Die Vreugde van die Here

Die Vreugde van die Here

Kelli Trontel

Maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.” – Lukas 1:13 -17

Wanneer jou tydlyn nie ooreenstem met God s’n nie, wanneer jy weer aan die slaap raak op jou natgehuilde kussing, wanneer nog ‘n teleurstelling jou onkant vang, wat dan?

Sal ons, terwyl ons wag, besig wees om ons te bekommer of om te aanbid?

Sal ons lewens die beloftes van God se Woord weerspieël?

Na wat vir my na ‘n buitengewone lang seisoen van beproewing in my lewe gevoel het, het ek soms huiwerig gevoel om weer hoopvol te raak. Huiwerig om te glo dat die lewe ooit weer minder traumaties en so mooi kan wees as voorheen. Huiwerig om myself te laat glo dat waardeur ek is, nie my en my kinders vir die res van ons lewens sou skaad nie. Hoe dit ook al sy, weet ek met my hele hart die Here is goed en getrou en oppermagtig oor alles. As ek egter doodeerlik met jou moet wees, was ek al by tye onseker of ek dit kon waag om weer te droom dat die lewe mooi kan en sal wees.

Plaas jouself in Sagaria se skoene. Dit is duidelik dat sy gebede by die hemel uitgekom het want Gabriël, die engel wat voor hom verskyn het, het dit vir hom gesê. Ons weet dat hy vir iets goed gebid het: hy wou ‘n kind hê. Maar nou was hy al ‘n ou man sonder ‘n kind van sy eie en het hy begin glo dat daardie seisoen van die lewe lankal nie meer vir hom beskore was nie. Trouens, hy het selfs die engel wat reg voor sy oë verskyn het, bevraagteken. 

Wat daarna gebeur het, is nie net vir my verbysterend nie, maar dit gee my hoop.

Nie net is Sagaria meegedeel dat sy vrou, Elisabet, aan ‘n seun geboorte gaan skenk nie, maar dat die seun ‘n wegbereider vir Christus sou wees! ‘n Seun wat die wêreld as Johannes die Doper sou ken.

Nie rêrig iets belangrik nie, nè!

Ek hou ook daarvan dat die engel vreugde en blydskap genoem het. Ek kan my net indink hoe teleurgesteld Sagaria en Elisabet moes gevoel het namate hulle oudag al nader kom, sonder die kind waarvoor hulle gebid het. Die blote vermelding van vreugde en blydskap laat my egter dink dat die Here ons trane sien en planne het om ons blydskap te herstel.  

Die Here is bekend daarvoor dat Hy vir sy kinders voorsien. Ons sien dit deurgeweef van Genesis tot by Openbaring. Hy het dit tóé gedoen en Hy doen dit nog steeds. Hy gee ons nie net die broodnodigste nie, maar ‘n oorvloed van goedheid, getrouheid en liefde. Hy verlos en Hy herstel, op Sy eie tyd.

In die afgelope tien jaar het ek meer verlies, hartseer en teleurstelling as ooit vantevore in my lewe ervaar. Dood en egskeiding het my amper ondergekry, maar hoop het my laat aanhou en uithou. Van nature het ek ‘n halfvol-glas-uitkyk op die lewe, maar ek het nie op my eie stoom of deur my optimistiese benadering op die lewe tot hier gekom nie. Die vyand sou my graag wou laat glo dat dit net my positiwiteit is, maar ek sou myself bluf om dit te glo.

Jesus is ons krag en ons hoop.

Dit verg meer as wilskrag om deur herhaalde smart, verlies en teleurstellings te kom. Ons opdrag is om vir krag te vra. ‘n Buitengewone krag wat ons styf aan hoop laat vasklou. Selfs Jesus het op pad na die kruis vir krag gevra. As Jesus die Vader vir krag gevra het, hoe kan ons dan ooit dink dat ons gaan regkom sonder om dit vir onsself te vra?

Terwyl ons wag, is Hy aan die werk.

Terwyl ons wag, kan ons aanbid.

Die blydskap van die Here is ons krag.

Mag ons terwyl ons wag hierdie waarheid in ons harte bewaar: ‘n uitgestelde antwoord is nie ‘n onverhoorde gebed nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse