Die Woorde van Christus

Ek is gaande oor Maria se lied van reinheid en vreugde aan die HERE nadat sy uitgevind het sy is gekies om die langverwagte Messias te dra. Dit is gevul met kragtige waarhede van God se genade en mag, geopenbaar slegs deur die Gees van God. Dit wys ons die houding van ons harte wat God verwag: nederigheid, sagmoedigheid en ‘n honger en dors na die geregtigheid. Ek hou spesifiek van die manier waarop Maria haar lied afsluit en God se hulp, genade en getrouheid verklaar om sy belofte na te kom.

Dit is veral gepas om hierdie gedeelte te lees terwyl ons ons voorberei om die koms van Jesus Christus te vier. Soos wat ons lees, word die diepte en skoonheid van die karakter van God vir ons duidelik. Dit verwys ons uiteindelik na ons Verlosser, Jesus Christus, wat die vervulling is van elke woord wat geskryf is. Jesus Christus is ons hulp en ons genade. Hy is God se belofte wat vervul is.

Die Woorde van Belofte

Hierdie gedeelte van Maria se lied verwys terug na Genesis 15. Dit is hier waar God aan Abram ‘n erfgenaam belowe, al kan hy en sy vrou nie kinders hê nie. God belowe nie net vir Abram ‘n kind nie, maar Hy neem dit nog ‘n stap verder deur die belofte van ‘n nageslag so talryk soos die sterre. Dit was ‘n belofte wat menslik onmoontlik gelyk het, maar Abram het besluit om sy geloof in God te plaas. Die heel eerste woorde van die Nuwe Testament (Matteus 1) sê vir ons dat God wel sy belofte gehou het deur ‘n seun aan Abraham te gee. Trouens, Hy het vir hom DIE Seun van God gegee. Die waarheid is dat God nie sy beloftes vergeet nie. Om die waarheid te sê, Hy vervul hulle nie net volmaak nie, maar verlustig Hom daarin om sondaars te gebruik om sy wonderbaarlike goedheid en genade ten toon te stel.

Die Blywende Woord van God

Ek verwonder my oor die Woord van die HERE, want dit is volmaak. Daar is geen fout daarin nie. Van begin tot einde vertel dit die verhaal van Jesus, die Seun van God, ons Verlosser. Ek hou daarvan om oor hierdie gedeeltes te mediteer, omdat ek so ‘n sterk verband tussen hulle waarneem. Die hoogtepunt in hierdie gedeeltes is in die woorde van Christus, wat die vervulling is van al die beloftes van God.

Die Vervulde Woord van God

Ek word oorweldig met emosie terwyl ek vorentoe, deur die Bybel, beweeg na Matteus 26. Dit is vir my wonderlik wanneer Jesus Christus praat! Sy woorde hou krag, gesag, ryklike deernis en diepe liefde in. Sy woorde in hierdie gedeelte is diep en gevul met liefde. Dit is egter steeds moeilik om die werklikheid te verstaan en te begryp –  die werklikheid dat Jesus sy lewe as losprys vir myne gegee het. Jesus was die laaste offer. Daar hoef nie meer ‘n bok, ‘n ram, ‘n duif of ‘n lam op die altaar geoffer te word, sodat ons in vrede met God kan bly en leef nie. Jesus, die Lam van God, het gewillig sy bloed vir die hele wêreld uitgestort om vergifnis en nuutheid te verklaar oor enigiemand wat in Hom glo. Hy is die vervulling van die verbond van God.

Die Nastrewende Woord van God

Elke keer as Christus praat, hoor ek ‘n verhaal van belofte – elke verhaal vervul in Hom. Elke keer as Christus praat, herken ek ‘n God wat voluit gegaan het om sy liefde vir my te bely. Elke keer as Christus praat, besef ek dat ek nooit vergeet sal word nie. Die woorde van Christus is ‘n bewys van dié God wat aan my dink.

Hy is dié God wat Maria geken het en hy is die God wat ek ken. Ken jy hierdie God? Ken jy Hom intiem, persoonlik, ryklik en diep? Hy is die God wat jou geskape het. Hy is die God wat voor die begin van tyd reeds geweet het dat Hy ‘n manier sou skep om jou te red van jou sonde wat jou van Hom geskei het. Hy is die God wat sy enigste Seun gestuur het om jou plek in te neem en die hoogste prys te betaal. Hy is die God wat vir altyd by jou wil wees.

Mag ons vroue wees wat glo dat die HERE sy beloftes aan ons vervul (Luk 1:45). Mag ons dit doen deur vas te hou aan die woorde van Christus, want sy woorde vertel die verhaal van die God wat ons onthou.

Grace Ann

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs