Een in Christus

Een in Christus

Julie McIlhatton

Wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons gewoonlik kerk toe waar ons ook al kuier. Ek hou daarvan om op verskillende plekke met God se mense kennis te maak want dit help my om meer met die globale kerk in voeling te kom.

Een van my vroegste ervarings om met gelowiges van regoor die wêreld in aanraking te kom, was toe ek 20 jaar oud was. Ek het ‘n maand lank saam met ‘n sendingorganisasie na Oos-Europa getoer en die Here het wonderbaarlik alles wat ek nodig gehad het, voorsien. In my jeugdige opgewondenheid het ek ingeskryf sonder om te weet hoe ek sou kon bekostig om te gaan!

Voor ons vertrek saam met ons spanne regoor Oos-Europa, het ons in ‘n skool in Estland bymekaargekom vir opleiding. Daar was mense van alle uithoeke van die wêreld af, en ons almal was so verskillend. Ek is seker die mense van die dorp waar ons gebly het moes gewonder het toe hulle na ons kyk: “Wie is hierdie mense? Wat bind hulle saam?” Ons het net een ding gemeen gehad: Jesus Christus.

Die laaste aand voor ons vertrek het om God te dien, het ons bymekaargekom vir ‘n tyd van gebed en lofprysing. Ek onthou nog daardie warm somersaand. Na die tyd is ons buitentoe en, in plaas van uitmekaar te gaan, het ons in ‘n kring bymekaar ingehaak en onbegeleid gesange en ander liedere gesing. Ons almal het God saam aanbid. Dit was soos ‘n voorsmakie van die hemel waar mense van elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van God vergader het. (Openbaring 7:9–10).

 ***

Die eerste deel van vandag se leesstuk handel oor die wet. Dit is die wet wat God vir Moses gegee het toe Hy die Israeliete as ‘n nasie opgerig het. Die wet is nie deur Jesus ongeldig gemaak nie; Hy het gekom om dit te vervul (Matteus 5:17–18; Lukas 24:44–7). Die wet dui steeds op ons onvermoë om te leef soos God bedoel het. Dit sê vir ons hoe nodig ons ‘n Verlosser het.

Daar is net een Verlosser—Jesus. Geloof in Christus verklaar dat ons deur geloof aangeneem is. Ons is gekies om aan God se familie te behoort. Ons word as seuns beskryf, maar moenie daaroor afgehaal voel nie. In Paulus se kultuur kon net seuns erfgename wees, en gewoonlik het die oudste seun alles geërf! Deur Christus word ons as seuns beskryf want ons erfenis is veilig. Ons gaan die ewigheid saam met die Vader, Seun, Heilige Gees en al sy mense deurbring.

God voorsien vir ons toekoms en ook ons hede. Ons is met Christus beklee. Jesus maak ons waardig. Deur Hom kan ons God se teenwoordigheid binnegaan.

Daarom, as ons as God se mense bymekaarkom, is ons een in Christus. Wanneer ons bid, uit God se Woord leer, opgebou word, brood breek, mekaar bemoedig en uitdaag—is ons een in Christus. Ons almal is onwaardige sondaars, uitverkies en gered deur die wonderlike genade van God.

Christene is op so ‘n wyse aan mekaar verbind dat dinge soos ras, inkomste en geslag ons nie van mekaar kan skei nie, want wat die belangrikste is, bind ons aan mekaar. Ons is een liggaam in Christus.

Ongelukkig is dit nie altyd hoe ons kerk beleef nie. Paulus het aan die verdeelde kerk in Galasië geskryf waar sommige gesê het die Grieke moet Jode word om ware Christene te wees! Paulus reageer sterk daarop. Wat saak maak, is geloof in Christus en om aan Hom te behoort.

Wat Paulus in hierdie verse sê, is dat ons een is, ongeag ons etnisiteit, inkomste of geslag. Ons is gelyke erfgename van al God se beloftes deur geloof in Jesus. Ons is in die eerste plek kinders van God. Ons is een in Christus, en word dieselfde deur Hom behandel. Ons is ‘n heilige volk, verstrooid onder die nasies, om ‘n lig te wees wat ander roep om Hom te volg.

Dis vir my verstommend om te dink dat julle hierdie blog in verskillende lande en stede, miskien selfs in ‘n ander taal (dankie, vertalers!) kan lees. God het ons almal in verskillende kontekste geplaas. Hoewel ek jou nog nooit ontmoet het nie, het ons een ding gemeen: Jesus Christus. Daarom, my suster in die Here, is ons een.

“En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” – Romeine 15:5-7

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse