Gekenmerk deur Liefde
Grace Ann Hopkins
Ek is so dankbaar dat God Jesus na die aarde toe gestuur het om sy aangesig en sy hart aan ons te openbaar en ons van die straf van sonde te red. Hy is ‘n God wat so diep vir ons omgee dat Hy die lewe van sy Seun geoffer het om ons te red en vir ons te wys hoe diep Hy ons liefhet. Deur die openbaring van Christus in God se Woord, kan ons God intiem leer ken en vertroud raak met sy stem.
Toe die einde van Jesus se tyd op aarde aangebreek het, het Hy met groot mag en liefde aan almal wat in Hom glo opdrag gegee om van sy liefde te getuig en ander siele te lei om verlossing en doel in Hom te vind (Matteus 28:18-20). Hier sê Jesus vir ons direk wat ons doel is terwyl ons op hierdie aarde wandel, in afwagting op ons tuiste in die hemelse koninkryk; om ander lief te hê vir Hom. Wat ‘n pragtige roeping. Wat ‘n merkwaardige rede om te lewe en aan te hou lewe. Ongeag waar ons is of wat ons doen, die hele familie van God is gefokus op die ewigheidsroeping van Christus.
Ek dink graag aan die skoonheid van die kerk. Dit is die liggaam van gelowiges regoor die wêreld, wat deur die bloed van Christus aan mekaar verbind is. Dit maak nie saak waar ons vandaan kom of hoe ons lyk nie, as ons Christus aanvaar het, is ons deur God aangeneem en is broers en susters in Christus. Ons almal sien uit na die dag wat ons voor die Lam sal buig en tot in alle ewigheid van sy heerlikheid en majesteit sal sing.
Ongelukkig kan die kerk dikwels deur kulturele idees en selfsugtige begeertes besoedel word. Daar was al talle oomblikke wat ek die liefdesroeping uit die oog verloor het en wrokke teen my broers en susters in Christus gekoester het. Ek is aangemaan toe ek in Handelinge 2 gelees het dat gelowiges afgesonder vir God en heeltemel verenig en eensgesind moet wees. Ons moet anders as die wêreld lyk en die vrugte van die Gees dra. Ons moet mense van liefde en vrede wees, en dit is alleenlik moontlik as ons sonder ophou in pas met die Gees wandel en ons vleeslike begeertes neerlê (Galasiërs 5:16).
Jy sien, al hoe ons die ewigheidsdoel om mense na God se hartsbegeerte lief te hê kan vervul, is om, soos Jesus ons beveel, eers ons naastes lief te hê. Ons moet die liggaam heilig en rein hou, vry van twis. Ons moet die liggaam van Christus teen besoedeling en leuens van die samelewing en teen argumente wat ten doel het om verdeeldheid onder gelowiges te veroorsaak, beskerm Ons moet saamstaan op die grondliggende waarheid dat God sy Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het (1 Johannes 4:14). Sodoende word die familie van God deur liefde gekenmerk. Alhoewel die wêreld God nie kan sien nie, maak ons liefde onder mekaar sy karakter aan hulle bekend (1 Johannes 4:12).
In Johannes 17 bid Jesus tot sy Vader vir gelowiges oral – diegene wat Hom sal leer ken deur die getuienis van sy genade. In hierdie gebed sien ons dat Jesus dieselfde heerlikheid aan gelowiges gee wat God aan Hom gegee het sodat die kerk verenig kan wees. Hy praat talle kere van eenheid terwyl Hy vir ons bid en sê vir ons dat die wêreld God sal ken deur die manier waarop ons mekaar liefhet (Johannes 17:22-23). Jesus roep uit dat ons heeltemal en volkome een moet wees. Hy wil ons as ‘n verenigde liggaam gebruik om verlore siele te red, want God begeer dat niemand verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petrus 3:9).
Vriendin, jou Godgegewe doel is om God heelhartig met jou lewe lief te hê en om diegene wat Hy na sy eie beeld geskape het, lief te hê – gelowiges en ongelowiges. Jy bedien die hart van God eerstens deur jou liggaam as ‘n lewende offer aan Hom te wy – deur beheer van jou lewe aan Hom oor te gee en in gehoorsaamheid aan sy Gees te wandel (Romeine 12:1, Galasiërs 5:25). Dan bedien jy die hart van God deur diegene lief te hê wat deur Hom geskape is, want alles wat jy vir ander doen, doen jy vir Hom (Matteus 25:40). Jy kan die manier waarop die samelewing na God en die kerk kyk, transformeer deur in liefde te wandel en te leef soos wat die Verlosser van die wêreld, wat geklee in liefde gekom het, geleef het. In Christus word jy gekenmerk deur dít wat die mens se siel die meeste begeer; die kleed wat mense verenig wat in teenstand met mekaar is; iets met genesende krag bo ons begrip; ‘n kararktereienskap wat net van God self af verkry kan word. En dit is liefde. Leef daarin.