Een Saamgeneem, Een Agtergelaat

Een Saamgeneem, Een Agtergelaat

Ebos Aifuobhokhan

Ons leef in ‘n wêreld waar ‘n mens nie na boosheid hoef te gaan soek nie. Dit is oral, en as ons nie oppas nie, kan ons deur alles mislei word. Ons moet waaksaam en wakker wees om ons pad deur die lewe te navigeer en rein te bly terwyl ons wag op die wederkoms van Jesus. Ongeag wat die wêreld, sosiale media of mense sê, dit staan vas dat Jesus binnekort kom.

Vriendinne, laat ons nie mislei word deur die glans van hierdie wêreld nie. Dit is van korte duur. Die Skrif sê vir ons dat die Woord van God en die siele van mense al is wat gaan standhou. Vandag se Skrifgedeelte gee vir ons ‘n perfekte voorbeeld van ons tyd. Mense sal met verskillende aktiwiteite besig wees maar ons, as kinders van God, word vandag herinner aan hierdie groot waarheid: Jesus kom!

Ons moet ons verlossing uitwerk deur te vertrou op die Heilige Gees, die Woord van God, en ‘n gemeenskap van gelowiges wat ons kan aanspoor en opbou. Wanneer ons aan die Heilige Gees gehoorsaam is, waarsku Hy ons om ons te help om ons foute reg te stel. As ons die Woord van God lees en bestudeer soos hier by Love God Greatly, herinner dit ons daagliks aan wat God van ons verlang. Soos ons lees, word ons na die beeld van Jesus verander. Ons word herinner hoe ons moet leef terwyl ons op sy wederkoms wag, en ons is deeglik bewus van die feit dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie en dat Hy enige oomblik kan kom.  

Liewe vriendin, niemand kan dit namens jou doen nie. Dit moet ‘n doelbewuste aksie van jou kant af wees. Ons gaan almal voor God verskyn om rekenskap te gee van ons lewens. Pa kan nie vir ma of broer vir suster of vriend vir vriend instaan nie. Ek is baie lief vir jou, maar ek kan nie namens jou voor God gaan staan nie. Selfs al kan ons God se Woord gesamentlik bestudeer en mekaar opbou, moet ek en jy individueel wakker en waaksaam op die wederkoms van die Here bly wag. Ons weet nie presies wanneer dit gaan gebeur nie, en daarom het Hy sy Heilige Gees en sy Woord vir ons gegee om ons in alle waarheid te lei terwyl ons wag.

My pa is in Mei 2020 oorlede. Ons was baie geheg aan mekaar. Ons het ‘n pragtige en benydenswaardige pa-dogter-verhouding gehad. Ek was sonder twyfel my pa se oogappel. Toe hy oorlede is kon ek nie anders as om te dink nie, “Pappa, jy moes nog ‘n bietjie gewag het, jy moes nie gegaan het nie. Jy weet mos ek sou platgeslaan en stukkend wees as jy weggaan. Jy moes my nie alleen gelos het nie.” My pa het my met sy hele wese liefgehad, en hy het baie vir sy twee kinders opgeoffer. Hy was eenkeer bereid om sy lewe vir ons s’n te verruil toe ons deur oorlog geraak is. Ondanks dit alles kon hy nie namens ons voor God gaan staan nie. Jesus het hom kom haal en Hy gaan binnekort vir my en jou kom haal.

Ek wil jou aanmoedig om voor te berei en gereed te wees want Hy kom binnekort. Ons weet nie wanneer nie, maar Hy kom en ek wil nie hê dat jy die een is wat agterbly soos die mense wat in vandag se verse beskryf word nie. Ek wil jou by die voete van die Here sien. Ek wil hê jy moet jouself in die hemel aan my kom voorstel en sê: “Ek het jou blogplasings gelees!” en ek wil jou met uitbundige vreugde omhels en bly wees dat jy daar uitgekom het. Jesus kom gou!

Ek bid dat jy gereed is.

Ek is lief vir jou.

Uit Nigerië,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse