Genade Sal Heers

Genade Sal Heers

Deur Brittany / 30 Oktober 2020 / Jesus, Ons Alles

Een van my geliefde vriendinne is ‘n ‘reël-volger’. Sy hou van reëls en grense en lysies, want dit help haar om presies te weet wat sy moet doen om te floreer. Ek, aan die ander kant, wel, kom ons sê maar ek was nog nooit goed met reëls nie. My persoonlikheid volg die kern agter die wet, maar ek wil gewoonlik elke letter van die wet verdraai. Tydens my grootword-jare, al het ek regtig hard probeer, het ek gevoel dat ek nooit heeltemal aan die reëls sou kon voldoen nie, en dat dit net daar was om my uit te vang sou ek buite die lyn trap.

Neem ‘n oomblik en stel jou voor hoe die ‘reël-volgers’ en die ‘reël-verbrekers’ in die Ou Testament gevoel het toe die wet aan God se volk gegee is. Ek wonder hoeveel sou met my kon identifiseer, en hoeveel sou met my ‘reël-volger’ vriendin kon identifiseer? Ek wonder wie het die kans aangegryp om hul lewens daarvolgens te meet, en wie het weggekwyn van vrees omdat hulle geweet het dat hulle nooit daaraan sou kon voldoen nie.

Die waarheid is dat ons albei reg is oor die wet. My vriendin wat die reëls volg, is reg dat wette, en spesifiek God se wet, heilig is en tot ons beswil en vooruitgang. En tog is ek ook reg om oorweldig te voel deur die realiteit dat ek nooit elke letter van die wet sal kan nakom nie – al probeer ek hoe hard! Hebreërs 10 vertel ons dat die wet, hoewel dit baie kragtig en goed is, nie die mag het om ons te red nie. Ons het dus iets, of iemand, nodig wat groter is as die wet.

Tot dusver het ons in Hebreërs geleer dat Jesus, ons groot Hoëpriester, beter is. Hy is beter as die engele (Hebreërs 1), groter as Moses (Hebreërs 3) en beter as Josua en Aäron (Hebreërs 4). Vir die oorspronklike lesers van Hebreërs het die skrywer daarop gewys dat Jesus beter is as enigiets wat hulle liefhet of eerbiedig. En nou, in Hebreërs 10, wil die skrywer hê dat hulle moet weet dat die wet – dit wat hulle meet en waarvolgens hulle lewe, hulle nie kan red nie.

Maar Jesus kan.

Omdat Jesus groter is as die wet.

Die wet is kragtig, maar Hebreërs 10 sê vir ons dat dit slegs ‘n skaduwee is van die weldade wat sal kom. Dit het die mag om ons na ‘n wêreld vol goedheid en orde te wys. Dit beskerm die weduwee, die wees, die bywoner. Die wet is ontwerp om geregtigheid en voorspoed vir alle mense te verseker. En tog, kyk rondom jou. Is dít wat jy sien in die wêreld waarin jy woon? Geensins! Die wet het slegs ‘n blik hiervan gegee, maar net Christus kan redding en verlossing vir die hele mensdom bied.

Romeine 5 sê, “Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

Ek hou van hoe Romeine 5 sê: “genade sal heerskappy voer.” As gevolg van Jesus se geregtigheid, as gevolg van sy offer aan die kruis, sal ons eendag in ‘n wêreld leef waar dit wat die wet slegs ‘n skaduwee van was, ons volle werklikheid sal wees. Omdat Jesus groter is as alle dinge, sal genade eendag heerskappy voer.

Openbaring 21 sê hierdie genade lyk soos ‘n wêreld sonder trane en hartseer. Daar sal geen dood en vernietiging wees nie. Geregtigheid, goedheid en vriendelikheid sal ons norm wees, en sonde en lyding sal daar nie meer wees nie.

Die slot van ons gedeelte vandag sê:

“Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak. Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: ‘Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.’ Dan sê Hy verder: ‘Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.’ Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.” – Hebreërs 10:14-18

En so vandag, dierbare vriendin, of jy die wet bemoedigend of verpletterend vind, onthou dit is nie ons reddende genade nie. Slegs Jesus Christus kan ‘n genade verskaf wat ons van ons sonde red. Net Hy kan ons heilig maak. Kyk na Hom, die Outeur en Voleinder van ons geloof, en Hy sal ons wys hoe om te lewe tot die dag wanneer Hy terugkom en genade sal heers.

Brittany

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse