Een Jaar…

Een Jaar…

Deur Angela / 4 Oktober 2019 / Ester

“In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is met die Pur, dit is met die lot, in die teenwoordigheid van Haman beslis om ‘n geskikte datum te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die twaalfde maand…” Ester 3:7

Een jaar…het jy dit raakgesien?

Die Jode het een jaar gehad om voor te berei vir hul dood. Die dag vir die Jode se uitwissing, soos bepaal deur Haman, sou oor ‘n jaar plaasvind. Kan jy jouself indink om te hoor dat ‘n jaar van vandag, sal alle Christene in ons land – van die jongste tot die oudste, mans, vrouens en kinders – almal doodgemaak word? Ek sidder om te dink hoe dit moes gevoel het om vir ‘n volle jaar lank te leef met daardie dreigement wat oor hulle koppe gehang het? Die spanning, die angs… die vrees.

Die oomblik toe die datum bepaal is, het Haman Koning Ahasveros genader met sy bose plan. Let op hoe geslepe en slinks Haman was toe hy vir Koning Ahasveros vertel het van hierdie “volk” in vers agt.

Ons sien eerstens dat Haman die Jode ontpersoonlik deur nie hulle naam te noem nie; inteendeel, hy verwys na hulle as ‘n “volk.” Ons het hierdie selfde taktiek gesien in die Nazi konsentrasiekampe tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe Hitler nommers getatoeër het op die Joodse gevangenes se arms en opsetlik hulle name weggeneem het. Nommers is anoniem, vaag en wek nie emosies op nie… maar name doen dit, “Mordegai die Jood.” Name is persoonlik, spesifiek en herkenbaar.

Haman gaan voort om te beskryf hoe die Jode “versprei is oor al die provinsies” van Koning Ahasveros se koninkryk…‘n koninkryk wat Israel ingesluit het.

Hulle gebruike “verskil van al die ander nasies s’n.” Met ander woorde, hulle pas nie in nie. Niks kon verder van die waarheid gewees het nie. Die Jode het amper té goed in die Persiese kultuur saamgesmelt. Koning Ahasveros het nie eers besef dat sy koningin Joods was nie.

“Hulle gehoorsaam nie u wette nie”… was dit nie Mordegai, ‘n Jood, wat Koning Ahasveros beskerm het teen ‘n sluipmoordaanval deur sy eie persoonlike wagte nie?

Dit is nie in die koning se “belang om hulle te laat begaan nie.” Met ander woorde, dit was nie in Haman se belang om hulle te laat begaan nie. Onthou, Haman was ‘n Agagiet, ‘n afstammeling van Koning Agag van die Amalakiete, wat eeu-oue vyande van die Jode was (Eksodus 17:16, 1 Samuel 15:20 & Deuteronomeum25:17-19). Haat het ‘n geskiedenis en word voortgedra van generasie tot generasie. Niemand word bevooroordeeld gebore nie; ons leer dit en dra dit dan oor na die volgende generasie.

Ten slotte sien ons dat Haman selfs die ekstra bonus ingooi dat hy sal help betaal vir hierdie bose daad (vers 9). En waar dink julle beplan Haman om hierdie geld te kry om te betaal vir die manne wat hierdie bevel sal uitvoer? Natuurlik van die Jode! Haman het beplan om die huise en besighede van alle Jode wat doodgemaak sou word te plunder, en ek is seker hy sou van daardie geld vir homself gevat het, en dan die Koning gelok met die res.

Let op: selfs al was Haman iemand wat die halwe waarheid gepraat het, ‘n misleier en uiteindelik ‘n volslae leuenaar, was hy nie ‘n onnosele man nie. Deur die geslepe en slim gebruik van sy woorde, was Haman in staat om Koning Ahasveros te oortuig om sy verskriklike plan in werking te stel.

Maar onthou – wat Satan beplan vir kwaad, doen God daarmee die goeie.

Alhoewel hierdie bevel ondenkbaar boos was, het God dit gebruik om sy kinders te verenig. Ongeag van wat Haman gesê het, het die Jode miskien té goed in die Persiese kultuur saamgesmelt. Miskien, net miskien het God toegelaat dat hierdie gebeur sodat sy kinders sou onthou wie hulle is, hoe Hy hulle gered het van bose dinge in die verlede deur hulle afhanklikheid van Hom, sodat hulle weer na Hom toe kan terugkeer.

Ek glo dat ons almal, op een of ander tyd, “Hamans” in ons lewens het. Mense wat vir ons leuens vertel, ons haat as gevolg van waarvoor ons staan, mans of vrouens wat bevooroordeeld is vir een of ander rede en wat selfs somtyds “bevele” uitdink om ons skade aan te doen. Maar skep moed, my liewe vriendinne! Alhoewel ons in hierdie lewe dit moeilik gaan hê, herinner Jesus ons in Johannes 16:33 dat Hy die wêreld klaar oorwin het!

Ek dink dit is tyd vir God se kinders om weereens te verenig, sterk op sy Woord te staan en ons harte uit te bid vir ‘n wêreld wat Hom nie ken nie. Ons kan Hom in die moeilike tye in geloof vertrou, wetende dat Hy aan die werk is.

Ons lewens is baie soos Ester s’n. Ons sien God nie, maar ons weet dat Hy met ons is en dat Hy in en deur al die verskillende gebeurtenisse in ons lewens werk. Niks is toeval nie.

Liewe vriendin, ek weet nie watter “Hamans” daar op hierdie oomblik in jou lewe is nie, maar ek weet dit: God kan groei uit jou pyn bring. Hoewel jy mag voel of jy nie raakgesien word nie, sien Hy jou reg waar jy is. Wanneer dit voel of jou “vyand” die oppermag het, plaas jou vertroue in God en besef dat die dag wat beplan is vir jou vernietiging, mag werklik die dag van jou bevryding wees. Druk deur, volhard en kyk vir sy vingerafdrukke in jou lewe!

Kom ons Gesels!  Deel met ons wat God vir jou leer deur hierdie week se verse.

Hê God Groots Lief!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse