Ek is vry

Ek is vry

Ek onthou nog die dag toe ek my bestuurstoets geslaag het (ek spog natuurlik met my kinders dat ek 100% gekry het en ek hou tot vandag toe nog steeds daarvan om parallel te parkeer)! Ek onthou ook toe ek die sleutels van my heel eerste motor gekry het. Beste dag ooit! Daar is iets oor vryheid wat so goed voel, nie waar nie? Ons smag daarna. Ons het dit van die begin af begeer.

Ek dink dis veilig om te sê dat die woord vryheid sinoniem geword het met die vermoë om ons eie besluite te neem, ons eie dinge te doen en ons eie paaie te volg. Ons word oorstroom met boodskappe soos “volg jou hart” en “my waarheid,” wat ‘n aanloklike evangelie is om te glo, maar tog ‘n gevaarlike pad om te volg. Ons harte sal ons nie red nie – ons moet van ons harte gered word. Die hart is bedriegliker as enigiets anders (Jeremia 17:9).

Die vryheid wat ons in Christus het, vervaag egter in vergelyking met die persoonlike vryhede wat ons op hierdie aarde so styf aan vashou. Daar is ‘n wêreldse verskil tussen tydelike vryheid  en ewige vryheid.

Ons grootste vyand, Satan, wil nie hê dat ons ten volle op hoogte moet wees van ons vryheid, die ware vryheid wat Jesus ons belowe het nie. Soveel so, dat hy ons voortdurend in ons ore beskuldig en blameer. Die vyand weet dat as hy ons gedagtes kan aflei en ons laat fokus op ons persoonlike vryheid teenoor ons vryheid in Christus, hy sy vastrapplek kan behou.

Ons is almal sondaars en ons sonde is daarop gemik om ons daagliks vas te vang, wat veroorsaak dat ons slegte keuses maak en dit uitvoer. Terwyl ons op “cruise control” leef, verloor ons sig op die eindpunt van ons pad, wat vernietigend is. Sonde vernietig ons lewens. Daar is geen vryheid in sonde nie, maar slawerny aan vernietiging. Dit is ‘n lelike siklus wat homself oor en oor sal herhaal, solank ons dit toelaat.

“Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.” -Johannes 8:36  

Ware vryheid is vir ons beskikbaar. Jesus is die vryheid waarna ons werklik streef.

Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Al die versoeking, seer en teleurstelling wat ons ervaar, het Jesus ook beleef. Hy weet hoe afknouery, verraad en verlating voel. Hy het geweet hoe belangrik dit is om na sy Vader te gaan met ‘n onrustige gees. Hy het geweet dat vryheid nie in sy gevoelens gevind word nie, maar in die waarheid. Dit is die waarheid wat ons vrymaak.

Vryheid in Chrstus is nie ‘n lisensie om te doen wat ons ook al wil nie. God het ons die vryheid gegee om te doen wat ons behoort te doen. Vryheid om nie deel te neem nie. Vryheid om te stry teen iets. Vryheid om weg te draai. Vryheid om God se wil vir ons lewens te kies, selfs in die lig van die swaartekrag van ons sonde. Vryheid op gebiede van ons lewens wat gyselaar gehou word van die sonde. Sy vryheid bevry ons om te wandel in wat Hy ons geroep en voorberei het om te doen.

Diegene wat op die Here vertrou en sy Woord styf vashou, sal vaar met vleuels soos die arende. Hulle sal inderdaad vry wees!

Vriende, ons het ‘n uitnodiging gekry om vry te lewe!

My gebed vir jou vandag is dat jy sy uitnodiging sal aanvaar en nie na vryheid sal kyk soos die wêreld dit definieer nie, maar soos Christus dit vir jou lewe bedoel het. God se planne vir jou is goed en sy liefde vir jou is nog groter. Jy kan Hom vertrou. Hy het sy enigste Seun gestuur om ‘n wrede dood te sterf sodat jy vry kan lewe.

Kom ons leef as vry mense!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse