En Toe Het God Geskep

 

 

Dit was nie genoeg om vir die aarde lig te gee, die land uit te sprei en ons hemelruim met die son, maan en sterre te vul nie… God was nog nie klaar nie.

In vandag se gedeelte in Genesis het God sover:

Lig geskep en die duisternis verander op Dag 1.

Die lug en water geskei op Dag 2.

Droë grond en plante asook die oseane geskep op Dag 3.

Die son, maan en sterre geskep en hulle met ‘n bepaalde doel in die lug geplaas op Dag 4.

En nou kom ons by Dag 5.

Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.” God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed. Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.” Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag. – Genesis 1:20-23

Dis vir my wonderlik hoe God ons wêreld geskep het. Elke dag in sy skeppingsverhaal raak net al hoe beter. Ek probeer my voorstel dat ek die skeppingsverhaal vir die eerste keer lees en vra: “Ek wonder wat die volgende dag gaan gebeur. Ek wonder waaraan God volgende gaan dink!”

Op Dag 5 sien ons dat God dit wat Hy geskep het, planmatig vul. Nadat die lug en oseane geskep is, het Hy dit gevul. Dit was nie genoeg om net ‘n pragtige hemelruim te hê nie; God het ‘n stap verder gegaan en voëls geskep om ons lug te vul en daarmee net weer sy onuitputlike kreatiwiteit getoon. Dit was nie net een soort voël nie, daar was baie verskillende soorte. Dieselfde het met die seediere gebeur. Daar was nie net een soort vis of walvis of dolfyn nie maar allerhande verskillende soorte seediere. Ons kan van Dag 5 aflei dat God hou van verskeidenheid en behae skep in sy werk.

Vers 22 gebruik die woord “geseënd” en gelukkig is dit nie die laaste keer nie. God het nie net die pragtige voëls in die lug en die seediere gemaak nie, Hy het sy genoë oor hulle ‘n stap verder gevoer en hulle geseën. Hy wou nie hê sy skepping moet na die eerste geslag ophou nie; Hy wou hê hulle moes voortgaan. Hy wou hê dat hulle moes vermeerder en die ruimte wat Hy vir hulle geskep het, vul tot sy verheerliking omdat Hy geweet het wat net om die draai wag.

In Job 39:26-27 kry ons ‘n vlugtige kykie. Die skoonheid en handewerk van God wat deur die hele skepping vertoon word, blyk duidelik in die voëls en diere wat in ons hemelruim en waters aangetref word. Hulle getuig elkeen van God se wysheid. Dit is God wat wysheid aan sy skepping gegee het om in die uitvoering van sy opdrag te vermeerder en die aarde vol te maak. Dit is God se wysheid wat aan hulle die kennis gegee het hoe om te vlieg, migreer, en te oorleef. En deur sy wysheid word ons aangespoor en verwonder ons ons aan sy genialiteit.

God is goed en Hy skep groot behae in sy skeppingswerk. Dit is ook op jou van toepassing.

Volgende keer as jou geloof vir jou klein voel, kyk op hoe God elk van die voëls wat die hemelruim deel, gemaak het. Verwonder jou aan hulle skepping en hoeveel kreatiwiteit dit van God geverg het om ieder en elke voëlsoort te maak. Let op na die wysheid wat God aan hulle gegee het en onthou dat Hy ook aan jou wysheid geskenk het.

As jy sien hoeveel teerheid en sorgsaamheid God van die heel begin af vir sy skepsels openbaar, besef dat Hy net soveel en nog meer sorgsaamheid aan die dag gelê het toe Hy jou gemaak het.

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? – Matteus 6:26

 Ons verstaan miskien nie altyd God se plan nie, maar wanneer ons let op die pragtige details wat in die skeppingsverhaal opgenoem word, kan ons sien dat wat God skep, goed is en dat Hy Hom daaroor verheug.

Hê God Groots Lief!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse