Ek Is Gered

Ek Is Gered

In die somer van 2018 het ek daagliks die nuus dopgehou en gehoop op goeie nuus oor die Wild Boars, ‘n junior sokkerspan in Thailand. Ter viering van ‘n verjaarsdag het hulle saam met hulle jong afrigter in ‘n reeks grotte ingegaan en is toe deur stygende water vasgekeer.

Na ‘n soektog van nege dae, toe hoop begin kwyn het, het duikers al dertien spanlede lewend opgespoor! Dit was egter net die begin. Die reddingspan moes uitpluis hoe hulle die seuns uit die grotte gaan kry terwyl hulle taak deur die stygende reënwater bemoeilik is. Daarby was die grotte plek-plek so nou dat dit selfs vir ervare duikers moeilik was. Toe die reën vir ‘n rukkie opgehou het, is die twaalf seuns en hulle afrigter tussen 15 en 17 dae nadat hulle in die grotte gegaan het, almal met welslae gered. Dit was werklik ongelooflik en mense dwarsoor die wêreld was verheug.

In die Bybel lees ons van die wêreld se grootste reddingsplan van alle tye: God se wonderbaarlike redding van ons.  Ons was nie in ‘n grot vasgekeer nie, maar ons was vasgevang – in die verslawende mag van duisternis en sonde. God se groot liefde vir ons het Hom egter gemotiveer om ons redding te beplan, asook ‘n manier om ons skuld te delg en ons vry te maak. Sy reddingsplan het Hom duur gekos deurdat Hy sy enigste Seun gegee het. Jesus het volmaak geleef, maar gesterf om ons sondeskuld te betaal en weer glorieryk opgestaan en die dood verslaan. Ons word alleenlik deur geloof in Christus gered.

Net soos die seuns nie hulleself uit die grotte kon red nie, kan ons ook nie onsself van ons sonde red nie. Ons moet elkeen self erken dat ons nodig het om gered te word. Ons dink graag dat ons onafhanklike mense is wat ons eie gemors kan uitsorteer. Dit kan moeilik wees om ons behoefte aan redding te erken.

Stel jou voor sommige van die vasgekeerde seuns in die grot sou vir hulle redders sê: “Ek wil nie gered word nie. Ek sal wag tot ek myself kan red!” Ons sou dink hulle is dwaas. Tog verwerp baie van ons God se reddingsaanbod, en dink ons hoef nie gered te word nie of ons sal onsself red.

Selfs as Christene kan ons in die versoeking kom om ons sonde te probeer toesmeer of reg te stel, in plaas daarvan om dit nederig teenoor God te bely. Dit bly voortdurend ‘n deel van die Christelike lewe. Net soos ons Christelike reis begin deur God se genade, gaan dit ook voort daarin.

Jesus sê in Markus 2:17,  “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” In die Evangelies sien ons hoe Jesus, die God wat vlees geword het, in plaas van afkeer oor ons sondigheid, liefdevolle deernis het. Hy reik uit na sondaars, genees hulle, leer hulle, eet saam met hulle, huil oor hulle, en herstel hulle. Dit kom voor asof diegene wat geweet het hulle is sondaars, na Jesus toe aangetrek is. Ons moet ook! Ons hele Christelike lewe deur moet ons onthou dat ons sondaars is wat verlossing nodig het en na Christus, wat ons liefhet, uitroep.

Ons word gered van skeiding van God en die mag van die duisternis. Dit is egter nie al nie! Ons word gered na die koninkryk van die Seun, in wie ons vrygemaak en vergewe word! Ons word gered van die ewige skeiding van God wat ons verdien; in plaas daarvan kry ons die ewige lewe saam met Hom! Die enormiteit van hierdie verplasing is vir my moeilik om te begryp.

Hierdie redding verander ons daaglikse lewe! Ons het die Heilige Gees ontvang om ons ‘n lewe te help lei wat die Here waardig is, Hom plesier, vrug dra, ons kennis van Hom laat toeneem, en ons bekragtig om geduld, standvastigheid en vreugdevolle dankbaarheid te toon vir alles wat die Vader gedoen het! Ons is nog nie in staat om so volmaak te lewe nie, maar Jesus se hart is sagmoedig en nederig teenoor ons. Hy bly ons vergewe en bemoedig, en gee ons gemoedsrus (lees Matteus 11:28-30).

Die seuns en hulle families in Thailand was met dankbaarheid teenoor hulle redders vervul. Hulle het almal hulle gevaarlike situasie begryp. Hoeveel meer behoort ons teenoor God dankbaar te wees dat Hy ons gered het, verlos het en aan ons die ewige lewe geskenk het?


Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op ‘n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.

Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê,

‘n loflied vir ons God.

Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,

hulle sal op die Here vertrou! (Psalm 40:1-3)

Week 2 Uitdaging:

Ons is lewend gemaak in Christus! Op watter manier het God jou lewend gemaak? Dink na oor die maniere waarop God jou lewe geestelik, verstandelik, emosioneel, fisies en in terme van verhoudings herstel het.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse