nie wou blootstel aan die opmerkings en aangapery van honderde mans in verskillende grade van dronkenskap nie. Wat die rede ook al was, haar besluit is as disrespek beskou.

Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.Efesiërs 5:33

Efesiërs 5:33 sê dat vroue hul mans moet respekteer, maar wat beteken dit en in watter mate moet ‘n vrou haar man respekteer? Is dit disrespekvol om te weier om sy sondige raad en opdragte te volg? Natuurlik nie. ‘n Vrou wat weier om die sonde van haar man na te volg eer die Here en respekteer haar man deur hom minstens van potensieel meer sonde en moeilikheid weg te lei. Maar niks hiervan is ter sake in die teks nie.

Ester is ‘n historiese verhaal van God se diepe liefde en soewereine beskerming van sy volk. Die Jode sou hul in groot gevaar bevind maar nog voordat dit gebeur, is God alreeds aan die werk, besig om gebeure te orkestreer om mee te werk tot sy glorie en sy volk se veiligheid. Die feit dat Vasti die opdrag van die koning verontagsaam het, was deel van God se voorsorgplan om vir Ester plek te maak na die kroon.

Jy kan gerus wees dat wat ook al in jou lewe aan die gebeur is, God alreeds besig is om die stukkies saam te voeg.

Jy weet nie hoe jou verhaal gaan ontvou nie, maar wat ook al gebeur, God het ‘n plan en hiervan kan jy seker wees: dié wat hulle hoop in Christus alleen stel, sal in geloof deur God se Gees bewaar word, en eendag volkome van sonde en die dood verlos word, ‘n koninkryk en ‘n kroon beërf en hulle Verlosser tot in alle ewigheid van aangesig tot aangesig sien.

Moenie op swak oordeel die Here beoordeel nie,
Maar vertrou Hom vir sy genade;
Agter ‘n besorgde frons
Verberg Hy ‘n glimlaggende gelaat.

Sy planne sal gou ryp word,
En elke uur ontvou;
Die knop mag dalk bitter smaak,
Maar die blom sal soet wees.

William Cowper

Kyk na Jesus,

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse