Dis Nooit Te Laat vir Genesing nie

Dis Nooit Te Laat vir Genesing nie

Grace Ann Hopkins

Was jy al ooit so lank in ‘n situasie dat dit vir jou gevoel het daar is geen uitweg nie? Dat jy al te ver heen is? Dat jy ‘n hopelose saak is, deur God misgekyk en deur ander oor die hoof gesien word? In Johannes 5 is daar ‘n verhaal van ‘n man wat nie kon loop nie. Hy was vir 38 jaar verlam. Ons weet nie wat hy elke dag gedoen het, of hoe hy so lank oorleef het nie, maar ons weet wel dat 38 jaar ‘n baie lang tyd is. Ons kan ons ook indink hoe hy moes gevoel het: onsigbaar, onopgemerk, eintlik onbenullig, want ander het altyd voor hom in die bad gekom.

Eendag het hierdie man op een van die paadjies by die bad van Betesda gelê. ‘n Menigte ander mense met verskillende gestremdhede het ook daar rondgelê. Skielik het Jesus, God in die vlees, die man genader en hom gevra of hy gesond wou word. Natuurlik wou hy gesond word, maar die verlamde het sy hopelose situasie aan hierdie onbekende man beskryf. Tot op daardie tydstip, na sy wete, was daar geen kans dat hy genees kon word nie. Die ding is, Jesus was reeds deeglik bewus van sy situasie want Hy is God, die Een wat hom geskape en liefgehad het. Jesus het dadelik die verlamde man ferm beveel om op te staan, sy mat op te tel en te loop. Oombliklik kon die man wat vir 38 lang en moeilike jare verlam was, heeltemal en vrylik loop.

Een oomblik met Jesus het alles verander.

Nadat hierdie wonderwerk gebeur het, het Jesus ‘n sterk stelling teenoor die mense gemaak en gesê dat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sou hê en nie meer veroordeel sou word nie. Vriendin, stel jou voor jy is die man wat vir 38 jaar verlam was en ‘n oomblik saam met Jesus verander alles vir jou. Jesus genees jou nie net liggaamlik nie en spreek jou dringende behoefte wat jou alledaagse lewe en welstand beïnvloed, aan nie; Hy bied ook genesing wat enige fisiese toestand oortref—‘n versekering dat jou siel deur in Hom te glo, vir ewig kan leef.

Ek is seker jy het jou eie verhaal van hoe jy geestelik, fisiek, op verhoudingsgebied, of emosioneel deur die vyand onderdruk is. Dit gaan dalk al langer aan as wat jy wou hê, en die pyn het jou op die grond lamgelê met geen vooruitsig om op te staan nie. Miskien het jy al die punt bereik waar daar nie meer hoop is nie en jy besef jy het ‘n Verlosser dringend nodig.

Op die ou end is ons almal as gevolg van sonde by hierdie punt. Romeine 3:23 sê dat ons almal gesondig het, en Romeine 6:23 sê dat die dood die straf vir sonde is. Dit sê egter ook dat God deur sy Seun, Jesus, vir ons die genadegawe van die ewige lewe gegee het.

Vriendin, ek wil hê jy moet weet dat, net soos Jesus dié man in die skare by daardie bad genader het, en reeds bewus was van sy verhaal en sy behoefte, Hy nie vir jou in die menigte miskyk nie. Hy sien jou raak en ken jou situasie baie goed. Terwyl jy hierdie woorde lees, stap Hy na jou toe agter jou aan. Hy bied die ewige lewe en ‘n belofte dat daar eendag niks meer pyn gaan wees nie, aan jou. Laat my toe om jou vir die eerste keer te vertel of jou weer eens te herinner wat Jesus gedoen het om dit waar te maak: Hy het aan die kruis vir jou gesterf en vir jou sonde betaal. Hy is toe opgewek om nou en vir ewig vir jou nuwe lewe te gee. Hierdie lewe kan nou begin, soos jy leer om tree vir tree met Jesus as jou Verlosser te wandel.  

Johannes 10:10 sê dat die duiwel net jou lewe wil verwoes, maar Jesus het ingegryp om jou te red, te transformeer en te vergewe en jou te wys hoe ware liefde lyk. Romeine 10:9 sê as jy net met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.  

Daarom, vriendin, mag jy weet dat dit nooit te laat is vir genesing nie. Jy is nie te ver heen nie, want God was nog altyd elke tree van jou reis saam met jou (lees Psalm 139:7-10). Ek bid dat jy vandag ‘n geestelike ontwaking of ‘n nuwe ontmoeting met Jesus sal hê, want Hy het die mag om jou lewe binne ‘n sekonde te verander.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse