Geloof-vervul en Getrou

Geloof-vervul en Getrou

Katie Shott

 

Het jy al ooit  ‘n verhaal of ‘n gedeelte in die Skrif gelees en dit moeilik gevind om daarmee te assosieer of dit verwarrend gevind? Of dalk is dit ‘n verslag van historiese gebeure en dit is vir jou moeilik om te sien wat jy daaruit kan leer, of hoe jy dit kan toepas in jou daaglikse lewe en geloofswandel?

Ek moet bely, soms is dit hoe ek voel oor gedeeltes in die Ou Testament wanneer ek ‘n lys name, getalle of besonderhede lees wat net relevant lyk vir die mense of kultuur van daardie tyd. Dan onthou ek die wyse woorde wat die apostel Paulus aan Timoteus geskryf het toe hy hom daaraan herinner het dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is vir elke gelowige—om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en om ‘n regte lewenswyse te kweek en toegerus te wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3 :16). Daar is ook die ongelooflike seën om meer van die karakter van God te leer soos Hy Homself deur sy Woord openbaar en ons na Jesus wys.

So, dit is met hierdie in gedagte dat ons vandag by ons gedeeltes in Nehemia en in die evangelie van Lukas, kom. Kom ons neem ‘n oomblik om God te vra, deur sy Gees, om te praat, om vir ons iets nuuts van Homself te wys, en om ons te leer hoe om te lewe in die lig van wat Hy vandag in sy Woord openbaar.

Nehemia se loopbaan was uiteenlopend! Sy CV sou interessant gelees het – van skinker vir die koning in ‘n Persiese koninklike hof, na die herbouer van die mure van Jerusalem, en toe goewerneur van die mense en gebied van Juda.

Ten spyte van al die verskillende werk wat hy gedoen het, situasies en uitdagings wat Nehemia in die gesig gestaar het, was die konstante deur sy hele lewe dat dit gekenmerk was deur die goddelike eienskappe van getrouheid, wysheid, vrygewigheid, integriteit, gehoorsaamheid, nederigheid en deernis.

Ons moet bemoedig word, want Nehemia is so ‘n inspirasie en voorbeeld vir ons. Ons sien hom, ongeag in watter plek hy hom bevind, in eerbied leef vir God, afhanklik van gebed, en met geloofsvervulde vertroue in die beloftes van God. Nehemia was besorg oor God se eer en het ‘n hart vir God se volk gehad, en dit is weerspieël in wat hy gesê en gedoen het.

Selfs terwyl hy in ballingskap geleef het, sou Nehemia uit die beloftes wat hy uit God se Woord geleer het, geweet het dat ballingskap nie die einde van die verhaal vir God se volk sou wees nie: die tempel sou herbou word, God sou sy verbond met Abraham vervul, en ‘n Messiaanse Koning sou kom om sy volk te red. En Nehemia het geweet dat God ‘n getroue, belofte-houdende God was.

Selfs wanneer sy huidige omstandighede nie aangedui het hoe of wanneer God dit alles sou uitwerk nie, het Nehemia hoop en geloof getoon omdat hy die Woord van God vertrou het, ‘n biddende afhanklikheid van God gehad het en geglo het in die voortdurende getrouheid van God aan sy mense.

Liewe vriendin, praat God dalk vandag met jou? Spoor Hy jou aan om vas te staan en sy beloftes te bly vertrou, selfs al kan jy nie sien hoe Hy vir jou alles ten goede en tot sy eer sal uitwerk nie?

Miskien moet jy vandag onthou dat jy, net soos Nehemia, ook deur God in ‘n prominente posisie geplaas is om gebruik te word om sy volk te lei, en jy het die verantwoordelikheid om wys, moedig, nederig en getrou te lei. Hou moed in die versekering dat God almal toerus wat Hy roep; sodat jy kan weet en kan staatmaak op die krag van sy Gees wat in jou en deur jou werk.

Of, dalk is dit die uitdaging van hoe Nehemia vrygewig was met alles wat God hom gegee het, en dit is ‘n aansporing vir ons eie harte om vrolik, met oop hande, die hulpbronne waarmee God ons geseën het, te deel, of dit nou geld, tyd of talent is.

Regdeur ons studie sien ons ‘n rekord van die getrouheid van God, en ons sien hoe Nehemia se lewe getrou geleef word in reaksie op die God wat Hy dien. Hoe goed en nodig is dit vir ons om goddelike rolmodelle te hê, soos Nehemia, om deur hulle geïnspireer te word en wat ons aanspoor om Jesus te volg. Ons kan steeds, met tye, moedeloos word deur die bewustheid en realiteit van ons eie swakhede en mislukkings, ons ontrouheid en die vertroue op onsself eerder as in afhanklikheid van God.

Dit is noodsaaklik dat ons ons harte bemoedig terwyl ons onthou dat getrouheid op die lys is van die vrug van die Gees waarvan die apostel Paulus ons in Galasiërs 5:22 vertel. Selfs al is die grond van ons harte soms hard, droog, vlak of klipperig, is die Heilige Gees daartoe verbind om sy vrug te kweek in die lewens van gelowiges wat smag om gehoorsaam te lewe en getransformeer te word om meer soos Jesus te wees. So, kom ons vra God om ons te help om getrou te wees. . .

Getrou aan sy Woord—in ‘n wêreld wat geen belangstelling het in die waarheid nie, of probeer om dit te verdraai.

Getrou aan sy Kerk – waar Hy ons ook al geplaas het om saam te aanbid, te dien en te groei.

Getrou aan die Een wat ons roep en verlos, herstel en onderhou—Hy het sy alles vir ons gegee.

Getrou aan alles wat God aan ons toevertrou het – groei in die genade van gee, getrou in baie of met min.

Getrou om die goedheid van die Goeie Nuus van Jesus te deel—in ons gesin, werkplek, skool of buurt.

En alles tot eer van God—groot is sy getrouheid aan ons.

Amen!

Week 3 Uitdaging:

 Nehemia is nie afgeskrik deur die pogings wat sy vyande aangewend het om sy aandag af te lei en hom te diskrediteer nie. Wat kan jy doen om gefokus te bly op die werk wat God jou gegee het? Neem hierdie week tyd om God se Woord oop te maak en Hom te vra vir spesifieke leiding. Om sy Woord te ken is die enigste manier hoe ons seker kan wees dat dít wat ons gevra word om te doen, van Hom is.

Week 3 Leesplan:

 

Week 3 Memoriseervers:

 

Katie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs