Ewige Verbond – Inleiding

Dwarsdeur die Ou Testament het God baie verbonde met sy volk gesluit. Hy het ‘n verbond met Noag gesluit waar Hy belowe dat Hy nooit weer die aarde sou vernietig deur vloedwaters nie. Hy het ‘n verbond met Abraham gesluit waar Hy belowe om aan hom afstammelinge, grond en ‘n toekomstige Messias te gee wat die wêreld van sonde sou red. Hy het ‘n verbond met Israel gesluit, hulle as sy uitverkore volk gekies en sy Wet aan hulle gegee. Hy het ‘n verbond met Dawid gesluit waarin Hy aan hom ‘n koninkryk belowe wat vir ewig sou bestaan. Alhoewel God sulke mooi beloftes aan sy volk gemaak het, het hulle van Hom afgewyk. As gevolg hiervan het God belowe om aan sy volk ‘n nuwe verbond te gee.

‘n Verbond is meer as ‘n belofte. Dit is ‘n plegtige eed wat tussen twee partye afgelê word. In die antieke Nabye Ooste sou diegene wat die eed neem, tussen die stukke geofferde diere deur loop. Hierdie gebruik was ‘n simboliese herinnering aan wat met iemand sou gebeur wat die bepalings van die verbond verbreek het.

Toe God in Genesis 15 ‘n verbond met Abraham gesluit het, het Hy alleen tussen die diere wat Abraham geoffer het, deurgegaan. God het alleen die verantwoordelikheid aanvaar om die verbond met Abraham na te kom. Hy doen dieselfde vir ons.

In Christus is ons onder ‘n nuwe verbond. Christus is gebreek vir ons sonde, Hy het die straf wat ons verdien het, op Hom geneem. Ons kan ‘n onvoorwaardelike verbond met God sluit weens die offer van Christus. Ons enigste moontlike reaksie is geloof.

Christus is die vervulling van al God se verbonde. Sy geboorte het ‘n nuwe era ingelei en ons ‘n nuwe manier gegee om ‘n verhouding met God te hê. Ons is nie langer gebonde aan die reëls en wette van die ou stelsel nie; ons het nou vryheid in Christus!

Jesus is die outeur en volmaker van die nuwe, ewige verbond. In Hom kom ons niks kort nie. Deur sy koms is ons vir ewig gevestig, en al die beloftes van God aan sy volk word in Christus vervul. Ons het die voorreg om aan hierdie kant van die geskiedenis te leef: ons wag nie meer op ons verlossing nie. Inteendeel, ons sien met groot verwagting uit na die dag waarop ons Messias sal terugkeer!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse